Wat doen jy as die passie tussen julle verflou? As die hoop en beloftes van jou huwelik net ’n vae herinnering word? Jy maak dit reg!
Voel julle deesdae soos vreemdelinge vir mekaar? Ontspan, daar ís ’n oplossing. Jy het net die volgende nodig: ’n bietjie introspeksie, baie eerlikheid en ’n pen en papier.
Begin heel voor, by die begin
Oor die jare het ons almal dinge gedoen wat ons nie moes nie. Klein dingetjies, soos om te sê jy het minder vir ’n artikel betaal as wat jy het. Daardie wit leuentjie is mos onskadelik? Dis tog nie die einde van die wêreld nie. Of is dit?
Die waarheid is dat as hierdie dinge opbou en ophoop, dit ’n baie negatiewe effek op ’n verhouding kan hê.
’n Verhouding is ’n ooreenkoms
In ’n werksituasie kom jy ooreen om betyds te wees, jou werk deeglik te doen en produktief te wees. In ’n verhouding is dit om seksueel getrou te wees, en om eerlik en ondersteunend te wees.
Wanneer ons hierdie ongeskrewe reëls oortree, weet ons dat ons skuldig is! Diep in jou hart weet jy dat jy oortree het. En natuurlik, hoe erger die oortreding, hoe onwilliger is jy om dit vir jou man te vertel. Jy bly stil daaroor en steek dit weg.
Ja, jy is reg, dis jou skuld!
Jy weet baie goed jy het eintlik iets verkeerds gedoen, maar jy wil dit nie erken nie. Dis menslik. So, wat doen jy? Jy soek ’n sondebok en regverdig jouself: “Ek het ’n verhouding omdat my man nie meer aandag aan my gee nie.”
Wanneer ’n verhouding begin wankel, is dit omdat daar te veel oortredings teen jou man is. Jy het teen die morele ooreenkoms opgetree, dit laat ophoop en nou wil jy vlug!
Waar begin jy om dit reg te maak?
Jy sal nie glo hoe maklik die oplossing is nie! Skryf dit neer. Daar sal ’n paar dinge gebeur, sommer dadelik: Jy gaan vir jouself die lug suiwer. Jy sal beter verstaan hoekom jy voel soos jy voel. Dit sal jou ’n nuwe perspektief gee oor hoe die ander persoon voel. En die beste van alles? Jy sal ’n enorme verligting ervaar.
Onthou, hierdie kwessies lê jou lam.
Deur met die waarheid vorendag te kom, kan jy ’n groot klip van jou skouers afrol en weer nuwe lewe in julle verhouding blaas.
Trek ’n pen en papier of jou rekenaar nader
Skryf die oortreding neer: “Ek was ontrou aan my man.” Wees dan baie spesifiek en skryf die tyd, plek, die gebeure en hoe alles inmekaar pas presies neer: “Ek het drie jaar gelede, toe ek en Dawid reeds getroud was, ’n verhouding gehad. Ek het hom nooit daarvan vertel nie. Een oggend het ek ’n ou vriend raakgeloop en ’n drankie saam met hom gaan drink. Ek het vir Dawid gesê ek gaan laat wees omdat ek ’n krisis by die kantoor het. Dit was die begin van ’n jaarlange verhouding.”
Om die besonderhede van die gebeurtenis neer te skryf, gee jou die volle prentjie van wat gebeur het. Die verligting wat jy voel as jy so van jou oortredings “ontslae” raak, is wonderlik. Jy sal weer deel van die verhouding kan voel. Jy sal jou selfrespek terugkry, asook die vertroue en vriendskap van jou man.