Gesinsvergaderings hou soveel voordele in. Kinders leer om hulle stem te laat hoor en dit ontwikkel ook ’n gevoel van samehorigheid binne die gesin. 

Gesinspret begin by saamwees en aan iets beplan 

Pappa roep: Almal om die tafel, dit is tyd vir gesinsvergadering! Skielik is die atmosfeer swaar van die spanning, want iemand is waarskynlik in die moeilikheid … Wanneer Pa of Ma sê, kom julle, daar is iets waaroor ons met julle moet praat, klop jou hart sommer in jou keel.

Gesinsvergaderings is so ’n lekker deel van saamwees en het ’n baie groot plek binne die gesin. Dink byvoorbeeld aan vakansies wat beplan moet word, of aanbouings wat plaasvind, of selfs ’n skuif. Pappa se werk verander, en ons huis moet verander of ons moet dalk selfs trek.

Gesinsvergaderings gee ons die geleentheid om nie net saam te beplan nie, maar ook mekaar se emosies rondom veranderinge te verstaan.

Dit is verder baie belangrik vir samehorigheid binne die gesin. Dit laat ’n kind, ouer, enigiemand wat betrokke is, voel ek behoort aan iets, hierdie is my groepie. Hier kan ek sê wat ek voel sonder enige oordeel. Hier kan ek antwoorde kry op moeilike vrae.

Die lekker ding van gesinsvergaderings is dat kinders ook leer hoe om vergadering te hou. Hulle speel mos so graag werk-werk en kantoor-kantoor en hou kamma vergaderings.

Wanneer ons dus gesinsvergaderings hou, leer hulle sommer ’n paar vaardighede by. Hulle ontwikkel hulle kommunikasievaardighede, konflikhantering, probleemoplossing en hulle leer om hulle eie stem te hoor.

Baie kinders skrik nogal wanneer hulle byvoorbeeld die eerste keer mondeling praat. Hulle is skoon verbaas as hulle hoor hoe hulle klink. Hulle is gewoond om hulleself net binne gesprekke met ander te hoor, nie op hulle eie nie.

Gesinsvergaderings skep die geleentheid vir kinders om belangrike lewenslesse te leer. Dinge soos, hoekom het ’n mens geld nodig? Hoekom moet Mamma werk? Hoekom kan sy nie net by die huis wees nie?

Of hulle kan saam met ouers dink oor lewenskwessies wat pla. Hoekom strooi maats soms rommel? Gesinsvergaderings is ’n goeie plek om sulke onderwerpe te bevraagteken en bespreek.

Om al hierdie vaardighede te oefen en ’n gevoel van samehorigheid te skep, is baie belangrike redes vir gesinsvergaderings.

Dit moet vir kinders lekker wees binne die gesin 

Die grootste rede waarom baie gesinne egter gesinsvergaderings hou, is om te verhoed dat frustrasie opbou.

Baiekeer is daar klein goedjies in en om die huis wat almal irriteer. Mamma irriteer vir Boeta. Boeta irriteer weer vir Pappa. Boeta en Sussa irriteer mekaar.

As ons al hierdie klein jakkalsies nie aanspreek en oplos nie, bou emosies op en ontstaan klein ontploffings maklik in die huis. En dit rig skade aan ons verhoudings.

Gesinsvergaderings kan konflik voorkom. Dit skep die geleentheid om rustig te kan gesels oor die dinge wat ons frustreer.

Kies ’n vaste tyd, een keer ’n maand, een keer ’n week, wat ook al vir julle as gesin werk. Beplan dit sodat dit ’n roetine word. Dit moet voorspelbaar en gereeld wees.

Gesinsvergaderings skep die ideale geleentheid om rolverdeling te doen. Soms kan Boeta die vergadering inlui. Ander kere vat Pappa weer voor. Wys vir elke vergadering ’n leier aan.

Stokkies kan ook ingespan word om geduld aan te leer. Die een wat die stokkie vashou tydens die vergadering, mag alleen praat. Só leer kinders om hulle beurt af te wag.

Die belangrikste is dat gesinsvergaderings pret bly. Maak sommer saam in die kombuis voor die tyd of hou die vergadering in die tuin.

Dit hoef nie altyd swaar en formeel te wees nie. Moenie dat kinders begin dink dat gesinsvergaderings beteken daar is ’n probleem nie.

Wanneer julle die kinders byeen roep vir die vergadering, moet hulle hart nie in hulle keel klop nie. Vergaderingtyd moet hulle opgewonde maak, iets waarna hulle uitsien om as gesin saam te doen.

Sluit elke vergadering af deur vir mekaar te versel hoekom hierdie gesin so belangrik is vir elkeen. Dit is ’n baie goeie bindingsaktiwiteit. Elkeen sê aan die einde wat vir hom of haar lekker is in hierdie gesin.

Ons wil tog hê ons kinders moet by die huis kan uitgaan en sê, ek is bly om ’n Van Zyl of ’n Symington of ’n Potgieter te wees. Gesinseenheid is baie belangrik.

Maak gesinsvergadering sommer gou-gou ’n gereelde roetine in jou huis