Jy ken die gevoel van hoë stresvlakke baie goed …Vergeet van alkohol en wag voor jy na medikasie gryp. Daar is verskeie maklike tegnieke, soos oefening en die regte asemhalingmetodes, waarmee jy kan leer ontspan.

“Don’t worry be happy!” Dis Bobby McFerrin se bekende, vrolike liedjie. Of ons sy wyse raad volg, is ’n ander vraag.

My pa het altyd gesê: “Moenie strés oor oud word nie, jy gaan nogsteeds simpel dinge doen … Net stadiger!”

Jou reaksie op spanning is normaal – leer dit bestuur

Jy moet presteer, spertye haal, kinders grootmaak, geld verdien, en nog staande bly vir diegene om jou. Ironies genoeg is matige druk noodsaaklik vir motivering om beter te doen en produktief te wees.

Oormatige en langdurige swaarkry is die probleem. Dit lei tot liggaamlike en geestessiektes. Jou maag trek op ’n knop en jou asemhaling versnel. Jy wil jou selfoon by die ruit uitgooi. Dit is fisiese reaksies wat jy ervaar wanneer dinge te veel raak.

Die navorser, Hans Selye (1907-1982), het drie stadiums in die mens se reaksie op moeilike omstandighede geïdentifiseer:


„ Alarm: Jou liggaam herken die gevoel en maak gereed vir aksie – veg óf vlug.
Die bedreiging of stresverwekker (stressor) word geëien en adrenalien word geproduseer. Dit beskerm jou teen die bedreiging deur onder meer die hartklop en asemhaling te versnel en die bloedsuiker te verhoog.

„ Verset: Jou liggaam herstel enige skade wat deur die alarm-reaksie veroorsaak is. Maar as die gevoel voortduur, bly dit versigtig en kan dit nie die skade herstel nie.

„ Uitputting: Met die voortsetting van verset, tree uitputting in en ’n stresverwante versteuring kan volg. Uitgerekte blootstelling aanspanning put jou energievoorrade uit en kan selfs tot die dood lei. Woede-uitbarstings versuur boonop verhoudings en stuur jou waarskynlik na ’n vroeë graf. Maar wat kan jy hieraan doen?

Verbeelding, spiere en asemhaling – en ontspan!

Daar is nie net een oplossing wanneer dit kom by streshantering nie. Gebruik verskillende maniere om meer te ontspan.

Korttermyn-strategieë:

„ Gebruik jou verbeelding. Neem ’n kort “vakansie” en gaan in jou gedagtes na jou happy place. Sit byvoorbeeld op die strand terwyl jy die branders hoor en die warm sand onder jou voete voel. Maak jou oë toe en gebruik al jou sintuie. “Hoor” die branders, “sien” die water, en “ruik” die seelug. Dit sal voel of jy regtig daar is.

„ Beoefen progressiewe spierontspanning. Ontspan al jou spiere volgens hulle spesifieke groepe. Begin deur diep asem te haal. Trek elke spiergroep saam en ontspan dan weer. Begin by die voorkop en beweeg af tot by die tone. Deur oefening leer jy hoe om styfheid in jou spiere te voel en makliker te ontspan.

„ Pas die 4-7-8-asemhalingtegniek toe. Dié tegniek vereis dat jy op lang, diep asemhaling moet fokus. Ritmiese asemhaling is ’n kerndeel van baie meditasie- en joga-oefeninge.

Dr. Andrew Weil, stigter en direkteur van die University of Arizona Center for Integrative Medicine, het die 4-7-8-asemhalingstegniek ontwikkel. Dit verminder angs en laat jou beter slaap. Jy leer hoe om jou woede-uitbarstings te beheer of te verminder.

Konsentreer tydens die 4-7-8-asemhalingstegniek op die volgende:

„ Blaas al die lug in jou longe uit.

„ Asem dan vier sekondes deur jou neus in en hou jou asem sewe sekondes lank in.

„ Asem hard deur jou mond uit en maak ’n suisgeluid vir agt sekondes.

„ Herhaal tot vier keer.

Gesonde dieet, oefening en positiewe selfgesprekke

„ Eet gesond. ’n Ongesonde dieet (veral as jy ’n emosionele eter is) kan dalk tydelike verligting bring, maar op die lange duur bydra tot spanning. Voedsame kos, byvoorbeeld eiers, avokado en okkerneute, reguleer jou emosies en ondersteun energievlakke.

„ Pas positiewe bevestiging toe. Kyk hoe jy met jouself praat. Indien jy konstant vir jouself sê “Ek kan dit nie doen nie,” of “Ek het nie tyd hiervoor nie,” sal dit dinge net moeiliker maak. Praat op ’n positiewe, inspirerende manier met jouself.

„ Maak oefening ’n prioriteit. Fisiese oefening laat jou meer ontspanne voel en help ook met die verbetering van jou geestesgesondheid. Stap, swem, ry fiets of sluit by ’n gimnasium aan.

Dit is God se belofte dat ons uitdagings deur gebed aan Hom kan opdra. Gló Hom, doen dit elke dag en sien die verskil in jou lewe!