ELIZMA THERON kan sing oor die lief en leed van die lewe, want sy het al self die goeie en die slegte daarvan beleef, deurleef en oorleef ‒ en sterker anderkant uitgekom. Sy het stukkie vir stukkie die lewe begin terugvat … totdat haar vrees uiteindelik vervang is met vrede en vryheid.

Hoe jy vrees hanteer is jou besluit

Die lewe het al ’n paar opslagballe in haar rigting afgestuur, maar dan slaan sy – sonder om dit vooraf te beplan – ’n kishou terug. Alles uit pure genade.

Soos toe sy heeltemal uit karakter uit, een nag opstaan en haar en Nico se slaapkamerdeur gaan sluit het. “Ek het nie geweet hoekom nie. Kort daarna het my ma in die kamer verder af in die gang kliphard begin gil, en aanhou gil.”

Elizma Theron se hart en kop het vir ’n oomblik gaan stilstaan. Alles voel onwerklik.

“Dis net ’n spinnekop in die bed … dit kán nie iets anders wees nie,” het sy haarself probeer oortuig. “Jou brein wil dit nie glo nie. Maar dan word die geluide, die stemme, die skuifelklanke duidelik. En jy besef, dit ís rowers.”

Kalmte het haar paniek verdryf. “Nico … hier’s mense in die huis. Jy moet gaan kyk,” het sy manlief wakker geskud.

Maar voordat hy, nog deurmekaar van die slaap, by die kamer kon uitstrompel, het sy kopgehou en gesê die wapen moet saam.

Die op-haar-voete-dink was weer ’n stukkie genade, want die waarskuwingskote het waarskynlik daardie nag hulle almal se lewe gered.

“Ek ken vrees, maar teen dié tyd weet ek ook dat dit nie van Bo af is nie. Die vermoë om ’n keuse te maak oor hoe jy die vreesaanjaende situasie gaan hanteer, is wel.” Bang of dapper. Lam van skrik, of kophou en slim reageer. Die besluit is joune. En Elizma maak daardie keuse keer op keer.

Dit kan jou vrede en vreugde steel

Dink sy ooit aan emigreer? Alles oppak en waai?

“Nie sommer nie. Waar daar hoop is, is daar lewe. En ek hét hoop. ’n Diepgewortelde liefde vir ons mense, taal, kultuur en land. Vir my is die glas altyd halfvol.”

Sy was ’n ruk lank kwaad. En bang. Te bang om saans saam met Nico, soos dit hulle gewoonte was, op die stoep ’n koppie koffie te drink en oor die dag te besin. Selfs te bang om laataand nog TV te kyk.

Maar toe kom die besef: “Dis mos nie hoe ’n mens deur die lewe moet gaan nie. My vrede en vreugde is dalk tydelik gesteel, maar dit hoef nie só te bly nie.”

En só het sy stukkie vir stukkie die lewe begin terugvat. Weer buite gaan sit en koffie drink. Al later, en nog later, in die voorhuis TV gekyk … totdat die vrees uiteindelik vervang is met vrede en vryheid.

“Die uitdagings waarmee ons daagliks worstel, plaas ons ook in ’n unieke posisie,” glo Elizma. “Dit laat ons nader aan mekaar leef. Dankbaar oor die kleinste dingetjies. Dit leer ons hoe om gelowig en in afhanklikheid van Iemand groter te funksioneer, want daarsonder het ons geen verweer nie.

“Al word ek sterk gemaak in moeilike situasies, word ek ook tyd gegun om alleen in stilte te huil.”

Elizma Theron weet ’n mens moet bid vir jou kinders. Nie net dat hulle fisiek veilig gehou sal word nie, maar ook dat hulle geestelik, emosioneel en verstandelik beskermd en gesond sal wees.

Sy is deeglik bewus van die krag van gebed.