Die tyd is lankal verby dat vroue net ‘hard werk’ deur kinders rond te ry. Tans is meer as die helfte van ons land se beroepsmag vroue,” sê die skrywer SALOMÉ COMBRINK.
’n Beroep kan vroue bemagtig en bevry
Die uitleef van ’n beroep bevry vroue van die beperkings wat eeue lank op hulle geplaas is. Daar is ook grootskaalse pogings tot regstellende aksie ten opsigte van vroue se posisie, geleenthede, betaling en leierskapsposisies.
Die situasie in die praktyk is egter nog nie genormaliseer nie.
Wat die vrou nodig het om welslae in die sogenaamde wêreld van die man te behaal, is meer as net ’n oulike glimlag, ’n paar bene en ’n kapsel …
Jy het nie nodig om jou bra te verbrand en “gelykheid” te skree nie.
Ook nie aggressie nie, maar wel alledaagshede soos om jou vrou te staan, jou stem dik te maak en nie jou eie vyand te wees nie.
Stres, skuldgevoelens en moegheid is beslis drie van die beroepsvrou se grootste struikelblokke. ’n Vrou se lewe is dikwels versnipper deur skuldgevoelens oor alles en almal waarby sy nie uitkom nie.
Om ’n beroep te hê, kan ’n uitdaging vir vroue wees waarin ons iets kan teruggee aan ’n koue, harde, gejaagde samelewing.
Wat die Bybel sê oor vroue wat werk:
- Vroue kan en mag ook beroepswerk doen (Genesis 1:26-27; Spreuke 10:4; 2 Tessalonisense 3:10).
- Ons moet daarteen waak dat ons beroep ons nie dalk oorheers nie (Spreuke 23:4; Matteus 4:4; Romeine 14:17).
- Ons moet weet waarom ons beroepswerk doen: ter wille van finansies, ter wille van selfvervulling of ook as verteenwoordiger van God wat saam met die man die skepping moet beheers (Efesiërs 6:6; Romeine 12:1-8).
- Vir ’n beroepsvrou is daar norme wat jy by jou tydsindeling en gesinsverpligtinge in ag moet neem (Deuteronomium 6:6-7; Matteus 18:6-7).
- Vroue moet waak teen oorwerktheid en stres as gevolg van te veel hooi op hulle vurk en erns maak met wat God hieroor sê (Spreuke 15:16; Markus 8:36; Psalm 127:2).
Die verskillende rolle en verantwoordelikhede van ’n beroepsvrou
Die moontlikhede vir vroue om tot die gesinsinkomste by te dra en ook vervulling op hulle eie prestasiegebied te ervaar, is vir baie vroue ’n wonderlike geleentheid.
Tog bring dit ook negatiewe elemente soos spanning en moegheid mee en demp baie vroue se lewensvreugde.
Tans ly meer vroue aan depressie en uitputting as ooit tevore.
’n Vrou moet vandag inderdaad uithaal om haar talle verantwoordelikhede na te kom … Sy moet goed wees in ’n hoogs kompeterende beroepswêreld.
Sy moet altyd komkommerkoel en aantreklik lyk, sy moet tuis warmte skep, die huishouding glad bestuur en aandag gee aan die kinders se huiswerk.
Sy sorg ook dat die kroos by hulle buitemuurse aktiwiteite uitkom, sien om na die tuin en die huishulp, is betrokke by kerklike aktiwiteite en maak tyd om vir haar man ’n liefdevolle en beskikbare minnares te wees.
Al die eise wat aan ’n vrou gestel word, maak hulle dikwels afwesige, oorlaaide mense en ma’s. Dan gebeur dit juis daar waar daar skuiling en bestendigheid en sekuriteit moet wees – die gesin – dat die gevaarligte begin flikker.
Ná ’n uitputtende werksdag is jy reg om jou eie opgekropte spanning en moegheid op jou gesinslede uit te haal om ontslae te raak van ’n klomp buite-faktore. Die gejaagdheid en moderne eise bring dus dikwels vervlakking en vervreemding in die gesin se lewe.
Ook aan mans word daar deesdae nuwe eise gestel. Hulle moet tuis help, doeke aansit, met die stofsuier en wasgoed werk en sagter, warmer en meer emosioneel vir hulle gesinne wees.
Vind balans deur anders te dink oor beroepswerk
Dit is tyd dat vroue meer erkenning gee aan die aanpassing wat mans in die moderne samelewing moet maak.
Met die nuwe rol waarin mans en vroue hulle bevind, is dit belangrik om in gedagte te hou dat die man net so swaarkry soos die vrou.
Dit is tyd dat gelowige vroue besin oor die kwaliteit van hulle gesinslewe.
Vroue moet baie sterk oorweging gee aan hulle eie kreatiwiteit en ondernemerskap as dit gaan oor hulle bydrae tot die gesin se inkomste – veral as gesinsbelange soos beskikbaarheid vir kinders ook in ag geneem moet word.
Om sukses te behaal, moet ons anders oor werk begin dink. Ons moet leer om van onsself en nie van maatskappye afhanklik te wees nie.
Juis vandag is daar baie vroue wat ’n krisis beleef omdat hulle nie genoeg formele beroepsopleiding het nie, of omdat hulle lank uit die arbeidsektor was as gevolg van gesinsverpligtinge en nou het hulle nie die moed, kundigheid of selfvertroue om na die formele beroepsektor terug te keer nie.
Entrepreneurskap vra van jou ondernemingsgees, waagmoed, skeppende denke, om nuwe dinge te beproef, om leemtes raak te sien, om met jouself ’n kontrak aan te gaan en dit tot uitvoer te bring, kreatiewe denke en optrede en deursettingsvermoë.
’n Mens kan op klein skaal begin om besonderse kaartjies van afvalpapier te maak, of om huishulpe op te lei in die maak van sulke kaartjies.
Óf ’n mens kan ’n deel van jou huis in ’n gastehuis omskep, of jou tuin se rustige atmosfeer benut vir ’n teetuin. Ontwikkel jou idee!