Familie is die plek waar jy veilig voel, waar jy voel jy behoort en waar jy aanvaar word. Dit is jóú mense wat jou nie sal los nie. Familiewees is belangrik vir ouers én kinders.
’n Kerngesin word gedefinieer as ’n ma, pa en twee kinders, en dan is dit nog ’n dogtertjie en ’n seuntjie ook. Baie min gesinne kan nog só beskryf word.
Party gesinne het enkel-mammas, ander is weer uitgebreide gesinne – ouma bly in die huis, of ons bly by ’n tannie. Soms woon ons nie in dieselfde huis as ons ouers nie.
Wat is ’n gesin, en wie sluit ek by my gesin in? Handboekdefinisies sê: Familie is ’n sisteem waaraan jy behoort, ’n sisteem wat jou aanvaar.
In Engels sê hulle dit so mooi: Wie is jou tribe? Wie is jou mense? Wie is daardie mense saam met wie jy dag ná dag ’n pad stap, wat daagliks insette in jou lewe lewer, wat jou nie los nie.
Ons almal het ons tribe nodig om ons te ondersteun en ons hande in die lug te hou. Én wie is die eerste mense wat jou ondersteun? Jou familie! Hulle dra kos aan wanneer ons siek is, en kyk na ons kinders wanneer ’n werksgeselligheid skielik opduik.
Familiewees is gebind aan tradisies. Skep tradisies, ’n familietradisie wat jy elke dag kan volg. Saam eet, ’n speletjie speel, of voor bedtyd ’n storie lees. Families is belangrik, vir ons kinders, en ook vir ons.