Positief, vriendelik, plat op die aarde, borrelend van positiewe energie. Die sangeres LEAH is iemand wat ander ’n plekkie in die son gun en vra dat hulle dieselfde vir haar sal doen.
Vreugde. Dis so ’n gelaaide woord, maar eintlik is dit heel eenvoudig. Vir my beteken dit om vrede in en met my omstandighede te hê. Om te kan lag en gesels in my huwelik. Om te kan kuier en ontspan saam met my familie – mense wat almal met mekaar oor die weg kom. En om eg en openhartig te wees tussen ware vriende wat my hart werklik ken en daarvoor omgee.
Dit het my ’n ruk gevat om tevredenheid in my lewe te kan hê.
Ek was van altyd af ambisieus, ek wóú suksesvol wees. As ’n mens so daarna smag, is jy geneig om te wil hê almal moet van jou hou. Ek was ook al daar.
Loopbaangewys het ek eers ’n heel ander rigting ingeslaan: BCom Regte. Maar my kop het altyd vermaaklikheid toe gestaan. Kleintyd al was ek die meisietjie wat op die tafel klim en sing, met my twee boeties as die onwillige agtergronddansers en -sangers. Vyf sent om ons Kerskonsert te mag bywoon. En as Pa die videokamera te lank op my boetas rig, kom die neulstemmetjie: “Pappaaaaa, neem my nou af. Dis my beurt!”
Toe ek ná my studies uiteindelik – danksy my man (toe universiteitskêrel) se aanmoediging – die groot stap neem om ’n lewe in die sangbedryf te probeer uitkerf, het ek besef hoe ’n groot uitdaging dit was.
Om so groot skuif te maak, raak jou hele menswees. Dit het gevoel of ek in alle rigtings getrek word.
Dit maak ’n mens mal. Tot jy op ’n dag besef: Ek is wie ek is. As jy nie daarvan hou nie, is daar absoluut niks wat ek daaromtrent kan doen nie.
Op daardie dag vind jy vrede in jouself, en dan kan jy begin blom.
Sukses maak my gelukkig, maar dit verg baie geduld. As kind het ek eindeloos aan sangkompetisies deelgeneem.
My ma het die ure saam met my by winkelsentrums omgesit en wag vir my beurt. Dan wag jy so lank, sing uiteindelik, en wen steeds nie. Dit was van die grootste teleurstellings en grootste lesse in my lewe.
’n Mens wen wanneer dit jou tyd is, nie ’n oomblik vroeër nie. Dit dra alles daartoe by dat ek kinderlik gelukkig voel oor die lewe, dankbaar oor elke wonderwerk.
Die Here gee ook vir my vreugde. Hy is my dryfkrag. Ek bid baie – om dankie te sê vir die goeie dinge, maar om ook te praat oor my drome en oor die dinge wat ek nie verstaan nie. Daar is baie goed wat nie sin maak wanneer dit gebeur nie, maar later word die prentjie duideliker.
Vir my is die ware geheim van geluk om meer te doen van die dinge wat jou gelukkig maak, en minder van die dinge wat jou nie gelukkig maak nie.
Party mense kies ongelukkigheid, hulle wil die drama behou. Dis nie die moeite werd nie. Laat gaan dit net.
En die belangrikste: Doen ’n ding om die regte redes, anders gaan jy nooit tevrede wees nie.
As ek moes sing om famous te word, sou ek dit nie tot hier gemaak het nie. Geluk is ’n hartsding. Jou hart moet ten volle in iets wees, jy moet ’n passie daarvoor hê.
Dan kom die vreugde saam as ’n pasella.