Elkeen van ons ervarings – die goeies, die slegtes, die moeilikes en die snaakses –is daar om ons gereed te maak. Moses het as ’n pleegkind in die farao se huis die Egiptiese geloof, maniere en taal bemeester. Dit is juis waarom hy gekies word om Sy volk uit Egipte te lei.
Moses se fout om ’n Egiptiese slawedrywer dood te slaan (Eksodus 2:12) en sy vlug na die wildernis word gebruik om hom ’n paar persoonlike lesse te leer. Sy karakter ontwikkel terwyl hy wat voorheen ’n Egiptiese prins was, skape oppas.
Niks maak jou nederiger as werk waarvoor jy heeltemal ongekwalifiseerd is nie. Moses leer hoe dit voel om een van die seergemaaktes te wees. Dit is ook hier dat God vir die eerste keer, uit ’n brandende bos, met hom praat, wetend dat hy gereed is vir sy roeping.
Nes ons, maak Moses verskoning dat hy nie geskik is vir die taak nie. Ons sien Sy wysheid in die hantering van dié twyfel en onsekerheid, en alhoewel Aaron as hulp en steunpilaar saamgestuur word, is dit duidelik dat Moses se tagtig jaar lange voorbereiding nie verniet was nie.
Hy gebruik die kundigheid wat hy in die paleis en in die woestyn opgedoen het om die farao te hanteer en die Israeliete na die beloofde land te lei.
So, waardeur jy ook al gaan, weet dat die Hoërhand in beheer is. Geen ervaring word gemors nie. Alles in ons lewe werk ten goede mee omdat Hy ons liefhet.