Aktrise, entrepreneur en sosiale beïnvloeder SIMONÉ PRETORIUS staan verstom oor al die seëninge in haar lewe – elke aspek van haar lewe is ’n wonderwerk (en ’n storie) wat van geloof, hoop en vertroue getuig.
Dis vroegoggend en die huis is stil. Trane loop in strome teen my wange af. Dit voel of die ou Simoné laag vir laag ’n nuwe mens word. Of die harde omhulsel wat oor die jare saamgepak het, soos stukke klei afbreek en wegval.
Dit was ’n deeltjie van my hart wat iewers diep en donker weggesteek was, omdat ek bang gevoel het …
Vreesbevange. Wat gaan dit kos? Wat gaan dit verg om vry te kom? Heel te word?
Ek kan nie ’n tyd onthou wat dit nié daar was nie. Hierdie issue met my lyf – dat dit nie goed of mooi genoeg is nie.
’n Mens kan aan die buitekant heel lyk, maar aan die binnekant steeds stukkend wees – en dis waar die Here genesing wou bring. “Werk asseblief saggies met my,” is daar vooraf gebid, wetende dat daar nie meer ’n kans vir omdraai was nie.
Daar is seker niks wat ’n vrou se gevoelens teenoor haar lyf so sterk na vore bring soos swangerskap nie. ’n Fase waarin jou liggaam oorneem en verander.
Elke keer wanneer nóg ’n broek nie pas nie, moet ’n mens dit aanvaar, jou liggaam vertrou en oorgee. Maar hoe kon ek?
Vir so lank was daar geen vertroue nie. Net kritiek en afkeur …
In my gesels met die Here, het die diep besef gekom dat my lyf al vir dekades lank hanteer word asof sy niks reg kan doen nie.
Ná baie huil en hart uitpraat, was die sagte fluistering van die Heilige Gees onmiskenbaar: “Simoné, nou moet jy jou lyf seën.”
Sjoe! Hoe doen ’n mens dit?
Ek het begin deur jammer te sê vir hoe ek haar oor die jare hanteer het. Jammer vir al die druk.
Die selfveragting, die genadelose kritiek – en dit terwyl God soveel anders praat.
Dit was ongelooflik om uit hierdie ding te kon losbreek.
Onderstebo en agterstevoor. Dis hoe die Here soms werk …
Veral in my loopbaan. ’n Wonderwerk van die begin af.
“Jy hoef nie deure oop te skop nie.” Só het ek Sy stem ervaar. “Ek is jou agent wat dinge sal laat werk.”
Dis steeds hoe dit vandag nog gebeur, al is dit ’n mededingende bedryf. Elke oudisie, elke rol, selfs in elke seisoen waar daar nie werk is nie, word daar voorsien.
Net voor die pandemie uitgebreek het, en ná baie gebed, het ek gevoel dat dit tyd was vir nuwe dinge; dat ek maar kon klaarmaak by Binnelanders. Dit was ’n wonderlike tydperk in my loopbaan; ’n fase van herstel.
Hierdie keer is dinge heelgemaak – my vertroue in mense, vertroue in myself …
Daar was tye wat ek wou benoud raak, twyfel, maar dan kom Sy sagte herinnering: “Simoné, ons was al hierdeur. Moenie weer teruggaan na ’n plek van vrees oor voorsiening nie. Jy het mos vrede oor die besluit.”
Elke keer wanneer die benoudheid kom aanklop het, het ek myself ook herinner: ’n Mens kan kies om terug te gaan na jou “Egipte” toe, of vertrou dat daar manna vir elke seisoen sal wees.
Dit was ook só – ’n dubbelvoorsiening, danksy nuwe geleenthede soos entrepreneurskap op sosiale media en die ontwikkeling van ’n juwele-reeks.
Ek het geleer: ’n Verhouding met die Here is soos om die Himalaja uit te klim. Met elke kruin wat bereik word, is daar nog een, en nóg een. Elke keer, hoër, verder en dieper in geloof en vertroue.
Vir soortgelyke inhoud, soos hierdie artikel van Simoné Pretorius, kliek hier:
Vergeet van ‘normaal’ en geniet die avontuur – Riandi Grey