JOHANNI STEENKAMP se passie is om dogters te bemagtig om gesonde en gelukkige vroue te word. Om vrede te vind in dit waarmee hulle hulself besig hou.

Besef wanneer dit tyd is vir ’n verandering 

Nes ’n tipiese vrou is ek lief vir kookkos, die buitelewe en ’n lekker sjokolade.

Omdat ek nog altyd passievol was oor musiek en deel was van sanggroepe en orkeste toe ek ’n student was, het ek onlangs by my kerk se musiekbediening aangesluit waar ek hoop om ’n verskil te maak.

Nadat ek amper uitgebrand het, het ek God gevind. Ek het ontsettend baie hooi op my vurk gehad en het letterlik in die hospitaal beland as gevolg van stres.

Dit was ’n keerpunt in my lewe en ek het besef dat dit tyd was vir ’n verandering. Jou krag lê daarin om jou lewensdoel te ontdek en uit te leef.

Dikwels kan jy die grootste verskil maak waar jou grootste seer lê. As jou planne vir jou lewe saam met God s’n werk, sal alles outomaties in plek val.

My dogter se geboorte was vir my baie spesiaal. Wanneer ’n baba gebore word, groei en leer jy saam met elke tree.

My kind studeer onderwys en dit is vir my baie lekker om dinge saam met haar te doen. Dit is vir my wonderlik om ’n wyse gesonde kind te hê, wat goeie keuses maak in haar lewe.

Ek dink sy het geleer uit my foute en besef dat dit nie nodig is om haar kop op dieselfde plek te stamp nie.

Jou kinders leer uit jou aksies, en al wat jy kan doen, is om te probeer om ’n goeie voorbeeld te wees.

Bemagtig meisies om hulle beste weergawe te wees 

Dis belangrik om altyd iets moois agter te laat. My werk is om meisies en vroue te bemagtig om die beste weergawes van hulleself te wees – om hulle beter agter te laat as wat ek hulle gekry het en hulle te leer om dieselfde te doen.

Ek wou nog altyd ’n juffrou wees en dit is vir my lekker om my kennis aan ander oor te dra en vir hulle die nodige gereedskap te gee om die lewe met selfvertroue aan te pak.

Om vir meisies lewensvaardighede te leer, is my passie. Daar is so baie dinge wat ek wens ek geweet het toe ek jonk was.

Ek glo dat dit belangrik is om jongmense van jongs af te help om op die regte pad te bly, sodat ons nie in die toekoms met nog hartseer en gebreekte vroue sit nie.

Dit is lekker om te sien hoeveel meisies dit geniet om deel te wees van GirlSchool en hoe hulle floreer en blywende vriendskappe bou.

Ek neem myself nie regtig te ernstig op nie. Dit is belangrik om te lag en jouself nie te veel te bekommer oor wat buite jou beheer is nie. God se tydsberekening is perfek, en as jy nie is waar Hy wil hê jy moet wees nie, is jy op die verkeerde plek en besig met die verkeerde dinge.

Vir my is dit lekker om iets vir ander mense te gee. Dit laat my goed voel en gee my vrede in my hart, want dit is wat ware geluk is.