Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. (1 Johannes 3:11)
Soms is ons geneig om gedeeltes in sy Woord vinniger te lees as dit te naby aan die been sny. Jy weet dis die waarheid, maar dis makliker om dan oor te slaan na ’n volgende hoostuk. Hier in 1 Johannes 3 word daar diep gepraat oor liefde. Om nie jou broeder lief te hê nie, is dieselfde as moord. Kan dit wees?
Die opskrif van die hoofstuk is “Kinders van God” en daarom word in hierdie hoofstuk met my en jou as kinders van ons Hemelvader gepraat. Dis ’n term wat die wêreld nie verstaan nie, miskien omdat hulle nie die praktiese voorbeeld by ons sien nie.
Die vraag bly dus staan: “Hoe betoon ek dan die liefde?” In Jakobus 2:15-16 word so mooi verduidelik. As daar nou ’n broeder of suster naak is en aan daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: “Gaan in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit?”
Ons kan soms so maklik regter speel en sê daardie man of vrou moet gaan werk soek, of hulle moet leer om vir hulself te sorg.
Wat sou van my en jou geword het as God sou sê dat ons nie sy koninkryk werd is nie? Maar nee, Hy het ons so lief dat Hy sy eie seun vir ons stuur. Sy Seun is soveel meer werd as ’n stukkie brood, ’n kombers of ’n warm koppie sop wat vir ons soms so bitter moeilik is om weg te gee.
Kan ons God se liefde so oordra en onselfsugtige liefde gee vir ons broers en susters daar buite?