Begin jy ook dikwels met ’n streng dieet, net om vinnig weer te stop? Moenie jouself uithonger nie.Maak net gesonde kos en oefening deel van jou daaglikse lewe. So sal jy effektief gewig verloor en gesonder leef.

Mense is geneig om te dink dieet is so eenvoudig soos minder eet en meer oefen. Gewigsverlies is egter nie gewaarborg nie. Al doen en eet jy al die regte dinge, kan sekere slegte gewoontes jou pogings om gewig te verloor in die wiele ry.

Wat maak dit so uitdagend om gesond te eet?

Die eerste is te min slaap of ’n slegte nagrus. Navorsing toon dat volwassenes wat minder as ses uur per nag slaap meer gereeld honger voel en verhoogde aptyt het.

’n Gebrek aan slaap vertraag jou spysvertering en laat jou na ongesonde, soet eetgoed smag.

Vitamiene en minerale is noodsaaklik vir jou metabolisme.

Jou liggaam is soos ’n motor. Voedingstowwe is jou brandstof en vitamiene en minerale is die sleutel wat die proses begin sodat jou motor kan beweeg. As jy nie die sleutels het nie, moet jy jou motor padlangs stoot.

Behalwe vir stadige gewigsverlies kan tekorte jou aptyt verhoog en jou energie verminder. ’n Lae energievlak kan ’n mens ook makliker laat swig voor slegte keuses as dit by peuselhappies kom.

Uithongering en ander eetgewoontes speel ook ’n rol. Mense wat heeldag niks eet nie, kan nog steeds met hulle gewig sukkel.

Die rede is dat hulle in plaas van om te eet, drankies drink wat hoog is in energie – gewoonlik in die vorm van suiker. Dit beteken dat ’n glas sap gelykstaande kan wees aan twee snye brood terwyl 450 ml gewone gaskoeldrank tot vier snye brood se energie kan verskaf.

Moenie jouself uithonger nie, en waak teen siektes

Uithongering beteken ook dat jy, as jy uiteindelik die kans kry, te veel eet.

Sommige van ons drink weer baie koffie. Met suiker en melk is vyf koppies koffie gelykstaande aan ’n hoofmaaltyd.

Dink voordat jy iets drink en oorweeg eerder lae-energie-opsies.

Water is natuurlik altyd die gesondste keuse. Rooibostee is kafeïen-vry en die ideale gesondheidsdrankie.

Sukkel jy, na vele raad en eetplanne, steeds om die ekstra rolletjies om die middel en bolyf af te skud? Dit kan ’n teken van ’n ernstige siektetoestand wees. Gaan maak by jou huisdokter ’n draai en gesels oor jou opsies.

Het jy al jou insulienvlakke laat toets? Dit is die moeite werd om hierdie toets te doen sodat jy dit kan uitskakel as moontlike sondebok.

Insulien is die hormoon wat die glukose (suiker) in jou bloed reguleer.

Glukose is die liggaam se hoofbron van energie.

Insulien en bloedsuiker is nie dieselfde ding nie. Wanneer jykoolhidrate eet, breek dit af in suiker, wat deur jou liggaam opgeneem engebruik word om energie te voorsien.

’n Wanbalans veroorsaak dat die selle die werking van insulien beginteëstaan. Dan moet jou pankreas oortyd werk om van die oortollige voorraad suiker ontslae te raak. Dit wat nie verwerk word nie, word as vet gestoor.

Vra raad as jy vermoed jy het ’n mediese toestand

Gewigstoename dra by tot weerstandigheid, wat weer op sy beurt tot vetsug lei. In baie gevalle is oefening en ’n lae-GI-dieet genoeg en kan dit die situasie selfs omkeer, maar soms is medikasie nodig.

Kos met ’n hoë suiker inhoud laat die bloedglukosevlak vinniger styg. Deur verfynde kossoorte te verminder verhoed jy dat jou liggaam heeltyd insulien moet produseer. Bly dus weg van daardie koekies, pizza en die bakkery se lekker oliebolle. Of hou dit matig.

Dit beteken nie dat jy dit heeltemal moet uitskakel as dit nie vir jou volhoubaar is nie, maar kies eerder lae-GI-opsies. Dit help ook om met een ete stysels te vermy.

Jou insulienvlak, voorgeskrewe medikasie en oefenprogram bepaal die hoeveelheid koolhidrate wat jy per dag nodig het.

Dit is raadsaam om dit deur die dag te versprei om die glukosevlak beter te reguleer. Maak voorsiening vir een tot twee porsies stysel per ete, gekombineer met proteïene.

Peuselhappies moet liefs ook proteïen insluit. ’n Vrug met twee eetlepels neute of ’n handjievol biltong sal jou suiker beter reguleer as net die vrug op sy eie.

Onthou, klein volhoubare veranderinge dag vir dag lei uiteindelik tot’n gesonde liggaam en brein op die langtermyn.