Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
(Psalm 37:4-5)
Geluk woon nie by ’n spesifieke adres of vriendekring nie. Geluk is geen burger van ’n ander land nie. Jy kan dit nie vind wanneer jy eers met vakansie is, of die regte lewensmaat ontmoet, ’n nuwe kar koop of jou doelwitgewig bereik nie.
Jy kan nie geluk waarborg in die flawless weerkaatsing van jou skoonheid wat kunsmatig vir jou glimlag as jy verby die spieël loop nie. Geluk kan nie gekoop, verruil of onderhandel word nie. Dit is nie begrawe in geheime koördinate op ’n roetekaart van jou hart nie.
Geluk is ’n gratis geskenk van God, dit lê oopgestrek in die skatkamers van sy liefde, genade en vergifnis. Jy kan jou hand uitsteek en daaraan vat, dit vir jóú vat, want dit was lankal reeds joune. En tog, jy is altyd huiwerig, bang jy brand jou hand as jy aan die blink van sy liefde vat. Jy wil nie jou klatergeluk prysgee nie, want wat AS?
Brand jou hart van verlange na die geluk wat jou heeltyd ontwyk ondanks al die “uitverkopings” en “spesiale aanbiedinge” waarna jy keer op keer gryp?
Vind geluk wanneer jy sy liefde aanvaar en deel maak van jou elke dag, sy vergifnis aanvaar en jouself vergewe, sodat jy jouself kan liefhê. Hy het jou lief, elke sproet en moesie, elke flaw. Hy gee vir jou gratis liefde wat geen geld kan koop nie.
Gryp die geleentheid, maak sy Naam groot en verlustig jou in elke aspek van jou Vader se liefde. Hy sal die begeertes van jou hart in ruil gee sodat jy nooit weer geluk op “uitverkoping” hoef te soek nie. Jy hoef nie jouself uit te verkoop vir geluk nie.