Moenie jou figuur onder vormlose klere verdoesel nie. Vier jou vrouwees. Kies items wat jou vlei en die beste eienskappe van jou uiterlike voorkoms, en jou innerlike persoonlikheid, na vore bring.

So baie vroue leef ingeperk weens omstandighede buite hulle beheer. Soos wat ons meer en meer tuis werk en leef, bly ons persoonlike grense in plek. Ons raak gewoond om agter ’n masker weg te kruip, en versteek onsself ook sommer onder los en oorgroot klere.

Op hierdie manier hou ons mettertyd heeltemal op om ons individualiteit met ons kleredrag uit te druk.

Jy kan gemaklik aantrek sonder om slordig te lyk

Oral in modekringe word daar gesê dat gemak bo alles gestel moet word. Maar daar is ’n reuseverskil tussen gemaklike drag en klere wat vormloos en te groot is. Jou kledingstukke moet styf genoeg pas om te wys jy is ’n vrou, maar los genoeg om te wys jy is ’n dame!

Trek jy regtig daardie oorgroot broek en trui aan omdat dit lekker pas, of wil jy jou figuur wegsteek? Het jou tuisbly-lewe ’n verskoning geraak om jouself nie net agter ’n masker nie, maar ook agter ekstra materiaal te versteek?

Ongelukkig kan min mense dit bekostig om met elke nuwe modeneiging ’n nuwe klerekas aan te skaf. Die goeie nuus is dat jy met ’n paar riglyne ’n groot verskil kan maak.

Vergeet van modegiere en trek aan wat jou figuur en persoonlikheid beklemtoon. Jou uitrustings moet jou liggaam komplimenteer, maar ook jou stempel afdruk. Dra items wat gemaklik pas, maar moenie jou lyf wegsteek nie. So gaan jy net ouer en afgeleef voorkom.

Dit beteken nou nie jy moenie toemaak wat toe moet wees nie! Die goue reël is: Hou die soom lank genoeg en die halse hoog genoeg.

Kry die regte raad en doen slim inkopies

Gebruik jou ouderdom, liggaamsbou en leefstyl om jou voorkoms te bepaal, nie te beperk nie.

• Moenie bang wees om met verskillende style te eksperimenteer nie.

• Probeer om stukke te meng en pas met bykomstighede wat jy nog nie vantevore gedra het nie.

• Speel met allerlei kleurkombinasies. Jy sal verbaas wees watter groot verskil ’n tikkie nuwe kleur aan ’n ouer uitrusting kan maak.

• Koop klere volgens snit en nie volgens nommer nie. Snitte verskil dikwels. Die regte nommer kan die verskil wees tussen ’n vleiende uitrusting en een wat jou laat lyk asof jy die dameskleedkamer nodig het!

• Sorg dat jy die regte onderklere aantrek voordat jy aankope gaan doen. Moenie iets aantrek wat soos jou ouma se step-in lyk nie. Die regte vormdrag moet gemaklik pas en jou klere ’n mooi voorkoms gee. Dit moet nie so styf sit dat jy nie eers kan water drink nie.

• Raadpleeg ’n kenner voordat jy onnodige items koop. ’n Mens is geneig om vir enige geleentheid winkels toe te storm net omdat jy nie gemaklik en mooi voel in jou eie klere nie. Ná die tyd sit jy net met nog een van daai rokke wat stof in jou hangkas vergaar.

Dink nuut en vars oor aantrek as ’n lekkerte

Vra jou vriendin of suster se raad voordat jy nuwe goed koop. Jy is dalk juis so angstig in die winkels omdat jy verkeerde items aanskaf.

’n Klere-kenner kan jou ’n klomp geld bespaar deur jou huidige klerekas uit te sorteer en raad te gee oor nuwe aankope. Dis verbasend hoe baie iemand met ’n goeie oog jou ou klerekas in iets nuuts kan verander.

Mooi aantrek is ’n lekkerte. Verander jou uitkyk oor wat jy aantrek en jy gaan gou besef wat jy al die jare gemis het.

Moenie dat jou bui jou uitrusting bepaal nie – laat jou uitrusting jou bui bepaal! Gebruik jou klere om die positiewe in jou dag uit te bring.

As jy eers die vreugde van die regte snit, kleur en styl ontdek het, gaan jy weer voel soos ’n dogtertjie in ’n kostuumwinkel. As jy nie goed voel oor jouself en jou voorkoms nie, vra raad, kry hulp.

Daar is kledingstukke wat jou nie net goed kan laat lyk nie, maar ook beter kan laat voel. Gemaklike klere kan steeds stylvol, kleurvol en vleiend wees.

Geniet dit weer om vrou te wees en die lekkerte van aantrek te ontdek!