CINDY NELL–ROBERTS is baie meer as net ’n voormalige skoonheidskoningin. Sy is ’n dinamiese vrou wat passievol is daaroor om ander vroue te laat mooi voel.
Gee spesiale aandag aan verhoudings en innerlike skoonheid
Ek geniet dit baie om in die Kaap te woon. As kind het ons heelwat rondgetrek as gevolg van my pa se werk as sersant-majoor in die lugmag.
Deesdae woon ek en my ouers naby mekaar. Hulle het my nog altyd ondersteun in dit wat ek graag wou bereik en ek is dankbaar om hulle steeds in my lewe te hê.
As kind, moes ek baie uitdagings oorkom. Dit het my die dryfkrag gegee om ’n sukses van my lewe te maak en ek is baie dankbaar daarvoor.
Om mej. Suid-Afrika te wen, het my lewe verander. Hierdie oorwinning, asook die feit dat ek tweede geëindig het in die mej. Heelal-kompetisie, het my baie blootstelling en geleenthede gegee wat ek andersins nie sou hê nie.
Ek is baie dankbaar vir vroue soos Thobile Sithole, Carol McClennan, Sue Klerk en Yvonne van Kempen wat my in daardie tyd onder hulle vlerk geneem het.
Hulle het ’n groot invloed gehad in my loopbaan en op die vrou wat ek vandag is.
Spesiale aandag hou die verhoudings in ons gesin gesond. Ek probeer regtig om kwaliteit tyd saam met elke lid van my gesin te spandeer deur afsonderlike afsprake met elkeen te maak.
Dit is ook vir my en my man lekker om so twee keer per jaar sonder die kinders weg te gaan en spesiale aandag aan mekaar te gee.
Vir my is dit belangrik om betrokke te wees in elke aspek van my kinders se lewe en regtig te luister wat hulle sê en nodig het, sodat hulle kalm en gelukkig kan wees.
Om goed te lyk bou jou selfvertroue
Van jongs af, wou ek graag baie suksesvol wees. My selfvertroue is deur my ouers aangewakker, omdat hulle nog altyd in my geglo het.
Cosmetix, waarvan ek die uitvoerende hoof is, maak hoë gehalte omgewingsvriendelike skoonheidsprodukte.
Omdat ons die middelman uitskakel, kan meer vroue ons produkte bekostig om hulleself mee mooi te maak.
Ons is een van die grootste plaaslike onafhanklike invoerders en vervaardigers van skoonheidsprodukte soos Essence, Catrice en Caribbeantan.
As jy goed lyk, voel jy beter oor jouself. Dit is regtig my passie om vroue se selfvertroue te bou en hulle te help om trots te voel op wie hulle is.
Wanneer jy gelukkig is met wie jy is en gemaklik voel in jou eie vel, glimlag jy meer en word die wêreld rondom jou sommer outomaties ’n beter plek.
Hierdie aspek van my werk, gee vir my baie bevrediging en ek glo regtig dat ons baie vroue se lewe op die lange duur verbeter.
Moet nooit vergeet wie jy regtig is nie. Dit gaan nie altyd oor die sukses en roem nie, maar ook oor hoe jy ander mense behandel.
Wees nederig en moet nooit ophou leer nie. Maak ook seker dat jy êrens vir jouself ’n stil tydjie afknyp om te reflekteer, want dit maak jou meer produktief.
Ons maak baie besluite uit vrees uit. Maar niks is eintlik ooit die einde van die wêreld nie. Die lewe sal altyd aangaan en diegene na aan jou, sal altyd lief wees vir jou.