Jy het ondersteuning gesoek toe jy in ’n krisis was, maar niemand was beskikbaar toe jy hulle nodig gehad het nie. Party het selfs kwetsende aanmerkings gemaak. ’n Mens raak teleurgesteld in medegelowiges.
Ons vra JOHAN SMIT
Wanopvattings oor mense kan teleurstellings veroorsaak
Dit maak nie saak in watter dilemma jy verkeer nie, mense speel ’n rol daarin. As jy skielik siek word, is dit mense wat jou moet help. As jy by ’n dierbare se graf staan, is dit mense wat rondom jou staan.
Wat ook al gebeur, hulle is daar – om te troos of te veroordeel of hulle rug vir jou te draai. Aan die einde van elke krisiservaring sal jy ’n verslag oor mense kan skryf.
Wat verwag ons van hulle? Om te luister. Om beskikbaar te wees; raad te gee; saam te huil; saam te bid. Om fisiese hulp te verleen of sommer net vas te hou.
Wat wil ons in ’n noodsituasie nié hê nie? Teregwysings; voorskrifte; verwyte; veroordelings; om alles oor te neem; beterweterigheid; prekerigheid.
’n Mens leer in ’n krisis hoe onbeholpe ander kan wees. En jy kry skaam as jy onthou hoe onbeholpe jy self in soortgelyke situasies in die verlede was. Maar jy ontdek ook die behoefte wat jy het aan die nabyheid van ander.
Almal het ’n behoefte aan iemand wat luister en jou kan help om jou eie taal te verstaan. Iemand wat daar is om jou te help praat.
Hoewel jy nie 100% met iemand anders kan identifiseer nie, kan jy tog baie na aan daardie persoon kom. In so ’n mate dat hy of sy ten spyte van die verset en opstand sal voel dat jy daar hoort. Dat jy ’n staanplek daar by haar verdien.
Wat die seerste maak, is iemand wat jou vertroue skend
Dit gaan oor meer as net om mekaar as gelowiges te ondersteun. Dit gaan oor daardie spesiale verhoudings wat uit ’n probleemsituasie kan ontstaan.
Daar is soms mense wat jy opnuut of vir die eerste keer ontdek as opregte vertrouelinge. Hulle word die steunpilare wat help om die situasie te hanteer.
In die verhaal van Dawid en Jonatan sien ons integriteit en die soort vriendskap waarvan enigiemand kan droom. Dit is hierdie vertrouensverhouding wat baiekeer uit ’n krisis te voorskyn kom.
Om iemand te vertrou beteken dat jy jouself aan daardie persoon verbind. Jy maak jou hart vir haar oop. Jy is gemaklik met haar en openhartig teenoor haar. Sy het toegang tot jou dieper menswees verkry.
Mense het jou miskien teleurgestel toe jy hulle die nodigste gehad het. Maar was daar dalk een persoon wat wel ’n steunpilaar was? Onthou om waardering te wys en wanneer dit weer beter gaan, en haar vriendskap en opoffering te erken. Sê maar weer ’n keer dankie!
Die grootste en skokkendste seerkry is wanneer vertroue geskend word, wanneer iemand haar rug op jou draai. En tog, het jy nie ook al in die verlede vriendinne wat seergekry het, teleurgestel nie? Is jý altyd bereid om op te offer?
Dis maklik om jou gewete te probeer sus met ’n “laat weet as ek kan help”. Maar jy weet hoe niksseggend dit is!
Dit gaan heel eerste oor jou verhouding met God
Ons slaag enige geloofstoets as ons deur die donkerste dieptes getrou kan bly. En die vreugde daarvan om Hom régtig te leer ken is die moeite (en die pyn!) werd.
Geloof is ’n kopwoord sowel as ’n hartwoord. Dis ’n doelbewuste keuse vir Jesus, maar dis ook ’n hartlike verbintenis met Hom. Geloof floreer in so ’n lewende verhouding tussen julle.
Soos wat jy volhard, word jy ryper en geestelik meer volwasse. Die grootste beloning van seerkry is die verdieping van ’n mens se verhouding met God. En jou empatie met ander mense wat ook aan swaarkry blootgestel is.
Hierdie gevoel word deur die partye gedeel. Dit kom uit die gemeenskap van twee harte wat mekaar verstaan en by mekaar kan heel word.
Dis eers as ’n mens na ’n lang tyd terugkyk dat dit duidelik word hoe alles verander het – stadig en ongemerk. Uiteindelik beur jy soos ’n skoenlapper uit die kokon van pyn, sprei jou vlerke en gee kleur aan die lewe rondom jou.
Dit is die wonder van die hele proses: dat jy deur pyn sterk genoeg geword het om vir ander hoop te kan bring.
Daar is ’n vreugde wat nie noodwendig met ’n uitbundige lagbui of selfs met ’n glimlag gepaardgaan nie. ’n Soort vreugde met trane in die oë. Ons kan dit “die glimlag van die siel” noem.
Dit gaan dus nie oor die vreugde van pyn nie, maar die vreugde ten spyte van pyn. Die vreugde wat juis deur pyn geskep word.
Besef wat jou behoefte is en vra dan daarvoor!
Soos Job se vriende is die meeste van ons ook maar slegte troosters. Ons skram weg van mense wat seer het, want ons weet nie wat om te doen en te sê nie.
Natuurlik is ons opreg jammer en wil graag meegevoel wys en help. Maar dis moeilik, want ons het te min insig en kennis.
Soms kry ons die indruk dat mense se medelye nie regtig uit hulle harte kom nie. Dit is niks anders as gewoonte-woorde nie, iets wat agter die rug moet kom. Ons vind egter aanklank by persone wat regtig verstaan.
Daar is ’n Arabiese beskrywing van ’n vriend as een teenoor wie jy die inhoud van jou hart kan uitstort; die koring én die kaf. Want jy weet ’n sagte hand sal dit sif en behou wat waardevol is en liefdevol die res wegblaas.
Gaan soek so ’n vertroueling met wie jy openhartig kan gesels. Die praat is al terapie, die persoon hoef nie oor alles saam te stem nie.
Moenie bevestiging vir jou gedagtes soek nie, maar soek eerder ’n klankbord. Dit gebeur baiekeer dat iemand, wanneer sy haarself hoor sê wat sy gedink het, skielik van gedagte verander.
Dit sal ook goed wees om professionele hulp te kry. Daar is baie kundiges wat kan luister en kan help om jou gedagtes te orden.
Iemand wat onbetrokke is by jou persoonlike krisis, kan objektiewe leiding gee wat goud werd sal wees.
Wees jý die vriendin wat jy self nodig het
Jy het eerstehands ervaar dat die bystand en omgee van ander broodnodig is in ’n probleemsituasie. Pas dit nou self toe.
Onthou, iemand met seer het die gevoel dat God ver is. Jy kan deur jou liefde Hom weer naby bring.
Die eerste stap is om kontak te maak. Ja, jy is bang jy gaan huil; bang dat jy die verkeerde dinge gaan sê of niks kan sê nie. Dit maak nie saak nie. Al wat sy sal onthou, is dat jy daar was. Moenie bel en sê: “As jy my nodig kry, laat weet maar net” nie. Wie sal tog nou bel en vra dat jy die skottelgoed moet kom was?
Dink watter praktiese behoeftes daar sal wees wanneer jy in ’n krisis beland, en vra dan of jy nie so kan help nie.
Dis nie nodig om die probleme op te los nie. Moet dus nie probeer om met vroom trooswoorde of teksverse iets te verander nie. Sê liewer te min as te veel.
Steek jou hande uit. Gee ’n drukkie. Wees daar. As die oomblik reg is, kan julle selfs saam bid.
Luister na God se stem. Dalk wil Hy net eers Sy hande om die hartseer persoon se skouers vou en haar ’n drukkie gee. Wees jy daardie hande.
Dalk wil Hy saam met haar huil oor die verskriklike lyding wat in die wêreld is. Laat die trane dan oor jóú wange rol.
En as Hy deur jou wil praat, laat dit sag en duidelik en gerusstellend wees.