Emosie is ’n belangrike deel van kinders se lewe. Dit is belangrik om met hulle oor hulle gevoelens te praat. Leer hulle hoe om te verwoord wat hulle voel, en hoe om dit te hanteer.
Emosie is deel van ons menswees. Dit is ’n reaksie op ’n situasie en kan ons beskerm. As jy kwaad raak, is dit omdat iets onregverdig met jou gebeur het. Dan vat kwaad tog ’n bietjie van daai seer wat ons gekry het, weg. Bang maak ons weer versigtiger.
Leer kinders om te praat oor hoe hulle voel. Baie van ons is grootgemaak om gehoor te word, maar nie regtig na geluister te word nie. Kinders mag speel en gesien word, maar ons luister nie regtig na hulle emosies nie.
Praat met kinders oor hulle emosies. Hoe voel jy? Wat gebeur met jou lyfie as jy só voel? As jy hartseer is, is daar ’n knop in jou keel. As jy kwaad raak, klop jou hart vinniger en jou hande sweet.
Leer jou kinders hoe om te sê wat hulle voel. Mamma, ek voel ’n bietjie kwaad. Mamma, ek is ’n bietjie hartseer vandag. Mamma, ek dink ek het vyf minute nodig. Wanneer ons begin om vir hulle die taal van emosies te leer, weet ons waar ons met hulle staan.
Onthou, ouers het ook emosies. Wanneer ons emosie nie op ’n goeie plek is nie is dit moeilik om jou kind se behoeftes raak te sien.