Vroue is geseën met hope energie en unieke vaardighede. Die geheim tot sukses lê in ons vermoë om te weet hoe om dit te gebruik en hoe om dit tot ons voordeel aan te wend. 

Jou teenwoordigheid kan ander laat beter voel 

As ’n mamma vir ’n rukkie nie by die huis is nie, begin dinge gou-gou nie meer reg voel nie. Vroue se teenwoordigheid het ’n enorme impak op die omgewing waarin hulle hulle bevind. Óf dit nou by die huis, óf by die werksplek is. Ons maak ’n groot verskil.

Dit gebeur soms dat mammas weg moet gaan van die huis en van die kinders af. Dalk vir ’n bietjie alleentyd saam met pappa, of dalk vir werk.

Alles word gereël. Oupa en ouma kom by die kinders bly om hulle op te pas. Die medisynetas word nagegaan en kosblikke word vooruit gepak.

Lysies en lysies word gemaak, belangrike datums word in rooi pen gemerk. Alles moontlik word gedoen sodat daar geen pap op die grond val of iemand by die skool vergeet word nie.

Die eerste paar dae nadat mamma en pappa weg is, is gewoonlik vir die kinders een groot joligheid. Die tyd saam met oupa en ouma is te lekker vir woorde.

Maar soos die tyd aanstap, begin ’n mens met elke video-oproep agterkom dat die entoesiasme besig is om te verflou. Al geniet hulle steeds die tyd baie saam met hulle grootouers, is alles nie meer 100% pluis nie. Mamma se teenwoordigheid word veral gemis.

Dit laat ’n mens opnuut besef dat vroue se teenwoordigheid werklik die potensiaal het om die mense in jou direkte omgewing beter kan laat voel.

Ons daarwees het ’n groot impak op ons gesinne en die mense rondom ons – goed of sleg.

Gebruik die superkragte waarmee jy geseën is 

Dit laat ’n mens ’n bietjie dink … As ons blote teenwoordigheid dan so ’n groot verskil kan maak, is dit mos iets wat ons ook sinvol in die werksplek kan aanwend!

Ons word gebombardeer met manlike energie wat meestal in werksplekke heers. Ons vergeet dan maklik van ons eie superkragte en die hope vroulike energie waarmee ons geseën is.

Mans behaal ongelooflike suksesse wanneer hulle vanuit hulle eie manlike energie take aanpak. Maar net so is ons vroue ook unstoppable soos Beyonce ons tereg in haar lirieke aanmoedig.

Ons het hierdie wonderlike vroulike energie wat ons kan gebruik. Hoekom dan onsself probeer verander en dinge op ’n manier probeer doen wat nie ooreenstem met dít waarmee ons geseën is nie?

Vroulike energie gaan baie selde oor wát jy doen. Dit wat jy studeer het of hoe intelligent jy dalk mag wees, het ook maar nie veel daarmee te doen nie.

Vroulike energie en die verskil wat dit maak, het wel alles te doen met hóé jy iets doen. Hoe laat jy mense voel as jy dinge aanspreek op jou sagte en intuïtiewe manier, wat natuurlik vir jou kom.

Moenie ander se “energie” probeer naboots nie, jy het heeltemal genoeg van jou eie vroulike energie.

Leer hoe om jou vroulike energie doeltreffend te gebruik

Vroue mag en moet selfversekerd en sterk wees! Ons het die vermoë om op dieselfde tyd sterk en sag te kan wees. Dit is immers een van ons grootste superkragte. En dit is ook een waaroor ons manlike kollegas nie beskik nie.

Ons moet goeie en direkte kommunikeerders wees wanneer ons met mense omgaan. Goeie kommunikasie is in enige werksopset bitter noodsaaklik. Dit is ook ’n eienskap wat vroue onvervangbaar in die werksplek maak.

As ons dan geseën is met al hierdie wonderlike vroulike vermoëns, eienskappe wat uniek is aan ons, hoekom gebruik ons dit nie tot ons voordeel nie? Ons sukses hang daarvan af hoe ons ons vroulike energie gebruik … hoe ons dit aanwend.

Ons moet ons vermoë ontwikkel om ons vroulike energie doeltreffend te gebruik. Ons moet leer om vanuit ’n plek en die manier waarop ons geskape is te begin leef en werk. Só sal ons nie anders kan as om ’n impak te maak waar ons ook al gaan nie.

Doen jou bes om die mense by jou huis en jou werksplek beter te los as wat jy hulle gevind het. Gebruik jou vroulike superkragte tot eer en verheerliking van die Een wat jou daarmee geseën het.