Ons moet ons drome met ons dade ondersteun. Solank ons nie onsself op die realiteit van geleenthede voorberei nie, sal sukses ons bly ontwyk. 

Jou dade moet jou drome kan ondersteun 

Dit mag dalk vir ons lyk of geleenthede sommer net so in ander mense se skoot val. Die feit is dat geleenthede op die een of ander tyd aan ons almal se deur kom klop. Die verskil is net, dat ’n mens nie altyd gereed en voorbereid daarop is nie.

Soms moet ’n mens iets ’n paar keer lees voordat dit regtig ’n impak maak. Dit gebeur gereeld dat dit skielik op ’n dag voel asof jy dit wat jy gelees het, vir die eerste keer hoor.

Hierdie aanhaling deur Henry Hartman is een van daardie aanhalings. Nadat jy dit ’n paar keer aandagtig gelees het, maak dit iets binne jou wakker.

“Sukses sal altyd volg wanneer voorbereiding en geleentheid ontmoet.” Wat ’n ongelooflike eenvoudige, maar kragtige sinnetjie!

Daar is soveel mense wat wag vir die dag wanneer die perfekte geleentheid sommer net in hulle skoot gaan val. Hulle leef egter geensins asof daardie dag ooit ’n realiteit sal word nie.

Toe ons klein was, het my broer het altyd iets gesê wat ons nou nog amusant vind, en oor skerts. Hy was ’n baie talentvolle atleet, maar soos die meeste kinders by tye maar ’n bietjie lui om te oefen.

Hy het graag op die bank gelê en na die Olimpiese Spele op televisie gekyk. Dan het hy gesê dat hy ook nog eendag daar gaan deelneem.

Sy aksies het egter nie in daardie stadium sy droom ondersteun nie. Dit is die ironie van so baie van ons drome.

Wanneer die geleentheid van jou drome aan jou deur klop, is dit te laat om dan eers te wil voorberei. Wanneer dit gebeur, moet jy reeds gereed wees.

Die mooi van om voor te berei vir ’n geleentheid is dat ons hele wese in lyn is met daardie droom. Op so ’n manier skep ons eintlik vir onsself die geleentheid.

Berei jouself voor en skep jou eie geleenthede 

Hoe berei ’n mens prakties voor om geleenthede vir jouself te skep? Begin deur te herevalueer. Dit is belangrik om elke nou en dan die pause-knoppie te druk. Kyk wat op die oomblik besig is om in en rondom jou te gebeur.

Op grond hiervan kan ’n mens dan positiewe veranderinge aanbring. John Dewey sê dit so perfek: “Ons leer nie úít ondervinding nie, ons leer wanneer ons dínk oor dít wat ons ondervind.”

Wees ingelig oor nuwe verwikkelinge in jou veld. Gaan kyk wat is die nuutste neigings en die geleenthede wat daar tans is.

Lees en luister nasionale, maar ook internasionale nuus. Teken in op nuusbriewe en tydskrifte. Doen navorsing en praat met mense wat dieselfde werk as jy doen.

En onthou, wanneer jy voorbereiding vir jou geleentheid doen, is inligting jou waardevolste kommoditeit.

Skryf, oefen en verbeter deurgaans jou elevator pitch. Dit is ’n kort, oortuigende gesprek waarin jy jou kundigheid en vaardigheid vinnig en doeltreffend met mense deel wat jou nie ken nie.

Dit moet uniek en relevant en amper soos ’n oorlogskreet wees wat jy op enige gegewe tydstip kan uithaal.

Begin nou al om vir jou ’n platform te bou. Skryf blogs en deel waardevolle inligting op sosiale media.

Leer om ’n konneksie met ’n gehoor te maak, al is dit aanvanklik net jou ouma en jou ma wat daarna luister.

Fokus daarop om verhoudings te bou. Kultiveer, verbeter en versterk verhoudings én bou ook nuwes.

Ons weet almal dat wíé jy ken ’n baie belangrike rol kan speel in die geleenthede wat na jou kant toe kom. Onthou egter dat dit jou geensins gaan baat om só vinniger ’n geleentheid te kry terwyl jy nie voorbereid daarop is nie.

Wees altyd op die uitkyk en gereed. Hou jou oë en ore oop. Hou jou brein aan die gang deur te leer, studeer en te lees. Maak dit ’n gewoonte.

En die belangrikste ding om nie te vergeet nie: Sukses sal altyd volg wanneer voorbereiding en geleentheid ontmoet.