TRACEY LANGE se lag, passie en energie is aansteeklik. Dié gewilde radio-omroeper en TV-aanbieder is dalk ’n introvert, maar blom beslis waar sy geplant is.
Skool was nie ’n lekker plek nie. Eintlik vreemd, want ek is mal oor reëls. Trek die lyne, en ek sal nou nog baie mooi binne die strukture inkleur.
Niks sleg het gebeur nie. Inteendeel, ek was eintlik ’n witbroodjie, maar daar was altyd ’n onderliggende vrees dat ’n mens in die moeilikheid kan kom, sou jy iets verkeerds doen of sê.
Die gesukkel met ekseem, veral op my bene, was ook ’n groot struikelblok. Ek was skaam oor hoe dit gelyk het. Die rooi, skurwe vel … en die letsels wat dit later agtergelaat het. Snaaks, in my kop was dit so ’n groot “issue”. Vandag is dit asof niemand dit eens raaksien nie.
Wys jou net. Alles gaan oor perspektief en ingesteldheid. Die lewe is wat mens daarvan maak.
My lewe in die vermaakbedryf het sy op en af. Die lang ure en harde werk om jou handelsmerk te laat groei, beteken dat familiedae en kuiers saam met vriende soms misgeloop word. Gelukkig is ons werkspan soos een groot familie. Daar is altyd humor en hope ondersteuning.
Iets wat verbasend en eintlik hartseer is, is hoe my diversiteit in my loopbaan soms teen my kan tel. Dit maak nie saak hoeveel werk ingesit word nie, dit voel altyd of ’n mens tien keer harder moet werk as ander in die bedryf – veral as vrou.
Die onregverdigheid maak my moeg.
Ek is grootgemaak in ’n huis waar kleur glad nie ’n faktor was nie. My ouers het dit nie toegelaat nie. Daar was nooit ’n ding gemaak van hoe velkleur deure kan laat oop- of toeswaai nie. Die fokus was op harde werk, goeie waardes en integriteit.
Dis hoekom dit vandag verstommend is om te hoor dat ek partymaal nie Afrikaans genoeg is, Engels genoeg is, wit of swart genoeg is, of selfs bruin genoeg is nie!
Die feit dat ek verskeidenheid na die tafel bring, word skoon misgekyk.
Maar dit pla nie meer nie, want ek weet: Doen wat goed en reg is, met ’n positiewe gesindheid, en jy sal die vrugte pluk.
Die krag van dankbaarheid moet ook nie onderskat word nie.
Dit verander regtig ’n mens se perspektief.
Die een mens waarvoor ek baie dankbaar is, is my man, Avukile Mabombo, ’n sakeman en bemarkingsghoeroe. Hy is een van die groot inspirasies in my lewe. ’n Goeie, wyse man, met al twee sy voete op die aarde.
Ek was voorheen verloof, en in my boekie is dit so goed soos trou. Maar al die tekens was daar; ’n huwelik tussen ons sou nie werk nie. Om dus die verlowing te verbreek en weg te stap, was die dapperste ding wat ek nog gedoen het.
Ek het nog nooit uit my pad gegaan om liefde te soek nie, maar voel gelukkig dat dit weer gebeur het.
My beste raad? Maak nie saak hoe moeilik gister was nie, elke dag is splinternuut, nog ’n kans.
Gryp dit aan.
Moenie terughou nie.
Doen jou bes, en die res sal vanself in plek val.
Opsoek na soortgelyke inhoud?
Ja, Jy kan… Die wêreld ‘n beter plek maak – Tracey Lange