MIA SLABBERT is ’n gesoute joernalis, ma, sakevrou en aanbieder van Grootplaas. Sy het op haar lewenspad al ’n paar lesse geleer en wonderwerke beleef.
Jou ma is toe jy 18 maande oud was dood aan kanker. Hoe het dit jou beïnvloed?
My ma is oorlede toe sy 37 was. Ek het geen herinnering aan haar nie, en het ook nie regtig aan haar gedink nie, want dit is moeilik om iemand te onthou wat jy nooit geken het nie.
Hierdie jaar het ek besef ek is nou ouer as wat sy ooit was. My broers vertel altyd hoe sy, toe sy met kanker gediagnoseer is en hospice toe is, voor die bed gebid het. Dit tref my dat as jy weet jou tyd is min en jy los vier kinders agter, hoe intens daardie gebede moes wees.
Dit was nie net gebede vir voorspoed nie, maar krete vir haar kinders. Ek het ’n sterk interne dryf en ek wil seker maak dat my ma se gebede nie verniet was nie.
Dit het ’n groot impak op my, want ek wil nie hê haar gebede moes tevergeefs wees nie. Dit dien as die dryfkrag agter die mens wat ek geword het en steeds word.
As ek na my lewe kyk, moes ek nie regtig hier wees en doen wat ek doen nie, want alles was eintlik teen my. Tog is ek hier en ek glo dat ek steeds in my ma se gebede loop. Ek is bitter dankbaar daarvoor en vir die pad wat sy vir my oopgebid het.
Op 10-jarige ouderdom is jou pa ook oorlede. Wat was die emosionele impak hiervan op jou?
Ek dink nie ek het die woorde om te beskryf watter impak dit gehad het nie, maar die feit dat dit ’n impak gehad het, kan ’n mens nie betwyfel nie.
Ek het vir ’n groot deel van my lewe gevoel ek het nie ’n stem nie en ek word nie raakgesien nie. Ek het gevoel ek moet by ander mense se behoeftes en planne aanpas.
Dit speel ’n groot rol in hoe jy jouself sien, jou waarde, jou plekkie in die wêreld, en waar jy jouself sien. Ek het vir ’n groot deel van my lewe hiermee gestoei. In standerd vyf of ses het ek my hare afgeskeer uit rebellie. Maar die behoefte om nie ’n mislukking te wees nie, het gegroei soos ek ouer geword het.
’n Behoefte om my plek te vind en te besef dat ek waarde het. As ma en volwassene besef ek nou dat ’n mens se waarde nie gekoppel is aan jou omstandighede nie.
Waarde lê baie dieper en word meer beskerm as dit. Hoewel ek deur baie werk en slegte verhoudings moes gaan omdat ek nie waardevol gevoel het nie, is ek nou dankbaar dat ek ’n punt bereik het waar ek my waarde besef het.
Dit is belangrik om te besef jou waarde en dit wat jy kan doen in hierdie lewe, word nie bepaal deur waar jy grootgeword het en wat met jou gebeur het nie. Dit is ’n baie dieper ding. Waar ek dalk nie selfvertroue gehad het nie, het ek besef my waarde lê nie in waar ek was nie, maar in waarheen ek op pad is en wat binne my is.
Toe jy in graad 1 was, het jy met jou pa gedeel dat iemand jou molesteer het. Hy het gevra dat jy dit stil hou. Hoekom dink jy was dit sy reaksie?
Toe dit met my in graad 1 gebeur het, het ek die eerste leuen geglo: Ek is nie die moeite werd om voor te veg nie, ek is nie die moeite werd om goed te ontvang nie.
As ek nou terugkyk, besef ek dat sommige van my besluite beïnvloed is deur hierdie gevoel van waardeloosheid, al was die Here se genade oor my lewe.
Ek vertel graag die storie van my rooi lippe. Ek dra nie rooi lippe net om fancy te wees nie; dit herinner my daagliks dat ek ’n stem het en dat ek die moeite werd is. My genesingspad was diep en het my laat besef dat ek een van die Here se pêrels is. Hierdie besef het my lewe verander.
Ek is nie my agtergrond of wat met my gebeur het nie; ek is baie meer. Hierdie besef was ’n groot deel van my genesingspad.
Op 37 besef ek dit net meer en meer. Dit is ’n pad van aanhoudende herinnering dat wat ek sê en wie ek is, saak maak. Dit het dalk ook ’n rol gespeel in die feit dat ek my eie besigheid begin het, om vir myself ’n plek te skep. Ek is verskriklik dankbaar vir hierdie lang genesingspad.
Wat wil jy vir ander mense sê wat deur ’n soortgelyke trauma is?
Ek hoop mense wat my ken, weet dat ek dit baie belangrik vind om hierdie lewe ten volle te leef, veral omdat my ma op ’n jong ouderdom oorlede is. Ek is bewus daarvan dat ons net een kans het om te leef.
Baie mense dra trauma met hulle saam, en ons besef nie altyd hoeveel nie. Hierdie jaar het ek myself toegelaat om my emosies te voel. Dit klink eenvoudig, maar dikwels het ek my gevoelens eenkant geskuif en vir myself gesê ek is sterk en kan enigiets hanteer. Maar soms is dinge regtig moeilik.
My raad is om jouself toe te laat om te voel wat jy voel. Ek voel die seer, verlange, spyt, drome en begeertes. Ons weet nie waar dit gaan eindig nie, maar dit is belangrik om ons gevoelens te erken en nie net weg te skuif nie.
Begin binne en laat jouself toe om te voel. Ons is sterk wesens, veral vroue, en ons moet nie ons gevoelens onderdruk nie.
Laat jouself toe om jou seer te voel, maar ook om jou drome te droom en jou begeertes na te jaag. Dit is belangrik.
Jy is die trotse ma van twee pragtige seuns, maar dit is ook nie sonder sukkel nie. Jou jongste, Leo, het eers op vyf jaar oud begin loop …
Soos enige ander ma kan ek nie oor my kinders praat sonder om te glimlag nie, en dit is ’n groot voorreg.
Dit was vir my ’n besonderse oomblik om ’n ma te word, juis omdat ek nooit iemand ma genoem het nie.
Hulle sê altyd die Here gee spesiale kindertjies vir spesiale ouers en dit is waar! Voordat ons vir Leo gehad het, kon ek nie indink hoe ’n mens cope nie, ek kon nie indink hoe ’n mens so maatjie ondersteun nie.
Ons Leo het ’’n ander dinamika in ons gesin ingebring en wys vir ons ’n ander kant van die Here se hart. ’n Klein deeltjie van sy DNS het nooit ontwikkel nie en by hom het dit lae spiertonus en vertraagde ontwikkeling veroorsaak.
Hulle het aanvanklik gesê hy gaan nie kan loop nie, maar ons het aangehou oefen en toe hy op vyfjarige ouderdom begin loop het, was dit ’n merkwaardige mylpaal vir ons gesin.
Die uitdagings is groot, maar ’n maatjie met spesiale behoeftes bring dinamika en ekstra liefde in ’n gesin. Dit leer ons geduld en genade.
Ons kinders is die Here se kinders; ons is net hier om vir hulle riglyne te gee. Leo leer ons ’n soort liefde wat ek nie gedink het bestaan nie.
Sy plan is reeds deur die Here beplan. Ons het baie vrede oor ons klein Leo en die mylpale wat hy bereik, is ongelooflik.
Waarom dink jy is daar soveel ouers wat eerder sal stilbly oor kinders wat gestremdhede het?
Ek voel dit is geweldig belangrik om te praat. Ons as die mensdom hou alles so binne, amper asof dit ’n skande is as ’n mens se kinders uitdagings het. Ek en my man ervaar dit anders.
Dit is bitter belangrik om te praat, of dit groot of klein uitdagings is. Dit is vir my belangrik dat mense oor hulle uitdagings praat, want ons dink so maklik ek is die enigste een wat hierdeur gaan.
Iets wat ek besef het, is selfs jou kinders se uitdagings sal nie te groot wees vir jou om te hanteer nie. Om daaroor te praat bring net meer bewustheid. Ek onthou hoe ons gesukkel het om vir Leo ’n goeie skool te kry, totdat ons begin praat het daaroor.
As ’n mens jou uitdagings deel, skep dit ’n ondersteuningstruktuur rondom jou. Geen mens is ’n eiland nie en veral wanneer jy ’n kind met spesiale behoeftes het, jy het ’n ondersteuningsnetwerk nodig.
Ek dink ook die grootste rede hoekom dit belangrik is vir ons om te praat is, ’n mens kan so maklik dink dit is ek wat iets verkeerd gedoen het en nou word ek gestraf.
Een ding wat ek weet, die Here se genade is soveel groter as my klein gedagtes en my klein redenasies. So ons praat graag oor Leo, want hy is letterlik ’n wonderwerk. Hy is ons wonderwerk en hy het ook sy plekkie in hierdie lewe en dit is my rol as sy mamma om hom te koester en lief te hê.
Hoewel ek nie weet hoe die pad vorentoe gaan lyk nie, daar is ’n paadjie vorentoe en daar is ’n plekkie vir hom. Al is dit net ’n paar ekstra glimlagte en liefde in hierdie lewe, dan dink ek ons gaan oukei wees, want ons Leo het baie glimlagte en liefde om te gee.
’n Mens kan jou kinders net lief hê, of hulle uitdagings het of nie. Ons rol as ouers is om hulle net lief te hê, onvoorwaardelik.