Jong meisies word verkeerdelik groot met die idee dat as jy ander vroue se sukses vier, jy jouself van iets ontneem. Gun mekaar ’n plekkie in die son.
Vier ander se sukses, dit ontneem jou van niks
Jy hou jou vroulike kollega dop terwyl sy die leer van sukses klim. Jy bly egter handjies gevou staan. Hoekom moet jy haar help om makliker bo uit te kom? Dit is elkeen vir homself in die besigheidswêreld, anders word jy mos van jou sukses ontneem.
“Your circle should want to see you win. Your circle should clap loudly when you have good news. If not – find a new circle.”
Facebook herinner ’n mens gereeld aan aanhalings wat jy ’n paar jaar gelede op jou blad geplaas het. Die meeste van die tyd is aanhalings soos hierdie steeds relevant sodat jy dit weer met jou vriende op sosiale media kan deel.
Die hoeveelheid kommentaar wat daar is op ’n plasing, soos hierdie aanhaling, dien as ’n bewys dat dit inderdaad steeds relevant is.
Hoekom glo mense as ek iemand anders se oorwinnings vier, ek myself van iets ontneem?
Daar is baie, veral vroue, wat werklik aanhou om hiermee sukkel. Dit is so moeilik om te verstaan waarom!
Daar is sekerlik uiteenlopende menings oor die aanhaling wat ek hierbo gedeel het. Die feit dat soveel volwasse vroue steeds hiermee sukkel, moet tog wys dat ons iewers die punt heeltemal mis.
Gesels met enige ma van ’n tienerdogter en sy sal saamstem dat meisies soms baie katterig met mekaar kan wees. Heelwat van hierdie mammas sal skokkende stories kan deel oor hoe hulle dogters al onder boelies deurgeloop het, of dit nou emosioneel of fisiek was.
Hoe is dit moontlik dat ons hiermee sukkel? Verstaan ons dan die rol wat vroue in mekaar se lewe behoort te speel heeltemal verkeerd?
Jy mag dalk dink jy is heeltemal onskuldig, en hierdie is om ’n berg van ’n molshoop te maak. Maar gaan kyk ’n bietjie om jou rond. Doen ’n bietjie introspeksie.
Jy sal vind dat dit so duidelik soos daglig is dat die negatiewe effek wat vroue op mekaar het, absolute verwoesting kan saai.
Moedig mekaar aan om meer suksesvol te wees
Die positiewe impak van vroue wat mekaar ondersteun en aanmoedig, kan ’n massiewe rimpel-effek veroorsaak.
Die werksplek sal ’n baie meer aangename plek wees wanneer vroue begin om mekaar onvoorwaardelik te ondersteun. Dit sal ’n baie meer dinamiese en genotvolle omgewing tot gevolg hê.
So ja, jy mag dalk voel hierdie is ’n onderwerp waaraan jy nie skuldig is nie. Jy staan tog glad nie in die pad van ander vroue se sukses nie. Maar ondersteun ons mekaar werklik? En nog meer, moedig ons mekaar selfs aan tot hoër hoogtes … tot groter sukses in die werksplek?
Hoe lyk dit prakties wanneer vroue mekaar in die werksplek ondersteun en aanmoedig?
As jy al die leer van sukses geklim het, deel jou gewaarwordings met vroue wat in jou voetspore wil volg.
Jy moes waarskynlik oor ’n klomp hekkies kom om te wees waar jy vandag is. Maar wat ’n voorreg is dit nie dat jy dit dalk makliker kan maak vir iemand anders nie?
Haal die “werk” uit “netwerk” uit. Om te netwerk en ander vroue te ontmoet wat ook in jou bedryf is, moet lekker en vervullend wees.
Dit is nodig om ’n sterk netwerk rondom jou op te bou. Maak seker dat jy verhoudings bou waar dit nodig is. Mense doen besigheid met ander mense, nie met ’n maatskappy nie.
Bou ander vroue op! As jy sien dat jou kollega goeie werk doen, gee hulle krediet daarvoor. Vertel vir jou baas of ander kollegas daarvan.
Dit mag dalk voel asof jy die aandag van jouself af wegvat, maar jy wys eintlik dat jy ’n ondersteunende spanspeler is. Dat jy as ’n inspirerende leier veilig genoeg binne jouself voel om ander te prys.
’n Vrou kan op haar eie sterk wees en selfs ’n posisie van mag beklee. Dit is egter wanneer ons bymekaar kom wat ons werklik ’n impak kan maak.