Bou ’n sterk netwerk en bereik vinniger loopbaan sukses deur waardevolle verhoudings en wedersydse ondersteuning, sê RHONA ERASMUS.

Kennis, ondervinding en werksetiek is nie al wat jy nodig het om suksesvol te wees nie. Bou vir jou ’n dinamiese netwerk van mense op om vinniger na die volgende vlak in jou loopbaan te beweeg.

Daar is ’n sê-ding, “dis nie wat jy weet nie, maar wie jy ken”. Die “mense wat jy ken” is die netwerk van mense wat jy rondom jou opbou. Net soos jy in jou persoonlike lewe ’n tribe nodig het, het jy in jou professionele lewe ’n netwerk nodig.

Jou kennis, ondervinding en werksetiek sal jou ongelukkig net so ver bring. Hoe vinnig en óf jy na die volgende vlak in jou loopbaan beweeg, sal baie afhang van die mense waarmee jy jou omring.

Jou tribe is nie staties nie en verander in die verskillende fases van jou lewe. Net so moet jou netwerk ook dinamies wees.

Daar is ’n paar onuitgesproke reëls wanneer dit by ’n netwerk kom. Hierdie verhoudings moet in alle gevalle vir albei partye werk. Jou netwerk is allermins nie ’n groep mense wat jy vir eie gewin kan misbruik nie. Jy sal net soveel uitkry soos wat jy insit.

Daar heers ook ’n wedersydse gevoel van “as ek boontoe gaan, vat ek jou saam” wanneer dit by die individue in jou netwerk kom.

’n Netwerk is beslis nie álles nie, maar ’n wen-netwerk kan in baie gevalle ’n meer direkte pad tot volhoubare sukses wees.