Vrolik en bly in ‘n negatiewe wêreld

Vrolik en bly in ‘n negatiewe wêreld

Slegte nuus hoef nie jou dag om te krap nie. As gelowige kan jy innerlike vrede ervaar. Geloofsvroue help jou vrolik bly, ongeag van wat om jou gebeur.

Blydskap is ’n toestand van tevredenheid en vreugde

Negatiewe stories in die nuus en op sosiale media kan nie anders as om ons gedagtes en emosies te oorheers nie. Om die regte ingesteldheid te behou, voel soms soos om stroomop te swem.

Baie mense glo dat ons geluk afhang van dit wat rondom ons gebeur. Dis egter nie heeltemal ...

Slegte nuus hoef nie jou dag om te krap nie. As gelowige kan jy innerlike vrede ervaar. Geloofsvroue help jou vrolik bly, ongeag van wat om jou gebeur.

Blydskap is ’n toestand van tevredenheid en vreugde

Negatiewe stories in die nuus en op sosiale media kan nie anders as om ons gedagtes en emosies te oorheers nie. Om die regte ingesteldheid te behou, voel soms soos om stroomop te swem.

Baie mense glo dat ons geluk afhang van dit wat rondom ons gebeur. Dis egter nie heeltemal waar nie. Navorsing toon dat slegs ’n klein deeltjie van ons algehele geluk deur faktore buite onsself, soos geld of status, bepaal word.

Sonja Lyubomirsky skryf in haar boek The How of Happiness dat amper die helfte van ons geluk deur die lens waardeur ons kyk bepaal word.

Om positief te dink, is soos om spiere in die gimnasium te bou. Dit gebeur nie oornag nie, maar elke dag se oefening maak dit makliker om die “swaar” dinge op te tel.

Ons is geneig om raak te sien waarop ons fokus. As jy glo alles is ’n gemors, is dit wat jy sal raaksien. As jy glo die lewe is ’n geskenk, sal daar bewyse voor wees. Dit maak nie saak watter ramp daar is nie – daar is altyd helpers en mense wat ’n verskil maak.

Die belangrikste: Moenie aan hierdie wêreld dink as net op die verkeerde pad nie. Ja, slegte dinge gebeur, mense neem die verkeerde besluite en maak mekaar seer.

Maar daar is steeds soveel mooi dinge om raak te sien. Gee eerder aandag aan die klein groepies mense wat ’n groot verskil maak. Bring jou kant en maak self ’n verskil!

Geluk word as ’n toestand van tevredenheid en vreugde gedefinieer. Mark Twain het gesê geluk is goeie vriende, goeie boeke en om jou foute te vergeet.

Vir baie mense beteken geluk materiële voorspoed. Vir ander is dit ’n werk wat hulle geniet, iets waarvoor hulle kan hoop, en iemand om lief te hê.

Besef geen mens is elke oomblik gelukkig nie

Daar word verwag dat Christene altyd gelukkig moet wees, nooit moet kwaad word nie en nooit foute maak nie. Maar dis onrealisties. Dis soos om van ’n baba te verwag om nooit te huil nie!

Christene is gewone mense, nie perfekte wesens wat nooit woede, hartseer of pyn ken nie.

Die Bybel se idee van geluk lyk egter anders as wat Netflix uitbeeld. Dit verg uithouvermoë. Moed om te glo in wat ons nie kan sien nie. En om ongeag ernstige siekte, dood en ander traumatiese ervarings te glo dat ons nooit op ons eie is nie.

Ons kry wat ons nodig het om in geloof te groei en in ’n dieper verhouding met Hom te leef.

Dit is wat blywende geluk bring.

Geluk is dalk meer soos ’n vlinder. As jy dit jaag, bly dit net-net buite jou bereik. As jy nie daarop fokus nie, kom sit dit soms onverwags op jou skouer.

Daar is aspekte van die lewe wat ons nie kan ontvlug nie, al haat ons elke oomblik daarvan. Een só ’n aspek is trane.

Ons vermy dit eerder, want ons wil nie kwesbaar wees nie. Ons is bekommerd oor hoe ons gaan lyk en wat mense van ons gaan dink.

Niks wat ons doen, kan ons daarvan vrywaar nie – trane is deel van die lewe. Ons verloor dinge in hierdie lewe: jeug, heelheid, gesondheid, krag. ’n Verhouding se wittebrood gaan verby …

Ons word gekondisioneer om eerder te fokus op dinge wat vir ons lekker voel. Maar, weet jy wat? Niemand het dit net altyd lekker nie. Dit sien ons gereeld op die nuus.

Begin droom oor ’n toekoms met vreugdevolle vooruitsigte

Die pad na gesond word, begin wanneer jy die verlies kan erken. Erken die dood. Die ongeluk. Die verhouding wat eindig. Die verlies van ’n droom. Die besigheid wat misluk.

Voel dan die pyn van daardie verlies. Huil. Ween. Moenie probeer om te verstaan, te rasionaliseer of iemand vir jou omstandighede te blameer nie.

Aanvaar die seer en bly vertrou. Jy is nie alleen nie. Binnekort is dit weer jou beurt om te glimlag.

As kind wou jy dalk graag ’n spioen, ’n joernalis, ’n juffrou of ’n koningin word.

Nie een van jou planne of drome het moontlik waar geword nie. Jou paadjie het dalk in ’n heel ander rigting gekronkel.

Dit kan gebeur dat ’n mens nie kinders kan hê nie, ’n huis verloor of afskeid van dierbares moet neem. Jy kan vyande maak waar jy vriende verwag het. Jou hart kan honderde keer in stukke deur verskeie teleurstellings gebreek word.

Maar vriendskappe word op die mees onverwagse plekke gevind. Teenstand laat jou ’n krag ontdek wat jy nie geweet het binne-in jou is nie. Dit leer jou om hoop in donker tye te koester en om nooit op te gee nie.

Jy kan dus weer begin droom oor ’n toekoms met wonderlike vooruitsigte.

Onthou, jou hart wil in die kortste moontlike tyd van punt A na punt B kom. Eintlik gaan dit oor wié jy besig is om op hierdie reis te word. Die fokus is op ’n ander plek.

Maak eerder vrede daarmee dat die toekoms somtyds ander horisonne insluit waaroor jy nog nie gedroom het nie.

’n Ander pad is nie noodwendig ’n slegter pad nie. Vergeet die details, sien die groter prentjie!

Verander jou idee oor presies wat geluk is

As jy nou in jou toekomstige self sou kon belê, waaraan sou jy jou tyd en energie bestee?

Daar was onlangs ’n opname onder millenniërs waarin hulle gevra is wat hulle belangrikste lewensdoelwitte was.

Meer as 80 persent het gesê dat hulle graag ryk wou word. Nog 50 persent het aangedui dat hulle beroemd wou wees.

Na aanleiding van ’n omvangryke studie oor wat ’n mens gelukkig en gesond hou, is bevind dat verhoudings die deurslag gegee het.

Vir meer as 75 jaar is daar met die 724 respondente uit alle vlakke van die samelewing onderhoude gevoer en mediese toetse gedoen.

Die duidelikste boodskap wat ons uit hierdie studie kry, is dat goeie verhoudings ’n mens gelukkiger en gesonder maak.

Waarvoor sal jou 80-jarige self jou dus eendag bedank?

Dat jy nie so in werk vasgevang geraak het dat jy vergeet het om tyd en energie in verhoudings te belê nie. Nie so gestruikel het weens jou ingesteldheid op besit, dat jy vergeet het om lief te hê nie.

Fokus eerder op liefde en verhoudings en beleef oorvloedige geluk, ongeag negatiewe dinge.

Miskien is die rede waarom geluk sommige mense bly ontwyk dat hulle geluk verkeerd interpreteer.

Ons dink soms dat geld, bekendheid en sukses ons gelukkig sal maak, maar dit werk nie so nie. Geen wonder dat al hoe meer mense, wat juis baie van dié dinge besit, al hoe ongelukkiger raak nie.

Nie eens al die geld in die wêreld kan geluk koop nie. Geld, goed en beter omstandighede maak die lewe dalk meer gemaklik, maar dit bied nie ware vreugde nie.

Ons fokus deesdae hoe meer op ons eie gemak. Ons is die “selfie -generasie”. Ons dink dat wanneer ons gelukkig is en die lewe glad verloop, sal ons ware vervulling as geskenk kry.

Ware lewensvreugde lê in verhoudings opgesluit

Ons moet eerder beweeg van “ek” na “ons”. Ware lewensvreugde gaan jy nie op jou eie eilandjie vind nie, dit lê in verhoudings opgesluit.

Jou wêreld raak soveel groter wanneer jy minder op jouself fokus. Dit is bevrydend. Skielik is dit nie meer nodig om ander te beïndruk nie, want dit gaan nie meer oor jou nie!

Dalk dink jy daar is nie regtig iets om voor dankbaar te wees nie. Wees verseker, daar is iemand wat vandag nog met jou plekke sal wil ruil. Iemand wat in ’n baie slegter posisie is as jy!

Kenners sê dat geluk die meeste mense ontwyk. Dis eintlik maar ’n emosionele ervaring, ’n vlietende gevoel wat oor jou spoel.

Dis soos om sjokolade te eet of jou baba vir die eerste keer in jou arms te hou. Die gevoel van ekstase toe die Springbokke die Wêreldbekereindstryd wen.

Ware geluk is nie wat ons in sosiale media, in tydskrifte, of in elke dag se gesels met mense vind nie.

Ware geluk het iets te make met ’n lewe van liefde, met verhoudings en die gemeenskap waarbinne ek leef.

Liefde is nie net glansryk en mooi nie. Dis gekompliseerd en morsig. Daar is nie vinnige oplossings en maklike antwoorde wanneer dit by verhoudings kom nie.

Inteendeel, dis makliker om net vir jouself te leef en in beheer van jou eie lewe te wees. Jy spring baie verantwoordelikhede, moeite, tyd en ook natuurlik seer vry.

Ware geluk bestaan met ander woorde nie sonder swaarkry, gebroke harte, moeilike tye en seer nie. Inteendeel.

Kies ons dié pad na geluk mag ons dalk juis méér huil, maar ook méér lag. Dalk lewe ons dan werklik vir die eerste keer. Intens, doelbewus, met oorgawe en gevoel.

Deel die artikel

Méér artikels

Gee God beheer en kyk hoe jou lewe verander! Kenner LYNETTE BEER wil jou aanmoedig om te ontdek hoe vertroue op Hom kan lei na ...

Dis maklik om in swak gewoontes vas te val. Deur meer bewustelik te leef, ontdek jy wat jou motiveer én terughou sodat jy beter keuses ...

Scroll to Top