Geluk spruit nie uit geld of aardse besittings nie, maar uit jou innerlike ingesteldheid. As jou houding positief en jou uitkyk optimisties is, sal jy emosionele vreugde ervaar en elke dag opgewonde aanpak.

Vergeet die pyn van gister, waardeer die geskenk van vandag en bly optimisties oor môre.

Dis nou ’n bekende gesegde wat werk vir my!

My keuse om elke oggend op te staan en my seëninge te tel, maak my opgewonde oor die nuwe dag wat voorlê. My geaardheid is van nature positief, en ek glimlag baie maklik vir ’n vreemdeling, want hoekom nie?

Glimlag en die wêreld glimlag saam met jou

Jou glimlag maak dalk net weer daardie persoon se dag beter en dan is dit ’n wonderlike rimpeleffek. So word geluk versprei.

Maak daai grappie om jou kollega beter te laat voel. Wees die skouer om op te leun vir ’n ander en vertel jou goed-voel-storie.

Soms moet jy net luister, dan kan jy iemand ook gelukkiger maak.

My vier seuns het almal hulle eie identiteit en persoonlikheid. Wat die een seun gelukkig maak, maak nie noodwendig die ander een gelukkig nie.

As die jongste van vier kinders, is een van my mooiste herinneringe hoe my ma altyd met ’n glimlag rondgeloop het. Wel, nou nog …

Sy groet almal vriendelik en sal ure lank geselsies aanknoop met die mense in winkelsentrums. Het sy haar positiewe gesindheid na my toe oorgedra of is ek gebore daarmee?

Dit is baie belangrik om jouself met mense te omring wat optimisties en positief is. Dit sal jou gelukkig hou, en op ’n “af”-dag (wanneer jy dit baie nodig het) trek hulle jou weer op.

Het jy te veel om te doen en te min tyd? Is dit nie maar die probleem wat ons almal ervaar nie?

Balans en beplanning is wonderlik en baie belangrik sodat jou dag se geluk nie weggegooi word nie. Dit help jou ook om ’n paar onverwagte struikelblokke goed te hanteer.

Jy kies hoe jy op goeie en slegte situasies reageer

Dit bly jou keuse hoe emosioneel jou situasie en omstandighede jou gaan laat voel.

Jy het nie altyd beheer oor wat in jou lewe gebeur nie, maar jou houding daaroor is wat die verskil maak in jou vreugde.

Die wêreld sluk ons rêrig in met baie stres, dis ongelukkig waar. Maar dit is hoe jy die spanning hanteer wat op die ou end die meeste beteken.

’n Wyse man het gesê dat jy sekere situasies in bokse moet pak. Indien jy nie ’n verandering aan ’n gebeurtenis kan maak op die oomblik nie, plaas dit in die boksie.

Byvoorbeeld, sit jou werksdruk daarin sodra jy by die huis instap. Dit keer dat daardie spanning die geluk van jou man en kinders wegvat.

Hierdie metode werk vir my goed, en hou my lewensuitkyk optimisties en positief. Wanneer iets spesifieks my omkrap, sit ek dit dadelik in die houer sodat dit nie my hele dag kan omkrap nie!

Jy moet nie die boks toe hou nie. Sorteer negatiewe situasies uit anders gaan dit rêrig jou vuurtjie op die ou einde blus.

Wanneer jy dit oopmaak, vra vir die Here om jou te help om dit uit te sorteer. Dan sal jy riglyne, krag en verstand ontvang.

Vind jou geluk en vreugde by die regte bronne

Baie mense soek wel geluk op ander maniere of in ander plekke. Party in die prestasies van hulle kinders, of hoe dik hulle beursies kan wees. Dit is nie waar ware geluk lê nie.

Vind jou geluk by die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer (Psalm 37:4). Hy is altyd daar om te luister en wil jou so graag gelukkig sien.

My betrokkenheid by liefdadigheidsorganisasies laat die adrenalien deur my are bruis en dit maak my gelukkig. ’n Toe hand kan nie ontvang nie.

Liefdadigheid beteken nie net geld skenk nie, maar ook tyd. As jy nie finansieel kan bydra nie, kan jy van jou tyd gee.

Almal kan iets vind in die lewe wat hulle gelukkig maak, naas die gewone alledaagse roetine waarin mens verval. Dis dalk ’n nuwe stokperdjie, persoonlike uitdaging of om net iets nuuts aan te pak.

Doen dinge waar jy die hand van die Here in jou lewe kan sien. Dit sal daartoe lei dat jy soveel meer en gereeld geluk ervaar.

Moenie ’n goeie dag bederf met ’n slegte gister nie.