Jou geestesgesondheid verdien daaglikse aandag, selfs wanneer jy oorweldig voel. Ontdek hoe gesonde eetgewoontes, oefening en stresbestuur jou emosionele welstand kan ondersteun.
“Hierdie inligting is baie waardevol, maar ek het net nie nou die krag vir dit ook nie.” “Daar is geen tyd vir myself nie.” “Ek probeer regtig jou riglyne volg, maar wanneer ek moedeloos of hartseer voel, is kos my troos …”
Hoe om jou geestesgesondheid te ondersteun wanneer jy oorweldig voel
Geestesgesondheid is op ons almal se lippe.Te midde van ’n pandemie, ’n swak ekonomie en druk wat voel of dit net daagliks toeneem, is dit ook geen wonder nie. Ons is meer depressief, angstig en uitgebrand as ooit vantevore.
Die handhawing van ’n gesonde leefstyl wanneer al jou reserwes boonop gedaan is, is uiters uitdagend. Jou mees basiese behoeftes is skuiling, kos, water, ensovoorts.
Slim denke oor en beplanning van jou dag is selfaktualisering – die hoogste vlak van funksionering.
Persone wat sukkel met sielsiektes stoei dikwels met swak eetgewoontes en neem baie min aan fisiese aktiwiteite deel. Watter raad is daar vir sulke mense?
Leer jouself ken en rig jou omgewing in om ondersteunend te wees.
Dit moet voel of jy werklik daar kan ontspan.
Gestel jy ly aan depressie en gaan deur ’n baie moeilike tyd; berei in tye wat jy beter voel maaltye voor wat kan vries. Sop werk wonderlik hiervoor.
Dan is gesond eet nie net nog iets om oor te stres nie, en jy is voorbereid met ’n vrieskas vol vullende etes. Dit keer dat jy te maklik na kitskos gryp, en daarna nog meer depressief voel.
Hoe gesonde eetgewoontes en oefening jou kan help
Wees sag met jouself en moenie onrealistiese doelwitte stel nie. Pleks van skuldig voel omdat jy nie gaan draf het nie, gaan stap net een keer om die blok.
Moenie net geen oefening doen nie. Al is dit minder as waaraan jy gewoond is, bly dit steeds beter as niks.
Wees bewus van jou aptytregulering as jy sukkel met aandagafleibaarheid. Jy raak dalk partykeer so besig met ander dinge dat jy óf vergeet om te eet óf nie jou kos opeet nie.
Beskou etenstye as ’n afspraak met jouself. Kom ’n oomblik tot ruste en fokus daarop om jou liggaam optimaal te voed.
Hou jou bloedglukosevlakke konstant. Dit is belangrik wanneer dit kom by gewigsbeheer en insulienweerstandigheid, maar ook vir jou emosionele welstand. Dit reguleer jou gemoed en stel jou brein in staat om te fokus.
Daarom is toepaslike porsies lae GI-koolhidrate, genoeg proteïen in die dieet en gesonde vette (dink avokado’s, neute, olywe) uiters belangrik.
Indien jy ’n verlies aan eetlus ervaar weens depressie of as newe-effek van psigiatriese medikasie, kan aanvullings jou help.Vitamien B12 kan jou meer honger maak en ’n multivitamien kan tekorte help aanvul as jou kosinname drasties verminder het.
Emosionele eet en ’n gesonde verhouding met kos
Eetsteurnisse soos anoreksie en bulimie is bekend aan ons almal. Maar het jy al ooit van orthoreksie gehoor?
Dit is ’n obsessie met gesond eet, kalorieë tel, en ’n uiters rigiede eetpatroon handhaaf. Al is ’n gesonde leefwyse hóé belangrik, mag niks ooit jou vreugde steel nie.
As jou verhouding met kos ongesond is en jy dink dat jy in hierdie strik vasgevang is, moenie moed opgee nie. Jy kan loskom van hierdie selfopgelegde kettings en weer leef.
Vra hulp wanneer jy dit nodig het. Onderwerpe soos depressie, eet-en angsversteurings, ensovoorts, is lankal nie meer ’n taboe onderwerp nie. Daar is uitstekende hulp beskikbaar – jy verdien dit om weer die blomme langs die pad raak te sien.
Dink bietjie aan fisiese honger teenoor hartshonger.
As jy ’n emosionele eter is, vra jou af: Waarvoor is ek regtig “honger”? Watter “voedsel” het ek nou nodig? Miskien is my eintlike behoefte net aan ’n uur se rus en vrede met ’n goeie boek. Of om met ’n vriendin te gesels.
Om jou hartshonger aan te spreek, help jou om bewus te word van wat jou liggaam regtig nodig het. En ja, somtyds is dit kos – geniet dan ’n heerlike maaltyd sonder skuldgevoel!
Kos kan deel van jou terapie vorm – vors dit na, maak dit en eet dit.
Mag jy die vreugde van kos weer ontdek!