Die Here sal by jou wees. Die genade sal by julle wees!
(2 Timoteus 4:21-22)
Laat die klere maar oud wees, die speelgoed skraps, die kos op die bord basies, die spyskaart voorspelbaar, die mure jare laas geverf, die stoelbekleedsels verweer, die mat uitgetrap en die kastrolle vol duike en hopeloos verouderd volgens hedendaagse standaarde.
Vul so ’n omgewing met menslike genade – ’n gesindheid wat ook as liefdevolle goedheid omskryf kan word – en die verweerde ou stoel word ’n stukkie hemel, die mat latertyd se soet herinnering, die klere ’n terloopsheid.
Babas en kleuters het liefdevolle goedheid van hul ouers en sibbe nodig, so ook tieners van mekaar én hul gesinslede, huweliksmaats van mekaar, bejaardes van hul volwasse kinders en selfs hul onvolwasse kleinkinders. Niemand kan sonder liefde leef nie.
O, wat ’n God dien ons nie! Watter versekering van liefdevolle goedheid gee Hy nie deur sy Seun aan elkeen nie! So anders as die gode van die Ooste, die gode van antieke Egipte, die afgode van antieke Kanaän – ja, so anders as onsself as ons eie god – is Hy! Hy is liefde en liefdevolle goedheid. Hy vul en seën elke ruimte waarin Hy erken word, met genade, vergifnis, sorg en die suiwerste liefde.
Onweerlegbaar staan sy belofte vir elkeen wat glo: Die genade (liefdevolle goedheid) sal by julle wees. Jesus is tot die dood toe ter wille van ons oortredings verbrysel. Wie kan so ’n liefde en genade beskryf wat bewys is in vrywillige oorgawe aan ’n toorn groter as weerlig? Dit was vir elkeen, sodat ons in die regte verhouding met God gestel kan word.
Mag jy die grootste avontuur van menswees beleef: om vry en vreesloos saam met die opgestane Jesus deur die landskap van God se wil te reis.