Hoewel geld nie geluk kan koop nie, kan dit vir jou ’n gevoel van sekuriteit bring. Dit is as jy weet hoe om jou geld korrek te bestuur, glo HENCO KRUGER.
Hoe dink jy oor geld? En dan, watter emosie ontlont daardie gedagtes?
’n Mens moet gereeld dink oor hoe jy jou geld bestuur. Gaan jy net voort om dit soos in die verlede te doen? Óf beplan jy om dit beter te doen, met nuwe doelwitte in gedagte.
Dit is baie interessant dat die meeste kykers van die TV-program Kuns met kontant vroue is.
En die gewildste onderhoude met die akteurs of aktrises, sportsterre en ander glanspersoonlikhede wat die meeste kykergetalle gelok het, is dié onderhoude wat met ’n vrou gedoen is.
Die program skep ’n goeie platform vir Evas om hulle hart oop te maak, veral oor hulle drome oor en struikelblokke met hulle geldsake.
’n Vrou is gewoonlik onmiddellik eerlik as ’n mens oor finansies en geld gesels. Want ’n vrou het nie ’n ego wat in die pad staan, soos met ’n man nie.
Statisties is daar bewys dat die skoner geslag in die algemeen beleggings vreesaanjaend vind. Hulle wil nie met finansiële adviseurs daaroor praat nie.
Daar is tog ook bewys dat ’n vrou dit moeiliker vind om oor finansies as oor die dood te gesels.
Jy as vrou moet ’n kundige in jou lewe kry, iemand met wie jy hande kan vat; iemand saam met wie jy ’n pad kan saam stap.
Wetgewing verander en daar is nuwe belastingwette en reëls wat van toepassing is waarvan jy dalk nie geweet het of kennis van dra nie.
Jy het iemand nodig om net ’n klankbord vir jou te wees en vir jou te sê: Dit is oukei, jy gaan nie jou vingers verbrand as jy die volgende doen nie.
Praat gedurig oor julle finansies en geldsake
Wanneer ’n vriendin by die werk sê dat haar man nou oorsee of in Bitcoin belê en jou uitnooi om dieselfde te doen, moet jy nie dadelik instem nie.
Kry ’n kundige wat weet wat hy of sy doen en met wie jy daaroor kan kom gesels sodat jy juis nie jou vingers verbrand nie.
Dit is ook statisties bewys dat ’n vrou se tande gouer stomp as ’n man s’n word. Dit is van al die tandekners omdat hulle niks sê wanneer hulle man oor geld praat nie.
Praat met jou lewensmaat oor geld. Praat oor finansies. Moenie op jou tande kners nie. Maak jou mond oop en praat daaroor.
Dis gewoonlik die vrou wat raad vra, wat eerste haar hand opsteek en sê: “Help, ek is bekommerd oor ons finansies. Ek het hulp nodig.”
’n Begroting sal jou help om konsekwent en aanhoudend altyd minder uit te gee as wat jy inkry. Dis die goue reël. Gee minder uit as wat jy inkry.
As jy ’n begroting het, het jy ’n plan en kan jy na hom toe terugverwys en aanpas soos jy aangaan. Onderskei met alles wat jy doen tussen behoeftes en begeertes. Paulus leer ons gierigheid is een van die grootste sondes.
Die vroulike intuïsie is goud werd, veral in terme van om iemand te vertrou of om iemand nie te vertrou nie. Moenie ’n “silent partner” wees in jou huis nie. Moenie op jou tande kners nie, hulle gaan stomp word. Praat gedurig oor julle finansies en geldsake.
Die vrou het ’n krag in haar wat genoeg is om ’n hele huishouding om te draai.
En sy het selfs genoeg krag om ’n land – soos waarin ons nou bly – totaal om te draai (Spreuke 31:10-31).