JOANI JOHNSON, ’n voormalige Mev. Suid–Afrika, is ’n entrepreneur met ’n hart vir mense. Sy wil graag haar skoonheidsplatform gebruik om vroue te bemagtig.
Hê mense wat vir jou bid en jou aanmoedig
Tyd saam met my familie is vir my belangrik. Ek het in die Vrystaat grootgeword en ek is dankbaar vir die goeie waardes waarmee my ouers my grootgemaak het.
Van my gunstelingherinneringe is om op ’n Sondag ná kerk om die kombuistafel saam met my gesin te kuier en aan lekker varsgebakte skons en croissants te smul.
Hoewel die lewe soms ’n gejaag is, maak ek ’n punt daarvan om by my ouers te gaan kuier.
Ouerskap laat my anders na die lewe kyk. Toe my dogter, Jesse, gebore is, het ek ’n nuwe deel van vrouwees ontdek.
Al is dit nie altyd maklik om ’n ouer te wees nie, is ek darem nie alleen in die stryd nie. My lewensmaat, Pierre, is waarlik my rots.
Ek glo dat elke vrou ’n goeie man verdien en ek is gelukkig genoeg om te kan sê dat ek my sielsgenoot gevind het. Die impak wat hy op my lewe en sukses het, is onmeetbaar.
Ek heg baie waarde aan respek in my verhoudings. Gesonde kommunikasie is vir my die sleutel tot sukses – ek deel eerder te veel, voordat ek dinge terughou.
’n Mens kan soveel probleme voorkom as jy net bereid is om regtig te hoor wat iemand op die hart het.
Opbouende vriendinne is noodsaaklik en ek kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om vroue in my lewe te hê wat vir my bid en my aanmoedig, sonder kompetisie of jaloesie nie.
Dit is húlle wat my soms staande hou.
Vrouens wat met passie leef is ’n inspirasie
Om goeie werk voort te sit, is ’n voorreg. Toe ek oorgeneem het as uitvoerende hoof van Mev. Suid-Afrika, was ek vasbeslote dat die organisasie daarop sou fokus om vroue se lewe te verander.
Omdat ek self ook aan hierdie program deelgeneem het, het ek eerstehands ervaar hoe dit my bemagtig het, sodat ek my reis as entrepreneur met selfvertroue kon aanpak.
Baie van ons vorige deelnemers is vandag suksesvolle besigheidseienaars en van hulle het gaan studeer en uitstaande kwalifikasies behaal. Dit is opwindend om deel van elkeen se reis te wees.
Dit inspireer my wanneer vroue met passie leef. Ek is dankbaar om in die posisie te wees om so ’n groot rol te speel in ’n lewensveranderende en bemagtigende platform soos Mev. Suid-Afrika.
Ongeag van wat elke deelnemer wil bereik, het elkeen van hulle ’n baie unieke stel talente. Ek is trots om te sien hoe doelgerig hulle leef en soveel groot mylpale bereik.
Dis mooi om die veranderinge en groei te sien plaasvind wanneer vroue die regte ondersteuning kry en dapper genoeg is om hulle drome na te jaag.
My lewensleuse is “laat gaan en laat God.” Ons is altyd so bekommerd oor alles dat ons vergeet om daagliks al ons sorge vir Hom te gee.
Omdat ons kinders van die Here is, hoef ons vir niks bang te wees nie. Sy opinie oor ons is ook die enigste een wat werklik saak maak, maar dis ’n duur les wat ek op die harde manier moes leer.