Gewigsverlies is wonderlik, maar dan sit jy met los velle om jou arms en dalk hangerige borste. Eet reg, doen gepaste oefeninge en gebruik die regte versorgingsmiddels, en jy sal gou fermer arms en borste kry.
Die los vel is gewoonlik die gevolg van ouderdom, gewigstoename of gewigsverlies. Dit word veroorsaak deur ’n afname in spiermassa, bindweefsel en vetselle, en ’n verlies aan fermheid en vel-elastisiteit. ’n Gebrek aan oefening en verkeerde eetgewoontes vererger dit.
Vertroetel klein veranderinge aan jou liggaam en bly gesond
Maak vrede met die feit dat dit heeltemal normaal is om ’n bietjie meer molligheid om jou arms te hê. Een oplossing sou wees om dit te probeer wegsteek deur nooit weer vir mense te waai nie. Maar dan gaan hulle dink jy is net eenvoudig nors.
Gelukkig is daar ander maniere om die probleem op te los, deur jou dieet aan te pas en te oefen. Jy kan dit daagliks bietjie-bietjie aanpas, en hoef nie op een dag groot veranderinge aan te bring nie.
Daar is verskillende maklike tegnieke om spiertonus te herstel en van die vlerkies ontslae te raak, soos om te oefen terwyl jy in die verkeer wag. Vat die stuurwiel vas, druk na binne vir jou borsspiere en na buite vir jou boarms.
Boks is ook baie goeie oefening, maar maak eers seker jou man en kinders is nie in jou pad nie.
Dit help egter nie dat jy wonderlike triseps ontwikkel en hulle dan onder ’n lagie vet wegsteek nie.
Drink baie water en eet gesonde kos. Verminder veral jou inname van suiker en versadigde vette.
Verder moet jou vel glad wees en gloei van gesondheid. Gebruik twee of drie keer ’n week ’n lyfskrop om die dooie droë selletjies te verwyder.
Hoe moet jy jou borste en vel reg versorg?
’n Vogroom ryk aan omega-vetsure kan help om elastisiteit te herstel. Wend ’n sellulietroom of verfermingsroom aan om vet te verbrand en jou vel sterker te maak. Sien dit as ’n vertroetelsessie, wat jy verdien, en nie net nog ’n taak op jou to do-lysie nie.
Kosmetiese bestanddele soos vrugtesure help met afskilfering, terwyl groentee, granate, vitamien C en hawermoutproteïene jou vel voed en jonger laat lyk.
Die ander groot begeerte van seker alle vroue is perfekte, ferm borste. Dit is ’n gevoelige onderwerp waaroor min vroue openlik gesels. En ongelukkig eis swangerskap, ouderdom en gewigsverandering op die ou end ook hier hulle tol.
Jou bates lê bo-op jou borsspiere en bestaan hoofsaaklik uit vet- en bindweefsel en kliere. Jou vel is al wat hulle ophou en daarom is dit belangrik om dit gesond, sterk en soepel te hou.
Doen alles binne jou vermoë om hulle reg op te pas en te versorg.
Om nie ’n bra te dra nie, kan onherstelbare skade aanrig. Dit is belangrik om van jongs af ’n goeie bra, in die regte grootte, te dra wat ordentlik pas en voldoende ondersteuning bied.
So word daar minder druk op jou vel en rug geplaas. Dra ’n sportbra wanneer jy oefen.
Die regte oefeninge sal die regte resultate lewer
Oefeninge met gewigte of opstote kan help om die borskasspiere te versterk.
’n Ander tegniek is om jou handpalms teen mekaar te druk met jou elmboë horisontaal, parallel met die grond. Of gaan Google bietjie vir oefeninge wat by jou leefstyl pas.
Soos jou spiere saamtrek, sal jy voel hoe dinge begin oplig. Doen dit 25 keer per dag vir die beste resultate. Moenie ’n dag oorslaan nie, al voel jy nie gemotiveerd nie.
Staan op, trek aan en oefen! Die beweging sal sommer wondere vir jou gemoed ook doen.
Gewigsverlies lei tot minder vetweefsel. As jou vel droog en gerek is, gaan alles begin hang sonder die ekstra volume.
Wend gereeld en mildelik ’n omega-ryk vogroom, verfermingsjel of
-serum aan. Dit help om die elastisiteit te behou en verseker dat die vel makliker terugkeer na sy oorspronklike vorm en fermer lyk.
Gebruik verkieslik produkte wat spesifiek vir die delikate borsarea gemaak is. Hierdie area bevat minder oliekliere as byvoorbeeld jou gesig. Maar dit word net so dikwels blootgestel aan die son, wat aansienlike skade, veroudering en verlies aan elastisiteit veroorsaak.
Gereelde versorging sal jou ook help om gouer enige verandering te bespeur, want dit bied die ideale geleentheid om sommer gou ’n borsondersoek ook te doen. As jy tydens selfondersoek ’n knoppie opspoor, gaan dadelik dokter toe.
Soos hulle sê: aanwaarts en opwaarts!