Foute en mislukkings kon ANDRIËTTE NORMAN dae aaneen laat tob. Maar nie meer nie! Daarvoor is die lewenslesse wat sy uit mislukkings geleer het, te kosbaar.
Kom Ouma koop vir julle roomys,” sê een van my lief-oumas, Johanna, terwyl sy in haar beursie krap. Dis ’n warm dag by die see en ouma wil die spul kleinkinders vreeslik graag met ’n koue leksel soetigheid bederf.
’n Nuuskierige, sewejarige ek, staan rankend op my tone en probeer ongesiens in haar beursie loer.
Daar is net ’n paar sente, merk ek op, en maak ’n vinnige kop-som. Te min vir roomys vir ons almal.
“Ag nee wat, dankie, Ouma.” Uiters konsidererend vir so ’n klein japsnoet. “Ek is nie regtig lus vir roomys nie.”
Wanneer my ma hierdie staaltjie vertel, voeg sy altyd by: “Jy was al van kleins af ’n diep kind.”
’n Omgee-kind wat diep gedink en voel het. Ingestel om ander gelukkig te hou. Iemand wat nie ’n las vir ander wil wees nie.
As kind was my grootste vrees vir mislukking om vir Ma of Pa teleur te stel. Alles is in die stryd gewerp om hulle trots te maak. Nie omdat my ouers dit verwag het nie, maar omdat ek wóú.
Hierdie begeerte het gekom vanuit ’n plek van liefde en dankbaarheid, want hulle het my met soveel omgee grootgemaak.
Wanneer my ma werk toe is, het ek die horlosie fyn dopgehou en die huis mooi aan die kant gemaak voor sy smiddae by die voordeur instap. Net sodat sy trots en tevrede kon wees.
Hierdie strewe het my bygebly. Maar ek is nie meer skrikkerig om te misluk nie.
Soms is mislukking selfs nodig. Dit laat jou groei as mens en bou karakter.
Maak die beste van die teleurstellings op jou pad
Dit het lank gevat om die swak selfbeeld af te skud wat in my jongmeisie-kop gaan vassteek het. Daardie onsekerheid wat posvat wanneer outjies, en later mans, pront-uit sê: “As jy nie dit of dat doen nie, is die verhouding verby.”
Dit het my siening oor die liefde en verhoudings deurmekaar gekrap. My laat voel ek is nie goed genoeg nie. Dat ek altyd mooier of maerder moes wees. En dinge moes gee wat ek nie wou of kon nie.
Wat ’n ongelooflike bevryding om jare later te besef dat dit ’n groot mors van tyd was. Al die probeer om ’n man gelukkig te hou. Mooi vir hom te lyk, romantiese etes voor te sit … alles net sodat hy happy kan wees.
In my volwasse-raak het die besef gekom: Hy moet my óók mos gelukkig maak. Ek is waardig en genoeg.
Een van die beste besluite nog was om met Glynn te trou. ’n Man wat hier is vir mý. Nie vir my bekendheid, of wat ek vir hom kan doen, gee of wees nie.
Glynn het van die begin af sy eie loopbaan, lewe en identiteit gehad. Hy is ’n biokinetikus van beroep, maar uitsonderlike inspireerder en moed-inprater.
Hy het ’n ongelooflike motiverende persoonlikheid. Altyd positief. Hy gee ’n mens nie kans om negatief te raak of oor jou foute te tob nie … want ek kan nogal goed oordink … “Hoekom het ek nie eerder sus of so gereageer nie? Moes ek nou regtig dít of dat kwytgeraak het?”
Soms frustreer dit ’n mens so ’n bietjie, want ’n vrou wíl mos tob, maar Glynn is reg. Hy verlos my baie gou van ’n negatiewe gedagtegang.
“Los dit nou. Dis verby. Kyk vorentoe. Beweeg aan,” is sy op-die-man-af raad.
Hy glo ’n mens maak die beste van elke ding wat oor jou pad kom – goed of sleg. Moenie eers vastrapplek gee om in ’n gat te val nie.
Saam met Glynn voel ek altyd niks is onmoontlik nie. Dat ’n mens enigiets kan aanpak en ’n sukses daarvan maak – as jy regtig wil.
Ons lewe saam doen my goed. Ek is baie rustiger en meer volwasse en word nie meer so angstig oor dinge nie.
Vind vrede en verander jou uitdagings na oorwinnings
Op ’n manier het ek vrede gevind. Ook vrede in mislukkings.
Jare gelede, toe ek my sangstem verloor het, het Glynn my aangemoedig om positief te dink en te praat en baie te bid.
My stem is lankal weer piekfyn, maar dit het ’n bewuswording geskep dat ’n mens soveel meer is as jou failures.
Toe ek nie kon sing nie, het ek ’n liefde vir voeding en kosmaak herontdek. ’n Passie wat my al op skool laat dink het aan ’n beroep in dieetkunde.
Deesdae maak ek tyd om te eksperimenteer met resepte, om kursusse in voeding aan te pak en eetplanne vir mense uit te werk.
Danksy mislukking het ek besef: Ons is almal meer as net die talent waarin ons die helderste uitblink.
Die gestoei met die skaal, en wat ’n mens mag eet en nie mag eet nie, het op 16 begin.
Dis toe ek vir die eerste keer bewus geraak het van my gewig. Skielik sien jy die mooi outjies by die skool raak, en wil self ook raakgesien word.
Kort voor lank was dit ’n wipplank van kilo’s optel en afskud, kos weeg en kalorieë tel. Elke nuwe dieet was die antwoord om my teikengewig te behaal en te behou. Maar dit het altyd net-net buite bereik gebly.
Eers nou, in my 30’s, ná vele mislukkings, het ek ’n oplossing ontdek. Hou jou spysverteringstelsel op ’n natuurlike manier gesond!
Ek het nog nooit so goed gevoel nie. By Minette van Simply Flourish het ek geleer om natuurlike, kleurryke kosse vanuit die aarde te eet. Geen hormoonbelaaide geregte, blikkieskos, goed in pakkies, verfynde prosesse of bymiddels nie.
Daar is ontdek dat regte kos soos medisyne vir jou lyf kan wees. ’n Gesonde spysverteringstelsel aktiveer jou liggaam se wonderlike vermoë om homself te genees.
Ek het juis ’n weersin in medikasie – en wil nie eens ’n hoofpynpil drink nie.
Daar word ook gesê dat 97% van die serotonien (goedvoelhormoon) in jou lyf van ’n gesonde dikderm afhang. As jou gut nie reg werk nie, gaan jy ook nie lekker voel nie.
Van mislukking tot oorwinning – hierdie reis het my hele uitkyk oor gesondheid verander.
‘n Mens groei deur foute te maak
Daar is wel ’n area waarin ek soms liederlik misluk. Die meeste ma’s voel só. Oorweldig en gedaan. Asof jy nie al die vure kan doodslaan as dit by jou kinders kom nie.
Dis ’n heel ander wêreld waarin hulle grootword. So asof vandag se kinders heeltyd geassesseer moet word. Dan is dit spraakterapie, dan arbeidsterapie. Dan het hulle dié pil, of daai aanvulling nodig.
Dis asof hulle nie meer net natuurlik mag lewe nie. Nie bloot net kan “wees” nie.
En soms voel ek gebombardeer deur al die voorskrifte aan ouers hoe om ’n kind te hanteer en te dissiplineer.
Ek steur my nie meer daaraan nie.
In die begin van ons huwelik, toe ek ’n kits-ma vir ons oudste (Glynn se seuntjie) geword het, was ek veral hard op myself. Het alles probeer reg doen, ek was bitter jonk en dit het my soms ondergekry.
Later, met twee kinders van my eie, besef ’n mens ’n kind is nie ’n robot nie. Hulle gaan jou uitdaag. Jy gaan foute maak. En dis oukei.
Pas aan. Maak ’n plan.
Ek het agtergekom dat seuns mal is daaroor om dinge saam met hulle ma te doen. Hulle blom wanneer hulle iets saam met my regkry. Óf dit nou ’n som is, bal skop óf om ’n nuwe woord aan te leer.
Saam-saam kweek ons begrip en geniet mekaar.
Ons oudste (13) is baie lief vir lees. Ons bederf hom graag met feite-boeke, en hy verras ons met sy algemene kennis.
Die middelste een (6) is prakties en uitstekend met handewerk. Hy sal ’n hele huisie perfek met bakstene op mekaar stapel en sy eie dak prakseer. Sy gunstelinggeskenk is gereedskap.
Die kleintjie (4) is besonder balvaardig. Daarom doen ons moeite om balspeletjies saam met hom te speel.
Wanneer een met iets sukkel wat Boetie regkry, word hulle herinner dat elkeen op sy eie manier spesiaal is. En dat ’n mens nooit moet sê: “Ek kan nie.”
“Mamma wil jou hoor sê: ‘Ek kan, en ek gaan,’” paai ek gereeld. Dis sommer ’n goeie les vir my ook.
Jou mislukking kan jou sterker maak as mens
Die tyd is te min om by foute en mislukking vas te haak. Dit het ek besef op die verskriklike dag toe my pa met Covid-19 in die hospitaal opgeneem is.
“Ons gaan dalk nie weer vir Pappa sien nie,” het ma opgemerk toe hulle hom instoot, en ons buite die hospitaal se deur moes agterbly.
Pappa is ’n week later ontslaan, maar haar woorde het my tot in my diepste wese tot stilstand geruk.
Hoe gebeur dit so gou? Hoe kom ’n mens so vinnig op ’n plek van koebaai sê … miskien vir altyd?
Dis toe ek besef het die lewe is te kort vir tob en spyt wees. Die tyd is te min.
Vergewe so gou as wat jy kan. Maak vrede, vandag nog. Sê dankie en “ek is lief vir jou”, terwyl daar nog tyd is.
En kyk deur ’n ander bril na die dinge wat jou na ’n mislukking laat voel. Dis net nog ’n trappie in die lewe wat jou sterker maak as mens.
Gryp dit aan. Leer daaruit. En soos Glynn sê: “Kom oor dit en kyk vorentoe.”
Vir soortgelyke inhoud lees:
Weet jy dat jy meer as jou foute is?