KARIEN BASSON het tydens die vroueoggend “Regte Vroue. Regte Geloof.” vroue aangemoedig om rustig te raak wanneer dit voel of hulle lewe uitmekaar val.
Beskou uitdagings vanuit ’n rustige en kalm perspektief
Sport was nog altyd ’n groot deel van my lewe en ek hardloop graag. Aan die begin en einde van ’n jaar hardloop ek en tel 12 klippies op. Ek pak dan hierdie 12 klippies neer en sê: Here, hierdie is my altaar vir die jaar.
Een klippie per maand. Ek plaas al my wense, al my begeertes en al die seer op daardie altaar. Dan sê ek: Here, U weet wat om te doen met hierdie gebeure. Mag U wil oor alles vir my hele lewe rule en reign.
Op ’n dag hardloop ek om ’n dam van so 3,5 kilometer, en terwyl ek hardloop, stop ek en gaan staan met daardie klein altaartjie voor my. Toe ek opkyk, sien ek in die dam is daar flaminke. Die flaminke staan doodstil met hulle kop wat af en op en af en op beweeg. In my hart en in my ore hoor ek die liedjie: Doem te doem … doem te doem … raak vir my rustig.
Ek soek die liedjie op, net om by Snotkop uit te kom. Ek dink: Here, U het ’n sin vir humor hierdie tyd van die oggend. My lewe is besig om uitmekaar te val en U gee vir my Snotkop se “Raak vir my rustig”.
Al wat ek hoor, is die Here wat vir my sê: Karien, raak vir My rustig. Hou op so druk en soek en trek en wil. Flamink net vir my. Hou daardie voëls dop. Hulle doen niks anders nie. Niemand verwag iets meer van hulle nie – hulle staan en hulle “flamink” net.
Vind rustigheid in die wete dat God jou raaksien
Ek hardloop verder met Snotkop se “Raak vir my rustig” en “flamink net gou vir My” in my kop. Sedertdien, en dit is nou al geruime tyd, wys Hy elke liewe dag vir my nog ’n flamink. Êrens. Iewers.
Ek praat met ’n vriendin op die telefoon en sy sê vir my: Jamie het pas vir my ’n geskenk gebring – dis kouse en daar is flaminke op. Ek staan en betaal en ’n meisietjie het ’n flamink op haar hempie. Ek kyk deur die advertensies en ewe skielik is daar ’n flamink op die TV. Met elke liewe ding sê die Here vir my: Karien, raak vir My rustig. Haal gou asem en flamink net gou vir My. Wees net gou-gou wie jy nou moet wees in hierdie hoofstuk van jou lewe.
Ek weet nie wat jou flaminkseisoen is nie, maar partykeer moet ons net ons monde snoer en regtig die Here vertrou. Ons moet luister na die woorde wat God ons gee. Vir ’n baie lang tyd was myne: Wees gou vir My rustig.
Jy raak nie passief nie, maar jy hou op soek en alles alewig wil regmaak. Glo my, dan raak Hy ’n God van verrassings. Ek verwag elke oggend ’n boodskap van Hom. Sedert dag by die dam verwag ek om Hom te sien. Elke liewe dag.
Dit klink vir jou dalk pateties om te dink: Karien, regtig? ’n Flamink?
Maar as ek dit sien, dan weet ek, God knows my name. Hy bevestig dit vir my elke liewe dag met iets soos ’n flamink.