Die luiaard gaan vang nie eens wild om te braai nie; ’n hardwerkende mens versamel kosbare besittings.
(Spreuke 12:27)
Dit is glad nie goed om so op die negatiewe te fokus dat dit jou uiteindelik self negatief beïnvloed nie. Tog moet ’n mens ook jou eie waarheid in die oë kan kyk, eerlik wees oor jou foute en dan die bul by die horings pak om van jou nonsens ontslae te raak.
Een stuk slegtigheid wat homself goed kan verskuil, is luiheid … of noem dit “versuim”.
Uitstel wat afstel word. Nog ’n rukkie by die televisie sit, wat maak dat ek nie die dringende brief geskryf kry nie. Of nog ’n bietjie langer lê in die oggend, en ek kom net nie by ’n gereelde oefenprogram uit nie.
Versuim vreet aan ’n mens se selfwaarde en innerlike vrede. Uiteindelik voel jy so skuldig dat jou gesprek met ons Vader, Jesus en Heilige Gees ook sommer in die slag bly. ’n Mens raak geïrriteerd en dit wys beslis! Uiteindelik werk niks meer uit nie, alles word net slegter.
Die enigste manier om hierdie spiraal te breek is om doelwitte te stel vir ’n maand, ’n week en ’n dag. Wees realisties en handel af wat jy jou voorneem om te doen.
Bid vir wysheid, inspraak en leiding. Fokus. Staan op en doen dit. Onthou ook Andrew Murray se wyse woorde: Hoe meer hy het om in ’n dag gedoen te kry, hoe meer tyd moes hy daardie dag in gebed deurbring. Maak jou draaipunt op jou knieë!
Mag jou lewe so in balans kom dat dit wat in jou ingebou word, ewewig vind in dit wat jy uitgee. Dan sal jy elke dag gedoen kry wat ons Vader vir jou bedoel om te doen.