Jennifer Myburgh is ’n talentvolle vrou. As aanbieder op Die GROOT Ontbyt en die eienaar van ’n dramaskool, spits sy haar daarop toe om waar sy is positiewe verandering en hoop te bring.
Jy wou toe jy jonger was die president word. Wat sal jy eerste verander of aanspreek?
Toe ek klein was, wou ek altyd president wees. Ek dink al van kleins af het ek ’n passie vir leierskap gehad. Later het ek van politiek en internasionale betrekkinge begin hou.
As ek president was, sou ek iets doen wat met kinders te make het. Ek het baie respek vir onderwysers, veral dié in afgeleë areas. Wanneer ons deur die land toer, sien ons skole met net ’n paar klaskamers of baie kinders in een klas.
Onderwysers moet soveel doen met so min. Hulle is die ware helde. Onderwys is iets waaroor ek passievol is, veral kinders wat kilometers ver moet stap skool toe – oor riviere, deur gevaarlike gebiede.
Ek sou seker maak kinders nie so ver hoef te stap nie, nie onder bome skool te gaan nie, nie puttoilette hoef te gebruik nie. Dit maak my kwaad dat kinders steeds puttoilette moet gebruik.
Ek sou ook kinderhuise aanpak. Dit breek my hart as iemand sê: “Dis die kind se plan B.” Geen kind het gekies om in slegte omstandighede groot te word nie.
Hoe help ons kinders om geliefd te voel en hul potensiaal te bereik? Ek dink elke persoon kan ten minste een ander persoon raaksien. Kinders wat geliefd is, word grootmense wat ander raaksien en liefde gee.
Wat het jy onlangs aangepak om jouself uit te daag?
Die aard van my werk maak dat ons elke dag iets nuuts doen. Ek glo as jy stagneer, hou jy op groei.
Ek kan radio as voorbeeld gebruik. Ek het drama geswot en ’n dosent gehad wat my stem gekritiseer het. Ek het begin glo my stem is nie goed genoeg nie.
As vryskut-aktrise het jy soms nie werk nie. Ek het aan radiostasies e-posse gestuur om te vra of hulle stemwerk nodig het.
Groot FM het teruggekom, ek het opleiding ontvang en drie maande later het ek by hulle aangesluit.
As ek terugkyk, was dit die mees konstante werk wat ek al gedoen het – iets wat ek nooit gedink het ek sou doen nie.
My skoonsus sê altyd: “Wat is die ergste wat kan gebeur? Jy kan ’n ‘nee’ kry.”
Ek glo ’n mens moet konstant dinge probeer en buite die boks dink. Dit bring ’n ander kant van jouself uit wat jy nie geweet het bestaan nie.
Waar het jy God se leiding die duidelikste in jou loopbaan gevoel?
Ek dink nie daar is een spesifieke plek nie – dis konstant, en ek is dankbaar vir daardie leiding. In ons beroep hoor jy soveel negatiwiteit.
As aktrise kry jy soveel nee’s voordat jy een ja kry. Jy begin glo die nee beteken jy is nie goed genoeg nie, maar eintlik beteken dit net jy is nie reg vir daardie rol nie.
As aanbieder kry ons gereeld terugvoer soos: “Jy lag te hard”, of “jy is irriterend”. Mense maak aannames oor jou asof hulle jou ken. Sulke kommentaar maak seer, veral as jy deur ’n moeilike tyd gaan.
Dis hoekom dit vir my belangrik geword het om te besef: my anker, my identiteit, is in Jesus Christus. Sy opinie is die enigste wat saak maak. Hy het my perfek geskape vir hierdie tyd, met die gawes wat Hy wou hê ek moes hê.
Niks van my werk gaan oor my nie – dit gaan oor hoe ek Jesus se Naam groot kan maak. Alles wat ek het, kom van Hom af.
Ek is dankbaar vir mense wat Hy oor my pad gestuur het wat konstant bid. Dis belangrik dat mense onthou: Jou identiteit is in Jesus Christus, nie in die wêreld of mense se opinies nie.
Wat was die kragtigste oomblik waar jy hoop gegee het?
Ek is van nature meer optimisties. Ek glo jy kies om dankbaar te wees. Al gaan ek deur moeilike tye, probeer ek opstaan en besef: Die feit dat ek wakker geword het, is iets om voor dankbaar te wees.
Ons mis die klein goed waarvoor ons dankbaar kan wees. Dis hoekom ek graag hoop bring en sê: Daar ís iets wonderlik in jou lewe, al voel dit nie altyd só nie.
Ons kry gereeld boodskappe van mense wat sê: “Ek het daardie vers of lied nodig gehad.” Maar dit gaan nie oor my nie – ek is net die draer daarvan.
Ek dink nie aan een spesifieke oomblik nie. Ek hoop dit is deurlopende oomblikke – ’n konstante stroom waar hoop gebring word.
Vertel van jou ervaring met geslagsgebaseerde geweld en hoe jy herstel het
In my geval was dit ’n bekruiper toe ek op radio gewerk het. Hy het geluister en was oortuig ek saai vir hóm uit. Hy het geglo ons gaan saam ’n boek skryf, of dat God my aan hom “gestuur” het.
Hy het obsessief geraak. Daar was tye wat hy by my werk opgedaag het. Ek het boodskappe gekry soos: “Moenie bekommerd wees as jy in Egipte wakker word nie.” Aanvanklik het dit onwerklik gevoel.
My emosies het gewissel – partykeer belaglik, ander kere regtig bang. Dis iemand wat ek nie ken nie, maar hy weet dinge van my. Ek het sekuriteitsmaatskappye se nommers op my foon gehad.
Ek moes ’n beskermingsbevel kry – ‘n vreemde proses in Suid-Afrika. Min wetgewing handel spesifiek oor bekruipers. Die hele sekuriteitsproses het ’n jaar aangehou.
Ek onthou toe iemand op die trappe by die radio opkom en “hallo, Jennifer” sê – ek het histeries begin huil. Dit was toe ek besef het hoe diep die trauma lê.
Dit het baie gebed gevat, en ek moes leer praat daaroor. Praat is belangrik. Geslagsgebaseerde geweld is nooit jou skuld nie. Wanneer jy praat, skep jy ruimte waar ander ook veilig voel om te praat.
Wat was die mees onverwagte daad van vriendelikheid wat jy al ervaar het?
‘n Paar jaar gelede het ek in ’n bank in die ry gestaan. Die man voor my het uit die ry gestap en na ’n bejaarde oom gegaan. Hy het vir die oom gesê dat hy sy plek sal inneem, en die oom kan voor gaan staan.
Ek het gesê: “Dis okay, jy kan voor my bly staan.” Hy het geantwoord: “Dis nie die punt nie – ek wil die oom se plek vat.”
Dit het my aangegryp. So ’n klein gebaar – om jou plek op te gee sodat iemand anders gehelp kan word. Dit het ’n groot verskil in daardie oom se dag gemaak en so ’n impak op my gehad dat ek dit met my familie gedeel het.
Dis die klein dinge wat saak maak – ’n vriendelike woord, ‘n groet. Daardie klein dade kan ’n reuseverskil maak.
Foto’s is vir jou meer werd as duur edelstene. Watter foto op jou foon is jou gunsteling?
Elke foto op my foon is spesiaal – veral dié van my broers en suster. Ons is sewe kinders. My ouer broer se dogter se naam is ook Jennifer – so ek is Groot Jenny, sy is Klein Jenny.
As ek deur my foto’s kyk, is familiefoto’s die kosbaarste. Dis altyd eenvoudige oomblikke – ons trek gesigte, lag saam en maak pret.
Hoe ouer ’n mens word, hoe meer besef jy hoe belangrik familie is. Hulle is altyd daar deur dik en dun. My grootste cheerleader is my familie. Enige familiefoto is vir my die waardevolste.