Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare. Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap … (Psalm 34:5)
As jy enigsins in Christelike sirkels in Suid-Afrika beweeg, is daar een boodskap wat jy herhaaldelik hoor. God is God, maak nie saak wat jy sien nie. Maar as jy nie die Here ken nie, sit jy met dit wat jy sien, en dan sou ek ook lam bekommerd wees.
’n Gelowige het ’n paar feite wat sy of haar lewe rig. Die Here is soewerein, en dit is Hy wat die Koning aanstel in ’n land; of die leier dan nou goed of ongeregtig is. Daar is seën wat kom saam met ’n Christenleier, maar daar is diepe loutering wat kom saam met een wat jou te na kom. Soveel so dat vervolgde Christene in geslote lande juis vra dat ons nie bid dat die vervolging ophou nie, omdat hulle die diepte sien wat lyding op die wese van ’n Jesusnavolger uitoefen.
Wat ons bring by my en jou. In ons land mag ons nog vrylik oor Christus praat en kerk toe gaan. Die ergste “vervolging” wat ons ken, is om nie bevorder te word nie, omdat jy nie “in” is nie. Maar ons land het vele uitdagings op ekonomiese en maatskaplike gebied wat selfs die veiligheid kan aantas.
En tog, selfs al weet ons dit, is daar beloftes in die Woord soos Deuteronomium 28 wat sê dat ons geseënd sal wees in die land wat die Here vir ons gee. Wat ook al hierdie land tref, ons gesigte sal straal van vreugde in die seën van die Here, selfs terwyl die storms om ons woed. Daarom vertrou ons Hom, want “Ek het die Here gesoek, en Hy het my geantwoord en uit al my vrees gered.”