Baie mense sukkel om van hulself te hou en het daarom ‘n swak selfbeeld. “Jy moet trots wees op jouself,” sê die sielkundige LORETTE DYE.
Weet of jou selfvertroue aandag nodig het
Menswees het ongelooflik baie fasette. Die ideaal is om by die plek uit te kom waar jy voel dat jy optimaal leef, jy die lewe op die beste manier leef wat jy kan en jy die beste maak van die geskenk van lewe wat jy gekry het.
Die meeste mense voel egter dat hulle beter kan doen, dat hulle lewe nie goed is nie.
Dis dan dat jy op ’n reis moet gaan – ’n reis van die self sodat jy op ’n plek sal kom waar jy sal voel “dit is goed”. ’n Plek waar jy binne-in jou kan lag en trots kan wees op jou lewe.
Al is jy nie trots op party van die dinge wat jy gedoen het nie, moet jy trots wees op jouself. Die ideaal is dat jy aan die einde van jou lewe sal voel jy het ’n goeie lewe geleef.
Hoe weet ek of my selfbeeld aandag nodig het?
Antwoord die onderstaande vrae eerlik.
- Wil jy graag beter voel oor jouself?
- Weet jy nie aldag hoe om jouself in sosiale situasies te handhaaf nie?
- Is jy onseker oor wie jy is?
- Glo jy dat jy as mens altyd die potensiaal het om te groei?
- Voel jy gereeld oorweldig?
- Sal jy jou lewe anders wil hê, maar jy weet nie hoe nie?
- Wonder jy gereeld hoe ander mense die lewe baasraak?
- Is daar dinge uit jou verlede wat jou aanhou ry en jy weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie?
- Wens jy vir ’n oomblik van rus en vrede in jou lewe?
Indien jy op een of meer vrae “ja” geantwoord het, moet jy aan jou selfbeeld werk.
Jou lewe, met al die goeie en minder goeie dinge, is ’n ongelooflike geskenk. Ek dink baiekeer dat ek nie bang is vir die dood nie, maar bang is om die geskenk van lewe te verloor.
Leer jouself beter ken om meer selfversekerd te wees
Soos jy nou as mens is, sonder dat jy hoef te verander of te verbeter, het baie waarde. Jy maak saak.
Of jy nou daarvan bewus is of nie, jy het ’n basiese ingesteldheid oor die lewe en hoe om dit te leef. Is jou ingesteldheid een van die volgende:
- “Die lewe is swaar, ons moet nou maar net hier deurkom.”
- “So baie slegte goed gebeur met my.”
- “Ek wil meer en beter in die lewe hê.”
ÓF:
- My lewe is soos ’n kosbare pêrel, ’n ongelooflike geskenk wat ek elke dag wil koester.”
Daar is geen groter geskenk wat jy vir jouself kan gee as om jouself en die kennis van die self as ’n wonderlike reis te sien nie. Dit sluit in dat jy verstaan wie jy werklik is, maar ook watter aspekte van jou optrede geskepte gedrag is. Nie alles wat ons doen, sê iets van wie ons werklik is nie.
Party mense is bang vir hulle eie emosies en om selfondersoek te doen. Dit is of hulle deurentyd van hulleself af vlug.
Vra jou af waarvoor jy bang is. Wat is daar wat jy vind jou laat huiwer? Om jouself te leer ken, kan veroorsaak dat alles in die lewe, die hele wêreld, anders lyk. Verstaan dat die belangrikste doelwit om te bereik, is om te weet wie jy regtig is.
Jy kan jouself vertrou oor jouself. Verstaan dat die antwoord oor wie jy werklik is, binne jou geleë is. Baie mense grond hulle beeld van hulleself op ander se siening van hulle.
Ander se opinies oor jou word gemotiveer deur hulle behoeftes en emosies en nie deur ’n wonderlike insig oor jou en jou waarde nie.
Dit is ook handig om te onthou dat ander se siening oor jou gegrond is op die beperkte beeld wat hulle van jou het, wat weer gebaseer is op dit wat jy van jouself vir mense wys.
Selfliefde maak jou vry van ander se opinies
Mense wat nie vir hulleself lief is nie omdat hulle nooit gehoor het dat hulle waardevol is nie, is selfbehep. Hulle verstaan nie dat hulle oorweldig voel deur die lewe en hulle eie emosies nie omdat hulle nie in harmonie met hulleself lewe nie.
Daar is geen ongelukkigheid so groot as dié wat uit selfontkenning spruit nie. Mense wat selfbehep is, is deurentyd ingestel op hulle eie interne realiteit en word nie daardeur bevry nie.
Die leemtes wat hulle in hulleself beleef, hulle behoeftes en ervarings is al wat werklik vir hulle betekenis het. Die beste teenvoeter om jou verlede te oorkom, is juis selfliefde.
Verander jou manier van dink oor jouself sodat jy liewer kan word vir jouself …
Maak jouself vry van ander se reaksies en opinies. As jy jou lewe op ander se verwagtings en aanvaarding baseer, sal jy soos ’n boot op ’n stormsee wees.
Wat die een sê, sal jou in daardie rigting laat gaan, en wat die volgende een sê, sal jou in die ander rigting laat gaan.
Weet wie jy is en dat jy waarde het as God se kind. Hoe duideliker jou “self” is en hoe beter jy oor jouself voel, hoe minder sal ander se opinie van jou jou beïnvloed.
Moenie net aanvaar wat mense van of oor jou sê nie, maar meet dit aan wat jy van jouself weet en laat dít die meeste tel in jou evaluering.
Selfkennis en ’n goeie selfbeeld neem jou nie na selfsug nie. Dit help jou juis om nie gedurig net op jouself ingestel te wees nie.
Hoe beter jy jouself ken en hoe meer jy van jouself hou, hoe rustiger sal jy wees. Dan sal jy meer op jou geliefdes en hulle behoeftes kan konsentreer.