Dink jy jy is nie genoeg vir jou huweliksmaat, kinders, kerk of vriende nie – nie genoeg vir God nie? “Wat sê God oor jou? Dit is waarna ons moet kyk en waarop ons moet fokus,” sê die predikant en skrywer LIESEL KRAUSE–WIID.
Interessant genoeg hou ’n gebrek aan selfvertroue nie verband met ’n gebrek aan talente en vaardighede nie. Die gevoel van sekerheid dat jy kan bereik waarop jy jou gedagtes gestel het, begin by hoe jy glo.
Hoe jy oor jouself dink moet Bybels wees
Wat is jou “self talk”? Koester jy kritiese, negatiewe en afbrekende gedagtes?
Wat sê God oor jou? Dit is waarna ons moet kyk en waarop ons moet fokus. Wat die Woord sê wie jy is: Jy is Sy kind, jy is na Sy beeld geskep, jy is Sy verteenwoordiger hier op aarde.
Jy projekteer jouself op twee maniere: Óf jy het ’n ek-is-jammer-ek-leef-houding óf jy is ’n Koningskind. Dit is ongelukkig makliker vir jou brein om aan jou mislukkings, foute en sonde uit die verlede te dink.
Fokus op genade en vergifnis waarmee jy jou woorde en gedagtes oor jouself kan herverwoord. Praat so mooi met en van jouself soos die Bybel!
Koester jou liggaam, want jy is wonderlik geskep
Weet jy jou liggaam is ’n wonderwerk? Net om ’n eenvoudige aksie te doen soos om jou hand uit te steek en jou vingers oop en toe te maak, verg duisende boodskappies van jou brein na jou spiere!
Die Almagtige het in Sy wysheid besluit om vir ons elkeen ’n unieke liggaam te gee. Dit is jou taak om dié voertuig na die beste van jou vermoë op te pas.
Jy is geskep en ook van jou word soos in Genesis gesê: “Sy is mooi.” Dit is hoe jy na jouself in die spieël moet kyk. Nie met oë wat die wêreld se standaarde wil toepas nie, maar deur die Skepper se oë.
Omskep jou geloofsvertroue in selfvertroue – en wys dit!
Op foto’s van prinses Kate, voor sy met prins William getrou het, lyk sy soos ’n gewone jongmeisie. Toe sy die titel van prinses gekry het, het haar houding verander. Haar manier van loop, hoe sy aantrek, hoe sy praat – alles!
Keer op keer dink ons wat ons kry, waar ons bly en wat ons ry, maak ons wie ons is. Dalk is dit jou man se titel of hoe goed jou kinders op skool doen, wat jy dink jou identiteit opbou.
Dit is nie waar nie! Kan jy jou definisies van jou eiewaarde aflê en vervang met die ware titel wat jy deur jou geloofsverhouding gekry het? Jy is ’n Koningskind. Neem ’n Koningskind-houding aan.
Jy hoef nie perfek te wees of te glo nie!
Dis menslik dat geloof wipplank ry. Soms voel God ver. Maar ons kan nie op ons emosies staatmaak nie.
Die Woord sê niks kan jou skei van Sy liefde nie. Ook nie opmerkings wat mense oor jou gemaak het, of die foute wat jy in jou verlede gemaak het nie.
Toe Moses die opdrag kry om die Israeliete uit Egipte te lei, was hy vol verskonings. Hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Maar die taak was steeds syne, omdat hy nie perfek hoef te gewees het of enigiets alleen hoef te gedoen het nie.
Dit is die kern van selfvertroue: Om te weet God is by jou. Hy rus jou toe.