Grimeer jou oë reg, en lyk dadelik jeugdiger, veral in jou oogarea. Bly weg van oordadige, blink grimering en kies die regte produk vir jou ouderdom. Jy sal die mooiste, vonkelende oë in jou spieël sien.

Beklemtoon jou persoonlikheid met grimeertegnieke

Soos jy ouer word, verswak die toestand van jou vel, hare en lipkleur. Dit is dus meer nodig as ooit om die meeste van jou kykers wat bo die masker uitsteek, te maak. Dit verdien tydens jou gevorderde jare ekstra pamperlang en aandag.

As grimeerkunstenaar wat met alle soorte gesigvorms en persoonlikhede werk, weet ek elke vrou is op haar eie manier mooi. Dit maak nie saak of jy natuurlike of dramatiese grimering verkies nie.

Wanneer ’n vrou se uiterlike met haar innerlike in balans is, beklemtoon dit haar skoonheid selfs meer.

Deesdae is daar soveel grimeertruuks en -produkte wat ouer oë sommer gou jare jonger laat lyk:

„ Tint jou wimpers en wenkbroue om op te maak vir verlore kleur.

„ Vermy verbloemer onder jou oë en wend dit eerder aan die oog se binne- en buitehoeke en die buitekante van jou neus aan vir ’n varser voorkoms.

„ Moenie onnodig poeier gebruik nie. Poeier beklemtoon plooie en kan jou oë oud, tam en dof laat lyk.

„ Vermy oogskadu in dieselfde kleur as die kleur van jou oë.

„ Maskara wat jou wimpers verleng, kan die oog visueel lig.

Die regte kleur en soort produk is uiters belangrik

Net soos jy enig in jou soort is, so moet jou grimering ook by jou persoonlikheid pas.

Daar is niks mooier as ’n vrou met selfvertroue wat gemaklik met haarself, en haar voorkoms is nie. Met ouderdom geld die reël: Minder is meer. Minder kunsmatigheid en meer egtheid.

In 1 Petrus 3:3-4 staan daar: Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde.

Kies met behulp van die volgende raad die regte kleur oogskadu vir jou kykers.

„ Blou oë: Gebruik skakerings met ’n oranje ondertoon. Bruin, koper, karamel, goud en wynrooi is goeie keuses. Donkergroen en silwer laat blou oë nog helderder lyk.

„ Bruin oë: Amper enige kleurskakering kan bruin oë komplimenteer. Kies vlootblou en groen, en moenie wegskram van pers af nie.

„ Groen oë: Wees versigtig vir helderrooi of pienk oogskadu. Kies rooi-pers, wynrooi, rooibruin en brons skakerings. Dra gerus vlootblou omlyner eerder as swart, tensy jy in die aand ’n stelling wil maak.

„ Ligbruin oë: Ook bekend as hazel. Metaalskakerings, silwer-grys, donkerpers, goud en koper is baie goeie keuses.

Daar is só baie opsies om jou te verjong deur ooggrimering en eintlik baie min slaggate waaroor jy versigtig moet wees.

Bly weg van glinster- (glitter) oogskadu bokant die vou van die ooglid as jy reeds jou veertigste verjaarsdag gevier het. Vermy ook wit as’n kleurkeuse en los die blink kleure vir die jonges.

Grimering maak eeue lank vroue mooi

Hier is ’n paar interessante brokkies oor die geskiedenis van ooggrimering.

„ Die eerste aantekening van die gebruik van oogskadu is reeds so vroeg as twaalfduisend jaar gelede gemaak. Dit was alles te danke aan die Egiptenare.

„ Die Antieke Egiptenare het ook grimering aangewend as’n geloofsritueel om die gode te eer. Oogskadu is in die Antieke tye van fyngemaakte edelgesteentes gemaak.

„ Daar word beweer Cleopatra, die beroemde en legendariese heerser van Egipte, het kohl gemeng met dierevet, lood en gebrande amandels as oogomlyner gebruik. Daar is geglo dit het oë teen die fel aanslae van die son en siektes beskerm.

„ In Japan het vroue ’n kombinasie van verfynde rys, blomme en voëlmis as oogskadu gebruik.

Spreuke 31:30 lig die belangrikste van ’n vrou se skoonheid mooi uit: Uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om geprys te word.

Dit beteken nie jy mag glad nie grimering aanwend nie, wees net steeds bewus van wat regtig belangrik is.

Wees dankbaar oogskaduwee is deesdae op elke winkelrak vir jou beskikbaar. Kies reg, wend reg aan en wees verstom oor die resultaat op die vensters – en die innerlike mure – van jou siel.