Hoe om… lief te hê

545

Daar is die staaltjie van ’n man wat bid: “Ek het vandag nog met niemand lelik gepraat nie. Ek het nog niemand geskel nie, ek was met niemand onbeskof nie, maar ek gaan nou-nou opstaan. Dan, Here, gaan ek U hulp regtig nodig kry.”

Dis waaroor die lewe gaan, oor verhoudings. En sonder Sy hulp gaan dit maar sukkel-sukkel. Ons harte is nie altyd sag teenoor die mense wat ons teëkom nie. Ons fokus maklik op ons eie seer, maar vergeet dat ander ook pyn het.

Spyt kom altyd te laat

Teen die einde van hulle lewe is baie mense se versugting: “As ek maar net vir my vrou gesê het ek is lief vir haar!” “As ek maar net meer aandag aan my kinders gegee het!” ’n Mens hoor selde: “As ek maar net met daardie motor kon gery het!” “As ek maar net op daardie koppie in ’n spoghuis gewoon het!”

’n Australiese verpleegster het met terminaal siek mense gewerk. Sy het ’n lysie begin maak van alles waaroor hulle spyt was aan die einde van hulle lewe. Heel bo was dinge soos: “Ek moes nie so hard gewerk het nie, maar meer aandag aan my geliefdes gegee het. Ek moes my drome nagevolg het, my emosies gewys het en nie so baie maskers gedra het nie.” Die hooftema was verhoudings.

Ons maak soms ons hartsmense die seerste

’n Vrou het per ongeluk in ’n winkelsentrum teen iemand vasgeloop. Sy en die persoon kon nie genoeg vir mekaar sê hoe jammer hulle was nie.

Dié aand staan sy voor die stoof. Sy is haastig, want die kinders moet eet en gaan slaap. Môre is dit skool. Toe sy weer sien, is haar vyfjarige seuntjie onder haar voete en sy val amper. Sy verskreeu hom omtrent omdat sy per ongeluk teen hom vasgeloop het en jaag hom by die kombuis uit: “Ek moet kos maak! Julle moet eet en in die bed kom!”

Toe sy later opruim, sien sy ’n paar blommetjies onder die kombuistafel lê en besef dis wat haar vyfjarige seuntjie wou doen. Hy het vir haar ’n bossie blomme gebring en stilletjies agter haar kom staan om haar daarmee te verras. Dis waarom sy hom nie raakgesien het nie en oor hom gestruikel het.

Net daar fluister die Gees in haar hart dat sy die vrou in die winkelsentrum om verskoning gevra het, maar haar eie onskuldige kind verskreeu het. Sy gaan sit dadelik by haar seuntjie, klaar aan die slaap in sy bedjie, en sê sy is jammer.

Dis die liefde wat jy uitdeel wat tel

Wees versigtig om nie hulle wat die naaste aan jou is die seerste te maak nie. Kies om ander te sien soos Hy jou sien. Kies om ander lief te hê. Gryp die liefde en die lewe aan en maak ’n verskil hier op aarde.

Of jy gereed is of nie, eendag gaan jou lewe tot ’n einde kom. Wen of verloor sal dan nie meer saak maak nie, wel die verskil wat jy in ander mense se lewens gemaak het. Moenie uitstel nie, want dit mag dalk vir altyd te laat wees.

Die lewe draai om liefde, ja, maar as iemand jou met woorde seermaak, raak dit al moeiliker. Dis nie maklik om iemand lief te hê wat jou seergemaak het nie. Tog, dis een van die belangrikste dinge wat Hy van jou verwag.

Het jy al daaraan gedink dat jy net so maklik ander mense seermaak? Vra Hom dus elke oggend om jou kliphart sag te maak met Sy liefde sodat jy ander sal behandel soos jy self behandel wil word.

Gaan uit in die wêreld, kies liefde en doen jou deel om ’n verskil te maak!

Liesel Krause-Wiid is ’n bekende tentmakerpredikant, sakevrou, skrywer en radio- en TV-aanbieder. Sy is ook bemarkingsdirekteur by hulle familiesaak, die Willa Krause-groep. Sy beskou dit as ’n groot voorreg om al haar passies en talente tot Sy eer te gebruik. Liesel is ook Finesse se geloofskenner.