Dis nogal ’n opskrif wat jou laat dink. Is dit moontlik? Is ek dalk te besig vir God? Wel, kom ons vra ’n vragie of twee om dit vas te stel.
Doen moeite om alleentyd te spandeer met die Here
Spandeer ek nog alleentyd met Hom? Nie ’n skietgebedjie-indie-kar-op-pad-iewers-heen nie, maar gereelde, gefokusde stilstaantyd met my Bybel en die deur toe?
Vra ek nog Sy opinie voordat ek besluite maak?
Wag ek op ’n antwoord as ek Sy opinie vra?
Is daar ’n gemaklike intimiteit tussen ons, daardie veilige sekuriteit wat kom van mekaar-werklik-goed-ken-en-daarom-vertrou?
Die ding wat Christenskap anders as alle ander gelowe maak, is ons verhouding met die Here, en geen verhouding oreer ooit sonder kwaliteittyd saam nie. Jy weet self as jy in die huwelik staan, hoe maklik dit is om nooit werklik tyd met mekaar te spandeer nie … en die gevolge daarvan? As jy weer sien, het julle uitmekaar gegroei … Maar dit begin nooit onmiddellik nie, dit gebeur geleidelik.
Hoekom is ons dan verbaas as ons apatiese verhouding met die Here nêrens kom nie? As Hy “vervelig” raak, as Hy “my nie hoor nie” … Bly julle dalk in dieselfde huis, maar julle is eintlik van tafel en bed geskei?
Wat as julle interaksie soos werk of ’n onderhoud is. Jy’t ’n inspirerende skriffie nodig of inhoud vir ’n praatjie, maar die wonder en die misterie in Sy Woord is al lankal vir jou verlore.
Ek lees op Twitter dat ’n vrou nooit moet ophou flirt met haar man nie. Wel, ek dink dis dieselfde in jou liefdesverhouding met die Here. Geestes-flirt is tydrowend: Dit vat dat jy hom loop SOEK. Sy aandag soek. Sy hart steel.
Sy Woord sê as jy Hom soek met jou hele hart, sal jy Hom vind en daar is vir seker niks halfhartig aan daardie soektog nie.
Prioritiseer jou verhouding met God in besige tye
Om die Here met jou hele hart te soek vat al jou tyd. Want as jy Hom sou soek met jou hele hart, sal jy dit by die werk doen.
Jy sal Sy hart raak deur van Hom te spog, iemand te dien in Sy naam, iets te gee, iemand bo jou te bevorder. Jy sal bid vir deurbrake en Hom eer wanneer hulle kom. Jy sal huis toe gaan en Hom daar soek. Jy sal Sy naam heilig deur jou vrou te help blom, deur jou man te ondersteun en te eer.
Jy sal heerlik met jou kinders in die kar op pad skool toe oor vandag se skriffie gesels, vir hulle wys hoe Sy hart klop. Jy sal kerk toe gaan en vir iemand bid sonder dat hulle weet. Jy sal gewilliglik dien waar ookal hulle jou nodig het, alles om met die Here te flirt! Sy hart te vermurwe op die sportveld, om die braaivleisvuur … waar ookal!
Dié dinge vat nie ekstra tyd nie! Dit neem AL jou tyd in beslag. Dis nie iets wat afgehandel word op ons to-do-lysie nie. Dis ’n liefdesverhouding wat alles deurspek. En die beloning? ’n Oop deur na die hart van die Koning van die Heelal, jou Hemelse Geliefde.
So nee, dit gaan nie noodwendig oor “te besig wees vir God nie” … dit gaan oor hoe en hoekom jy besig is waarmee jy besig is. As jy wat ookal in afhanklikheid doen om Sy hart te raak, word Hy die Prins van jou prioriteitslysie.