Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het. (Efesiërs 1:18) 

Wat ’n uitdaging om ná jare lange uittrede tot die musiekbedryf weer terug te kom en te sê: “Hier is ek weer!” Waar begin ek? Wie nader ek? As programmeerder het my talent verroes. Daar is nuwe tegnologie en dit gaan tyd neem om alles baas te raak.

My liggaam het skade gely. Ek onthou nie meer so goed nie. Vir jare mag ek nie op Facebook gegaan het nie. Niemand kon my in die hande kry nie. Vry van daardie rem, begin ek naarstiglik uitnodigings stuur en kontak maak met ou kennisse. Glad nie maklik nie, want ek is nie op ’n goeie plek uit die musiekbedryf uit nie.

’n Vriendin het my genader en genooi om saam met haar by ’n oefengroep in die dorp aan te sluit. Nooit nie, het ek gedink. Ek is heeltemal te onfiks, die medikasie wat ek gebruik, maak my pap en ek gaan beslis nie vyfuur in die oggende opkom nie.

Uiteindelik stem ek in en was dit nou die beste besluit ooit! Kop, lyf en hart stap ek elke keer ná so ’n oefensessie uit as ’n wenner. My medikasie kon ek verminder; my liggaam het al minder toksies geraak. Ek het groente en vrugte versap, suiwer omega 3-olies begin drink, ontslae geraak van MSG-bevattende produkte en ’n radikale herstel ervaar.

Ek begin weer liedere skryf en komponeer. Ek het my motorfiets verkoop om my liedere verder te laat verwerk deur ’n bekende musiekvervaardiger en oral in kontak begin kom met die wonderlikste mense in die musiekbedryf wat vir my soveel hoop en inspirasie kom gee het. Deure het oopgegaan waar daar eens geen hoop was nie. God is groot!