Jy kan jou doelwitte in die lewe bereik as jy die regte metodes volg, was leierskapafrigter DR. GUSTAV GOUS se raad tydens die EkwilEkkanEksal-funksie.
Jy moet net nooit moed opgee nie
Jy moet jou pad in hierdie lewe vind. Jy moet iets van jou lewe maak.
Baie mense verloor hulleself langs die pad. Jy probeer die liefdespel speel en is ontvanklik, maar dan kry jy seer en sê: Ek gaan nie weer probeer nie.
Jy beur vorentoe en probeer geld maak, maar dit is ook nie so maklik nie. Jy maak partykeer wel geld, maar voordat jy jou kan kry, kla jy weer jy het nie geld nie. In daardie stadium sê jy: Ek is óók nie so suksesvol in die finansiële spel nie.
Ons begin met absolute verwondering oor die lewe, maar word gou ontnugter. Jy kry nie jou pad nie. Soms verloor jy jou geloof dat jy wel kan uitkom waar jy graag wil wees. Diep binne twyfel jy. Jy is jou koers kwyt.
Ek weet nie waar ek jou vandag ontmoet nie. Miskien is jy nog opgewonde. Miskien ontmoet ek jou waar jy steeds doelstellings najaag. Miskien ervaar jy al ’n mate van ontnugtering. Miskien is jy stukkend.
Miskien is jy op ’n plek waar jy glad nie wil wees nie. Jy voel hoe jy sink en het, om die waarheid te sê, geen hoop hoe om by iets beters uit te kom en hoe om iets van jou lewe te maak nie.
As ’n mens op daardie punt kom, wil ek vir jou sê: Moet nooit moed opgee nie.
Weet wat binne of buite jou beheer is
Wat kan ’n mens doen om nie moed op te gee nie? Wat maak ’n mens met onbereikte doelwitte?
Die eerste ding wat jy moet uitklaar, is: Wat is binne my beheer? Wat binne jou beheer is, is nie wat met jou gebeur nie, dit is hoe jy reageer op dit wat met jou gebeur.
Staar die realiteit in die oë. Daar is ’n baie groot speelveld van dinge wat binne jou beheer is. Weet wat kan, wat nie kan nie en wat anders kan wees.
As jy op hierdie punt kom, sal jy besef jy kan op ’n ander manier na dinge kyk en doen.
As ek byvoorbeeld ’n persoon is wat nie ’n maat het nie, kan ek van my enkellewe ’n reuse-sukses maak. Ek was lank alleen en het nooit geweet of ek ’n goeie vrou gaan kry nie. Deur die genade het ek. Terwyl jy enkellopend is, geniet dit.
’n Egpaar wat nie kinders het nie, kan reis. As man en vrou kan hulle die wêreld sien. Ek geniet my kinders, maar om kinderloos te wees, bied weer ander geleenthede.
Daar is in elke situasie vir jou geleenthede wat ander mense nie het nie. Jy moet jou oë oopmaak om dit te kan sien.
Volg die PPP- (prentjie, plan, proses) beginsel
Jy kan uitkom waar jy wil wees as jy die regte proses en die regte metode volg. Dit gaan oor ’n prentjie, ’n plan en ’n proses.
As jy jou prentjie verloor het, kry vir jouself weer ’n prentjie van waar jy jou bevind en waar jy wil wees. Kry ’n nuwe prentjie oor jouself, jou werk sodat jy aan jou lewensdoel kan werk.
Baie mense het ’n prentjie, maar hulle is dromers. Hulle is nie planmakers nie.
Ek het ’n waardering vir ’n man en ’n vrou met ’n plan. ’n Persoon met ’n prentjie is ’n persoon wat geaktiveer word. Daar is niks so doeltreffend soos ’n man met ’n plan nie. Daar is niks so gevaarlik soos ’n vrou met ’n plan nie.
Stel vir jou ’n realistiese en bereikbare plan op. Moenie die onmoontlike probeer doen nie. Doelwitte moet spesifiek, realisties en tasbaar wees.
Jy kan egter al daardie doelwitte hê, en al die drome hê, maar dit nie navolg nie. Jy het nog net ’n konsep en dit nog nie gerealiseer nie. Dit is waar jy dan by die proses moet uitkom.
Die fout wat ons maak, is om nie vir hulp te vra nie. Gaan praat met mense wat weet. Roep ’n konsultant in. Kry ’n afrigter. Kry iemand wat jou help.
Kry vir jou ’n nuwe prentjie, maak ’n nuwe plan en bring dit tot uitvoer.