Vriendinne moet aan mekaar se kant wees. Almal is mos uniek. Dis immers hoekom ons vriende is – om mekaar aan te vul, glo SUE PYLER.
Ek glo die lewe stuur mense na jou, vriendinne wat verskillende rolle in jou lewe vertolk.
Familie kan jy nie kies nie, maar vriendinne is daar omdat hulle daar moet wees en jy hulle daar wil hê.
Laat ons ook nou maar eerlik wees: Party dinge kan jy nét saam met vriendinne doen. Liefdesraad vra, kla oor goed wat by die werk gebeur het, skinder …
Vriendskappe kan ’n leeftyd duur, of net ’n seisoen
Familie wil dikwels té betrokke raak. Baiekeer wil ek net iemand hê wat luister, saamstem oor hoe verskriklik iets is. Om ’n hele bak roomys saam met ’n vriendin te verorber terwyl ek snot en trane huil, het ek nog nie gedoen nie, maar ek weet dat wanneer ek die dag wil, hulle beslis ewe lekker sal saameet.
’n Paar vriendinne is my keuse vir ’n kuier, maar ek kan ook die middelpunt van die geselskap wees, spontaan of onder aanmoediging van ander.
“Ag, Sue, vertel ons nou weer daardie storie …” hoor ek dikwels omdat ek stories taamlik dramaties kan oorvertel en ek daarvan hou om te vermaak.
’n Positiewe, borrelende energie is wat my na mense aantrek. Of dit nou van kollegas is, wat my wêreld verstaan en by wie ek nou en dan kan kla en skinder, of van “gewone” sout-van-die-aarde-mense.
Alhoewel ek nie so dikwels daar kom nie, voel dit vir my asof die inwoners van my tuisdorp ook die regte Sue ken. Ek het voor hulle grootgeword, voor ek “Sue van die radio” geword het.
Daar weet ek iemand is my vriend omdat hulle van mý hou en nie omdat ek bekend is en hulle iets uit my kan kry nie.
Uit beëindigde vriendskappe het ek geleer dat dit oukei is om nie vir altyd vriende te wees nie. Party mense is daar vir ’n leeftyd, ander vir ’n seisoen en dit is goed so.
Mense groei uitmekaar. Dis die natuurlike beloop van die lewe. Wanneer ’n vriendskap sy pad geloop het, moenie dit druk om aan te gaan nie.
Maar daar is die vriende wat altyd daar sal wees. Mense met wie ek sonder enige moeite dinge net weer kan optel asof daar geen tyd verloop het vandat ons mekaar laas gesien het nie.