’n Mens word onthou vir wat jy doen en hoe jy mense laat voel. Só het TV–aanbieder TRACEY LANGE se pa geglo. Hoe kan jý uireik na ander?
Stel belang in mense en help waar jy kan
Ons soek soms ver in die wêreld na mense wat ons kan inspireer om goed vir ander te wees.
’n Hand wat uitreik deur ’n geldelike skenking, kos op die tafel of wat help om ander se laste te dra.
My pa het só geïnspireer, sonder baie geld.
My ouers was nooit ryk nie en veral my pa se familie het dit nie breed gehad nie. Hy moes ná graad 9 skool verlaat om die pot aan die kook te hou, aangesien hy die oudste van 13 kinders was.
Ongeag daarvan en jare se harde werk en moeilike omstandighede, was hy ’n plesier om mee saam te leef. Ons vergeet partykeer dat almal hulle eie dinge het waarmee hulle worstel. So glimlag, ons sal nooit weet wat dit vir ander beteken nie.
God was altyd eerste in my pa se lewe, maar hy het geweet hoe om ’n gebalanseerde lewe te lei. Om goddelik te wees, beteken nie dat ons nie kan leef of onsself kan geniet nie.
’n Glimlag en ’n grap op sy tyd kan net so verrykend soos ’n Bybelvers wees. My pa het die waarde van albei geken en dit toegepas.
Ná sy afsterwe het ons besef presies hoe hy ander geleer het om die silwerrandjie te sien. Net meer as 1 300 mense het sy begrafnis bygewoon.
My pa het altyd in ander belanggestel en gehelp net waar hy kon. Hy het ’n sagte plekkie vir kinders en ’n nog sagter plek vir bejaardes gehad. Hy wou altyd hê bejaardes moes aktief in die gemeenskap wees.
Hy het ’n senior koor vir al die bejaardes van die Nuwe Apostoliese Kerk-gemeentes in Somerset-Wes begin. Hulle het gereeld konserte gehou.
Hy het nie net die beplanning van die program behartig nie, maar was ook die koorleier. Hy het al die reëlings vir die kooroefeninge getref. Teen dié tyd was my pa reeds in sy diep 60’s.
Daar is baie maniere om uit te reik
Moenie toelaat dat ouderdom in jou pad staan nie. Begin iets al is dit hoe klein en druk deur. Ander sal geleidelik jou voorbeeld begin volg, maar jy moet die voorbeeld stel.
Nuwe ouers het my pa ten volle met hulle kinders vertrou. Een jong ma het ’n paar keer per week haar jongste seun van drie jaar oud na my pa gebring, sodat hulle saam-saam die duiwe kon voer.
My pa het ook aangebied om in die lang rye by die verkeersafdeling te staan, indien sy nie as gevolg van werk daarby sou uitkom nie.
Daar is baie maniere om die wêreld mooier te maak. Tyd is een van ons kosbaarste kommoditeite, skenk dit!
Kinders soek nie baie nie. Wys hulle hoe die kleinste en lekkerste speletjies werk wat niks met ’n foon of iPad uit te waai het nie.
Glimlag vir kinders en laat hulle só in die goedheid van die wêreld glo.
Hou wag oor kinders, selfs al is hulle nie joune nie. Kom ons almal beskerm mekaar se kinders.
Raak betrokke by jou gemeenskap. My pa het ’n buurtwaggroep begin en só die middeljariges en jeug bymekaargebring.
Help waar jy kan, al is dit selfs om net eenmaal per week in te loer by iemand wat nie self by ’n winkel kan uitkom nie. Bied aan om hulle inkopies te doen of selfs met hulle hond te gaan stap.
My pa was nie perfek nie, maar hy was perfek in die liefde wat hy gegee het.