Elkeen van ons het ’n unieke stylstorie, ’n onuitgesproke boodskap. Dit wat jy aan die wêreld verklap sonder dat jy ’n woord sê.
Jou styl moet die ware jy weerspieël
Mense vind makliker aanklank by jou wanneer jou stylstorie ’n akkurate weerspieëling van die ware jy is. Dan beleef hulle jou as outentiek en eg. Dit is jou persoonlike handelsmerk en skep vertroue by mense. Dit gee ons ook hope selfvertroue, want ons is eg aan onsself.
Die teendeel is egter ook waar. Wanneer jou stylstorie nie ’n akkurate weerspieëling van die ware jy is nie, ervaar mense om jou die onenigheid. Hulle sukkel om hulle met jou te vereenselwig. Dit skep dikwels ’n tikke wantroue sonder dat hulle weet waarom.
Jou stylstorie word gevorm wanneer jou persoonlikheid, waardes, geaardheid en kleurpallet bymekaarkom. Dis soos ’n skildery waar die medium, tegniek, doek en raam mekaar die beste komplimenteer.
Wanneer hierdie faktore in harmonie is, voel ons gemaklik in ons eie vel. Dit gebeur egter dikwels dat ons te besig raak met al ons lewenstake. Tussen ons lewensmaats, kinders, werk en soveel ander goed, skeep ons die belangrike belegging in onsself af.
So ’n belegging hoef nie noodwendig geld te kos nie. Dit kan tyd wees wat jy aan jouself by die huis bestee. Vir velsorg, kan jy byvoorbeeld vir jou maskers in jou kombuis optower. Jy kan dalk jou toonnaels met ’n nuwe helder kleur verf of ’n bietjie grimering aansit.
Die waarde van rooi lippe
Studies het bewys dat vroue wat grimering dra, vier keer vinniger in die werksplek bevorder word of verhogings ontvang. ’n Professionele grimeervoorkoms hoef nie oordadig te wees nie. Dit moet net jou beste bates, soos mooi oë of hoë wangbene, beklemtoon.
In die geskiedenis van lipstiffies is daar gevind dat die meeste rooi lipstiffies tydens die Tweede Wêreldoorlog verkoop is. Dit is duidelik dat vroue oor die wêreld heen die waarde van rooi lippe besef het. Hoe dit jou ’n emosionele hupstoot kan gee.
As jy dalk ’n bietjie vaal voel, is daar baie praktiese maniere om jou selfvertroue ’n vinnige hupstoot te gee. Kyk na jou totale voorkoms – dit sluit jou hare, grimering en klere in. Die een kan nie sonder die ander nie.
Niks laat ’n mens vinniger verwaarloos voel soos vuil of onversorgde hare nie. Al het jy min tyd, kan iets soos ’n droë sjampoe en ’n pluiskam wondere vir ’n pap kapsel verrig.
Bou jou selfvertroue met kleur
In net ’n paar vinnige stappe, kan jou grimeervoorkoms voldoende wees om versorg te lyk en voel. Die sluit onderlaag, ’n mooi wenkbrouvorm, maskara, blosser en lipkleur in. Ander items wat jou selfvertroue dadelik ’n hupstoot kan gee, is hakskoene.
Die hoef nie stilettos te wees nie. Selfs net ’n effense hak kan jou postuur verander. Plat skoene kan ’n mens vinnig verwaarloos laat lyk en voel. Hoe hoër jou hakke, hoe hoër jou selfvertroue.
Nog ’n item wat ’n moeilike situasies kan red, is ’n baadjie. ’n Baadjie gee onmiddellik outoriteit. Die geheim is, hoe meer kurwes jy het, hoe sagter moet die baadjie se lap wees. Hoe minder kurwes jy weer het, hoe stywer kan die lap wees.
Kleur speel ook ’n belangrike rol in die bou van selfvertroue. Swart kan ’n mens byvoorbeeld aan dood, depressie en hartseer laat dink. Blou is weer kalmerend en rustig. Dit geld ook wanneer jy aantrek. Kies liewer helder kleure, soos geel en rooi, as jy die dag bietjie af voel.
Jy is die skilder van jou eie skildery en jy is ’n meesterstuk. Mag jou lewe die mooiste kleure verf.