My ma het graag gesê, ’n “te” voor enigiets is nie ’n goeie ding nie, behalwe wanneer dit “te-”vrede is. En my ma was selde verkeerd …
Meer grimering is nie altyd die antwoord nie
Net nog ’n bietjie meer onderlaag, dit laat dan my vel so gloeiend vertoon. Dan kan ek verseker maar nog blosser aansit, ek wil nie te bleek lyk nie. Nou kort my oë net nog ’n bietjie blou. En dan natuurlik nog meer en meer maskara!
“Dis nou genoeg,” sou my man gereeld opmerk wanneer ek my grimering aansit. “Het jy regtig so baie nodig?” Maar wat weet mans nou van ons vroue se skoonheidsgeheime en roetine!
So dink baie vroue, en glo dit al vir jare. Ons maak die fout, en voel selfs sterk hieroor, om te dink hoe meer grimering ons dra, hoe mooier gaan ons lyk.
Natuurlik bestaan die teenoorgestelde ook. Daar is vroue wat weer niks van grimering hou nie. “Ek het nie tyd om op mooimaak te mors nie. Ek het nie die geld vir grimering nie. Ek weet nie hoe om dit aan te wend nie.”
Jy kán op jou heel beste voel
Gelukkig kom wysheid saam met die ouderdom. Jy kán grimering gebruik om jou natuurlike skoonheid uit te lig en jou op jou heel beste laat voel. Ons skoner geslag hou tog maar daarvan om mooi te maak, hetsy jou huis of tuin. Ons trek mooi aan en kleur ons gesigte in.
Daar is ongelooflik baie grimeerprodukte op die mark, met kort-kort nuwe modestyle en kleure. Honderde tegnieke van aanwending, maniere van kontoere op jou gesig maak om jou wange slanker te laat vertoon.
En ook hoe om daardie perfekte smoky eyes-voorkoms te kry.
Dit is alles wonderlik en opwindend. Maar hoe, waar en hoeveel? Wat is die geheime om “te” te vermy en eerder tevrede te wees met jou grimering? Kennis is, mag. Meer is nie noodwendig beter nie. Po in Kung Fu Panda was reg: “Inner peace is noodsaaklik”.
Grimering moet jou mooi net mooier maak
Ons volg graag kookkursusse, leer hekel, kry opleidings vir alles en nog wat. Hoekom dan nie leer hoe om jou grimering reg aan te wend nie? Daar is verskeie demonstrasie-video’s op die Internet en skoonheidsartikels in tydskrifte hieroor.
Gaan vir persoonlike grimeerklasse. Woon grimeerwerksessies by en oefen, oefen, oefen … Net soos wat jy sou oefen om die perfekte sjokoladekoek te bak, kan jy oefen om jou grimering mooi aan te wend. Moenie bang wees om te eksperimenteer nie.
Hoe ouer ek word, hoe minder het my grimering geword, of dalk het ek net luier geword … In plaas van ’n onderlaag, gebruik ’n BB-room (blemish balm) of ’n gekleurde dagroom. Gebruik dan net ’n ekstra verbloemstiffie op merkies.
Bly weg van poeier af. Dit gaan lê in elke kreukeltjie en voutjie en gaan jou vir seker ouer laat lyk. Los maar die glitter vir die jonges en verkieslik vir die aand. Ons moet onthou, ons moet grimering gebruik om ons mooi eienskappe te komplimenteer, nie te aksentueer nie.
Jy hoef nie soos enige iemand daarbuite te lyk of te wees nie.
Vergeet van perfek wees, jy is genoeg. Daar sal altyd iemand wees wat mooier, ryker of maerder is as jy. Fokus op jouself. Jy moet vra, wat kan ek doen sodat ek vir myself mooi kan wees, nie vir iemand anders nie.
Onthou, dit gaan oor jou, jy moet gelukkig wees binne jouself.
Wees lief vir jouself, gebruik die hulpbronne tot jou beskikking en maak innerlik vrede met jouself. Skoonheid kom van binne en straal na buite.