Katinka Oosthuizen is meer as net ’n aanlyn persoonlikheid, sy is ’n storieverteller by uitstek! Katinka die Kat gesels oor die krag van introverte en hoe sy outentiek en emosioneel gesond bly.
Jy was maar 19 toe jy aan Survivor Suid-Afrika deelgeneem het – die jongste deelnemer nog. Wat het jou die meeste uitgedaag?
Ek het nie verwag om in te kom nie en dit was ’n groot skok.
Ek was naïef en het gedink ons sou dalk ekstra kos kry en nie regtig op die strand slaap nie. Toe ek daar aankom, het die realiteit my getref.
Die grootste uitdaging was om op ’n eiland te wees, geïsoleer en omring deur onbekende mense wat ek nie kon vertrou nie.
Dit het geestelik baie van my gevra, aangesien ek met baie innerlike gedagtes moes worstel sonder om werklik op ander te vertrou.
Die gebrek aan kos was die moeilikste. Ek is mal oor kos en sukkel om lank sonder dit te wees. Dit was ’n groot aanpassing.
Hoewel ek van rys hou, was dit moeilik om dit voortdurend te eet. Tog moes ek dankbaar wees vir die bietjie kos wat beskikbaar was.
Hierdie ervaring het my leer watter uitdagings die deelnemers werklik in die gesig staar en het my sterker gemaak.
Hoe kry jy dit reg om ’n sosialemediaprofiel te skep wat uitstaan, en terselfdertyd steeds outentiek te bly aan wie jy is?
Ek het op sosiale media begin toe ek in graad 10 was, op 16, en nooit gedink dit sal ’n inkomste genereer nie.
Ek het dus toe oë daarin ingestap, want ek hou daarvan om snaakse video’s te maak en mense te vermaak. Aanvanklik was dit net vir vriende en familie.
Ná Survivor het dit ’n voltydse werk geword. Jou profiel se groei is moeilik om te beheer. Dit is belangrik om jouself te wees en nie te steur aan ander se opinies nie.
Om uit te staan op sosiale media, neem ’n stap terug en vra wie jy is en wat jy wil deel. Skep ’n profiel wat eg is en moenie aan ander dink nie. Mense gee nie werklik om nie, ons dink net só.
Trolle sal altyd daar wees, maar dis hul probleem. Dit is gewoonlik mense sonder ’n profiel. Staan uit, voel gemaklik, en onthou: dis nie vir almal nie, en dis ook reg. En, geniet dit net.
Wat het jy by jou ma, Maria, die bekende kunstenaar, geleer wat bygedra het tot jou sukses as besigheidsvrou en entrepreneur?
Ek onthou as kind was my ma altyd ’n haarkapper in die garage. Sy het gewys dat jy moet opstaan, jou ding doen en volg wat jou gelukkig maak.
In 2008 het ons Mosselbaai toe getrek, en my ma het begin verf. My ouma was ook kunstig, so ek dink dis iets in die familie.
My ma se skilderye is pragtig en dra ’n boodskap. Ons het in ’n kreatiewe huis grootgeword en ons ouers het ons aangemoedig om ons kreatiwiteit te volg.
Ek dink daar is ’n verskil om kreatief te wees en ’n besigheidsbrein te hê. Ek kom uit ’n familie met ’n eie besigheid – ’n suksesvolle galery in Mosselbaai.
My ma verf steeds en is my heldin. Sy het ons familie in moeilike tye ondersteun en gewys wat dit beteken om ’n suksesvolle besigheid te hê. Dit gaan oor outentiek wees en met klante gesels sodat hulle weet wie jy is.
My ma is my steunpilaar en grootste fan, en die sukses wat ek behaal het, kom danksy my ouers, veral my ma.
Jy vang bruide se mooiste oomblikke op kamera vas. Wat, na jou mening, maak ’n troue werklik onvergeetlik?
Ek het begin troues afneem toe ek in graad 11 was. My eerste troue was verniet.
Ek het my pa se kamera gebruik, waarmee hy sy kuns afgeneem het. Sy het gevra of ek haar troue kon afneem en ek het dadelik ja gesê.
Ek het baie van redigering gehou, al was ek onervare met troues. Ek het nie geweet wat om te verwag nie, maar ek het dit geniet.
Dit was in 2015, so ek is al amper tien jaar in die troubedryf. Ek is mal oor troues; ek sien soveel verskillende mense en elkeen se liefdesverhaal is uniek.
Ek sou sê wat ’n troue onvergeetlik maak, is as jy dit op jou manier vier. Moenie reëls volg nie; troues hoef nie dieselfde te wees nie, en jy hoef nie te dra wat almal dra nie. As julle enigsins uniek is, inkorporeer dit in julle troue.
Mense speel ’n groot rol; maak seker dat die gaste wat jy nooi mense is wat die geleentheid spesiaal maak en weet hoe om ’n goeie tyd te hê.
Wat sou jy sê is introverte se “geheime wapen” vir die lewe om suksesvol te leef?
Wanneer ek sê ek is ’n introvert, is mense verbaas. Ek is dalk nie ’n tipiese introvert nie, want ek gesels maklik, maar ek het tye nodig om alleen te wees.
Dit is wanneer ek tuis is, in die bed lê, en series kyk, dat ek my energie herwin. Hierdie alleen-tyd laat my ook kreatief voel.
My geheime wapen is om jou grense te ken, te herlaai soos nodig, en dan die lewe tegemoet te gaan. In my werk moet ek dikwels met mense omgaan, so dit is belangrik om sosiaal vaardig te wees, voortdurend te gesels, en vrae te stel.
Ken jouself en jou waardes; dit keer dat jou energie deur verkeerde mense gedreineer word. As jy weet wie jy is en waarvoor jy staan, skep jy ruimte vir goeie gesprekke wat jou nie uitput nie.