Weet jy watter modes, halsyne en haarstyle by jou pas? Doen moeite, roep ’n kenner in en jy kies sommer gou uitrustings wat jou komplimenteer, en jou die wêreld vol vertroue laat aanpak.
Coco Chanel het gesê: “Die beste kleur in die wêreld is die een wat goed lyk aan jou”. Daar is nog ’n spreekwoord wat lui: “Eerste indrukke is blywend”.
Maar waar begin jy as jy nie veel weet van mode, haarstyle en stylvol wees nie?
Beeld jou persoonlikheid uit met klere en bykomstighede
Jou kleredrag en haarstyl is ’n uitdrukking van hoe jy voel, waarheen jy oppad is en wat in jou lewe aangaan. Jou styl beïnvloed ook jou selfvertroue en werketiek, liggaamstaal en lewensuitkyk.
Moenie stagneer met modes en haarstyle uit die oude doos nie.
Vind uit watter styl en kleur jou die beste pas en waag iets nuuts.
Jy kan maklik 10 kilogram ligter lyk. Skenk net aandag aan die kleiner dingetjies. Kies, byvoorbeeld, eerste jou uitrusting, daarna jou juwele en bykomstighede, en laastens jou haarstyl vir die dag.
As jou uitrusting ’n besige patroon het, hou jou hare eenvoudig, reguit of dra dit in ’n formele bolla. Krulle by ’n besige ontwerp sal jou hele voorkoms deurmekaar en besig laat lyk.
Onthou bykomstighede gee slegs ekstra oemf aan jou styl. Dit moenie jou voorkoms te uitspattig of nog besiger laat lyk nie.
Het jy geweet daar is tien verskillende gesigvorms vir dames en nege vir mans? Elke persoon op aarde het ’n unieke gesigvorm en halslyn. Jou gesigvorm beïnvloed watter tipe halslyn en kraag jy met sukses kan aantrek.
Dit bepaal ook die oorbelle en hangertjies wat jy kan dra. As jy ’n ronde gesig het, sal jy definitief nie ronde oorbelle kan dra nie. Jou gesig sal net nog meer ronder lyk. Oorweeg liewer ’n langer, skraler ontwerp.
Vind uit wat jou nie pas nie en vermy dit
Net soos jou gesigvorm, is die lengte van jou nek ook belangrik. Dit bepaal of ’n rolkraag-trui of bonkige serp mooi aan jou sal lyk.
Indien jou nek kort is, sal dit lyk of jou kop in jou trui wegkruip, en jou hele liggaam sal dus korter en bonkig vertoon.
Die teenoorgestelde geld as jy ’n lang nek het en ’n v-hals-bloes dra. Dit sal jou ekstra lank laat lyk.
Daar is drie soorte neklengtes:
die kort nek van ongeveer 5cm en korter
die medium neklengte van ongeveer 6 tot 9cm
die slanke lang nek van ongeveer 10cm en langer.
Die grootste fout wat dames maak is om hulle hare te kort te knip wanneer hulle ’n lang nek het, of te lank te hou wanneer hulle’n koeëlronde gesig en kort nek het. Jou hare is jou kroon en moet beslis by jou gesig en nek pas.
Sien jy dikwels ’n uitrusting in die winkelvenster en begeer om soos die klerepop daarin te lyk? Maar wanneer jy dit gaan aanpas, lyk jy belaglik?
Hou in gedagte, die kledingstuk is in grootmaat vervaardig om 1000 ander vroue te pas, en nie spesifiek vir jóú gemaak nie. Plaas dit terug op die rak en soek iets anders wat beter pas.
Kies gemaklike, tog vleiende klere
As jy goed voel in jou klere sal dit in jou gesigsuitdrukking wys en jy sal baie komplimente ontvang. Neem dus ingeligte besluite voor jy iets koop.
Skoene se hakhoogte, styl, sool en materiaal bepaal of jou uitrusting formeel of semi-formeel lyk. Die rok se skouerlyn, snit, moue, fokuspunt, kleur, sakke, materiaal en lengte dra hiertoe by.
Die verkeerde skoene by jou uitrusting kan jou uitrusting maak of breek. Om langer te lyk, moet jou fokuspunt hoog wees, byvoorbeeld ’n serp om jou nek en jou hare opgevat in ’n bolla.
Vir nog meer lengte kan jy ook ’n skoen met ’n fyner hak aantrek. Broekspype wat te kort is en plat skoene skep die illusie van breedte, en laat jou korter lyk as wat jy werklik is.
Terwyl jou geheim eintlik net die regte styl en kleur is, gaan jy sommer soveel jonger en maerder lyk dat jou bestie jou gaan vra hoeveel gewig jy verloor het.
Uitrustings moet ook gemaklik sit en goed pas vir daardie “Coco Chanel look”.
Die wagwoord met uitrustings en haarstyle is balans. Noudat jy meer ingelig is, kan jy in salige harmonie met jouself leef.
En mooi lyk!