“Begin jou drome neerplak en -skryf. Op so ’n manier kan daardie droom ’n realiteit word,” sê sakevrou en motiveringspreker ANRI POWELL.

Skep ’n droombord met lang- en korttermyndrome

Is jy besig om die droom wat jy in jou hart het ’n realiteit te probeer maak? Of probeer jy nog uitvind wat daardie droom is?

Jy kan meer oor daardie droom leer deur vir jouself ’n visuele droombord te bou. Dit is iets wat ek saam met my gesin doen. Iets waarvoor ek ’n passie het.

Neem ’n papier en plak ’n klomp prentjies daarop oor drome wat jy wil bereik.

Plak prente op jou droombord oor langtermyndrome wat jy oor die volgende vyf of tien jaar wil bereik en korttermyndrome wat jy die volgende twee weke of maand of ses maande wil bereik. Realistiese drome van iets wat jy kan doen – miskien ’n oorsese uitstappie, ’n piekniek saam met my kinders of ’n toppie wat ek gesien het wat ek dalk wil koop. En dan, onrealistiese drome.

As jou drome nog nie helder is nie, moet jy op daardie plek kom. Die enigste manier wat jy dit ’n werklikheid kan maak, is om regtig intensioneel op te tree. Jy moet stil raak om te besef wat jy wil droom.

’n Mens moet praat en gesprekke daaroor hê: Dit is wat ek eendag wil doen. Dit is wat ek nog wil bereik. Dit is waarnatoe ek wil gaan. Ek wil ’n huisie by die see hê of hierdie kar ry of hierdie paar skoene koop. Ek wil nog gaan studeer of ek wil iemand ontmoet in my lewe wat vir my geluk kan bring.

Wat is daardie droom in jou hart? Jy kan nie vir my sê dit is net in jou kop nie. Daar is elke dag soveel dinge wat ons besig hou. Ons jaag heen en weer dat jou kop regtig nie ’n plek is om jou drome te bêre nie.

Kry vir jou ’n boek en begin dit neerskryf. Kry vir jou ’n A2- of A3-papier, of al is dit ’n A5-papiertjie, en begin net jou drome letterlik visualiseer.

Maak seker dat jy jou eie drome uitleef

Sodra jy elke dag na jou drome kyk, sal jy regtig ’n brandende behoefte in jou hart begin kry.

Hoe meer jy daarna kyk, hoe harder sal jy daarvoor werk, omdat dit elke liewe dag daar is vir jou om raak te sien.

Jy gaan ook moet besef die lewe gebeur. Daar is soveel dinge in ’n mens se lewe wat kan verkeerd gaan.

Maak vrede daarmee dat ons in ’n gebroke wêreld leef, waar slegte dinge met mense gebeur. Hoe vinniger jy daarmee vrede maak, hoe vinniger gaan jy op ’n plek kom om jou drome te aanvaar en neer te sit.

Jy gaan moet begin deal met dinge wat in jou lewe gebeur het om vry te kan word en weer te kan begin droom.

Hoe gaan jy ooit vorentoe beweeg as jy nie deal met die slegte ervarings waardeur jy gegaan het nie? As jy nie begin aanvaar dat daar wel dinge is wat regtig nie in jou hande is nie. Dinge wat verkeerd kan gaan.

Sodra jy dit kan begin doen, kan jy ook op ’n plek kom waar jy begin heel raak. Waar jy weer vir die Here kan vra vir ’n splinternuwe bladsy uit Sy pakkie van genade en drome wat Hy vir jou gegee het.

Jy moet gaan sit en intensioneel vir jouself vra: Leef ek my droom of is ek besig om iemand anders se droom te leef? Is ek besig om my kinders se droom te leef? Want dan gaan jou drome nooit ’n werklikheid word nie.

Jy gaan so hard werk en soveel skade doen aan jou verhouding met jou kind.

Jy gaan dalk dinge begin in hulle lewe wat inbraak maak. Hulle forseer om te droom waaroor hulle nie eintlik wou droom nie, maar hulle doen dit omdat dit jou droom is wat hulle leef.

Maak seker dat jy jou droom leef. Maak seker dat jy intensionele gesprekke in jou huis het wat vra: Wat is jou droom? Waarnatoe is jy op pad? Kan my droom en jou droom mekaar komplementeer?