Moenie teen jou ouderdom vaskyk nie. ’n Hoë syfer beteken nie jy is oor die muur nie. Versorg jouself goed, kyk na jou gesondheid en jaag jou drome na. Dit hou jou jonk, ongeag hoe oud jy in jare is.

In jou twintigs is die wêreld jou speelplek. Jy kan eet wat jy wil, in die middernagtelike ure gaan slaap, en jou groente los vir ’n garage pie en Coke. Jou vel is jonk, sag en glad, al drink jy net twee glase water ’n dag. Sonroom is onbelangrik, want jy is mooi. Jonk. Jeugdig.

Kyk mooi na jouself en tree grasieus op

Mense in hulle veertigs was altyd vir jou bejaard. Noag-oud. Of selfs nog erger, Metusalag-oud. In jou oë was hulle ’n oom en tannie met plooie en pleidooie. Jy was nog jare weg daarvan.

Op ’n pragtige herfsoggend staan jy voor jou spieël en sien jou eie plooie raak. Skielik is jou gemoed swaar.

Waar het jý, of liewer júlle, so skielik vandaan gekom? Jy onthou jou gladde vel wat enigiets kon hanteer, van ’n homp sjokolade tot ’n swak of geen versorgingsroetine nie.

Jou hart bokspring dan nog en jou knie hop op en af wanneer jy’n lekker liedjie hoor. Jy voel nog 20!

Die realiteit is, almal word ouer (jy ook). Elke liewe dag. Maar hóé jy verouder, hang van jou af.

As skoonheidsterapeut is my en my salon se “leuse”: Jy verouder, jy kan dit net sowel met grasie doen.

Daar is inderdaad niks mooier as ’n vrou wat haarself in elke fase van haar lewe goed versorg nie. Inteendeel, wysheid bring skoonheid.

Dit is ook nooit heeltemal te laat om na jou vel om te sien as jy dit afgeskeep het en ’n algehele sonaanbidder was nie. Ja, die skade sal daar wees, maar jy kan beslis die aanslae versag.

Gebruik goeie salon-geakkrediteerde produkte geskik vir jou ouderdom.

’n Tydlose en elegante styl pas by enige ouderdom

Die oog- of nagroom wat jy in jou dertigs gebruik het gaan nie meer werk in jou veertigs nie. Pas aan.

Die vogroom wat jy in die somer gebruik, gaan nie effektief wees in die winter nie. Veral in ’n dorp soos Upington waar daar slegs ’n ogiesdraad tussen die dorp en die hel is.

Die hitte en koue is totale uiterstes. Jy kan jou vel optimaal laat funksioneer deur die regte soort produk vir die regte klimaat te kies. Sien ook toe dat dit by jou ouderdom en unieke behoeftes pas.

Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, maar dit maak saak hoe jonk jy vóél. Jy moet tog effe pas by jou jare, veral as dit kom by dinge soos haarstyle en kleredrag.

Jy “moet” of “hoef” nie soos ’n vrou in haar 70’s te lyk as jy nou eers in jou middel 40’s is nie. Glad nie.

Maar jy moet tog ook nou nie volksvreemd lyk in klere wat lankal nie meer vir of by jou pas nie. Stylvol wees is die een ding wat nooit uit die mode gaan nie.

Jou drome kan nog altyd waar word

Buiten jou uiterlike, wat inherent ook jou innerlike beïnvloed, is daar nog iets wat baie belangrik is.

Doen iets vir jouself. Nie vir jou man, kinders, ouers of vriende nie – vir jóú.

Dit kan ’n stokperdjie wees, iets wat jou laat voel soos wie jy was voordat jy ’n vrou vir jou man was, of ’n ma vir jou kinders. Wat wou jy nog altyd doen, maar te bang of skaam om te waag?

As tiener het ek altyd my haarborsel as mikrofoon gebruik en ABBA uit volle bors gesing. Asof ek ’n gehoor gehad het. Ek is al in my veertigs en neem al ’n paar jaar lank sanglesse, en ons hou konserte.

Dit ruk jou uit jou gemaksone, maar dit is ’n bevrydende gevoel. ’n So what-gevoel.

Toe ons in die een konsert ’n ABBA medley gedoen het, het my gedagtes dadelik teruggegaan na my self opgemaakte konserte. Daar waar ek ABBA gesing het en te skaam was om ooit regtig voor ander te sing. Deesdae doen ek dit voor ’n saal vol mense!

Wat is my punt nou eintlik? Dit maak nie saak of jy 40, 50 of 60 is nie. As daar ’n stukkie-droom is, iets wat jy wil waag of iewers ’n ek-wil-nog-eendag in jou is – just do it.

Ouderdom tel slegs as jy kaas is of ’n goeie rooiwyn. Leef voluit!